Jochem van Bruggen (1881–1957) was 'n Afrikaanse prosaskrywer en die eerste wenner van die Hertzogprys vir prosa vir sy werk Teleurgestel in 1917. Hy is lid van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging en verwerf veral bekendheid vir Ampie, 'n reeks wat armblankes se situasie in die depressiejare as tema het.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Jochem van Bruggen is op 29 September 1881 op die dorp Groede in die provinsie Zeeland, Nederland, gebore. Sy ouers is Jan van Bruggen en Pieternella Hendrika Drewes en hy is die oudste van sewe kinders. Sy susters is Reina Pieternella (Reina), Maria, Pieternella Hendrika (Nellie) en Alida Anna (Alida) en sy broers is Edde en Jan Reinder Leonard (die skrywer Kleinjan (J.R.L.) van Bruggen). Alida en Kleinjan is in Suid-Afrika gebore en die ander kinders in Nederland.Geni: https://www.geni.com/people/Jochem-Van-Bruggen/6000000029670388907 As kind doen hy ’n spraakgebrek op terwyl hy besig is om te herstel van longontsteking, wat hom as grootmens teruggetrokke en effens afsydig maak. Sowat twee jaar voor die res van die familie kom sy vader na die Transvaal om inkomste te verdien en ’n woonplek vir die gesin voor te berei. In Johannesburg huur hy die ou Hollandse kerkgebou as woning en die ruimte wat oor is, gebruik hy vir skoolhou. Deur private lesse te gee verdien hy goed en hy is selfs vir enkele maande Hollandse onderwyser in ’n Engelse skool. Nadat hy gevestig is, kan hy sy familie dan na Suid-Afrika laat kom. Saam met sy moeder, broer en susters kom Jochem dan op Nuwejaarsdag 1893 in Kaapstad aan en die gesin vestig hulle in Johannesburg. Hy gaan aanvanklik skool by sy vader en later vanaf 1895 by die Nederlandstalige Staatsgymnasium in Pretoria, waar Nico Hofmeyr ’n groot invloed op hom het. Van sy eerste pennevrugte word in die joernaal van die debatsvereniging van hierdie skool, Dicendo Discimus (deur praat leer ons), gepubliseer. In ’n lesing oor De letterkunde van Zuid-Afrika wat Nico Hofmeyr voor die Nederlandse Vereniging in Johannesburg hou, spog hy reeds met sy leerling se werk.
Anglo-Boereoorlog Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy as vrywilliger by die Boere aan en hy neem deel aan die stryd tot met die inname van Johannesburg. Sy vader is ook op kommando, maar sy moeder en broers en susters is ter wille van hulle veiligheid terug gestuur Nederland toe. Na die inname van Johannesburg werk hy eers vir ’n karige inkomste by ’n agentskantoor en kort na die vredesluiting vir ’n ietwat beter salaris by ’n wassery. In hierdie tyd sluit hy aan by ’n debatsvereniging, met die voorsitter, ’n Hollandse onderwyser, wat ook bekwame dirigent van die kerkkoor was. By hom leer die jong Jochem sanglesse en leer hy baie van die dirigeerkuns. Na die vredesluiting gaan woon hy op die plaas Steenkoppies naby Magaliesburg, wat aan die boeregesin van Gerhardus Jacobus (Gys) Oosthuizen (’n ou skoolmaat van die Staatsgymnasium) behoort. Vanaf 1903 is hy vir agtien maande C.N.O.-onderwyser op die eenmanskool by Steenkoppies, maar word gedwing om die onderwys te verlaat as gevolg van kritiek op sy “afwykende” onderrigmetodes. Hy leer naamlik sy leerlinge om gewone liedjies met kort en lang note twee- en driestemmig te sing, terwyl die skoolkommissie slegs Psalms en Gesange in die lang koraalnote wou toelaat! In 1905 is hy getroud met Maria Petronella Oosthuizen, dogter van die eienaars van die plaas, en hulle het ses kinders, naamlik Helena Dorothea (Lena), Jan, Pieternella Hendrika (Nellie), Gerhardus Jacobus (Gert), Maria Reina en Jochem (Joggie).
Loopbaan as boer Saam met sy swaer, Gys Oosthuizen, begin hy dan ’n tabakonderneming, maar die besigheid misluk en teen 1909 is hy diep in die skuld en byna bankrot. In sy kortverhaal Ouboet verwys hy sydelings na hierdie moeilike tydperk. Hy bly hierna aan op die plaas as boer en in ’n periode van meer as veertig jaar skryf hy daar bykans al sy werke. Vir ’n periode van ses maande probeer hy ook sy geluk as diamantdelwer, met weinig sukses en keer dan terug na die boerdery. Tydens die depressie neem hy sy toneelstukke op toere regdeur die land om so sy inkomste te probeer aanvul, maar die probleme oorskry die geleenthede en in stede van groot winste maak hy verdere verliese. Hieroor skryf hy later breedvoerig in Met Ampie deur die depressie.
Betrokkenheid by gemeenskap Die gedeelte van die plaas wat hy bewoon, herdoop hy tot Terrasse. Hier is hy baie betrokke by die kultuurlewe in sy omgewing en is die leier van verskillende kore oor die jare, asook regisseur vir die Toneelvereniging en voorsitter van die Debatsvereniging. Verskeie van die toneelstukke wat hy self skryf (onder andere Oom Kasper in Johannesburg), word so deur die toneelvereniging opgevoer. Die toneel- en debatsverenigings loop telkemale dood en word dan weer deur Van Bruggen tot stand gebring, totdat hulle in die veertigerjare opgaan in die Magaliesburg Kultuurvereniging met ’n onafhanklike bestuur.
Sterfte Jochem van Bruggen is op Woensdagoggend 22 Mei 1957 in sy huis op Steenkoppies naby Magaliesburg oorlede van hypostatiese pneumonie en arteriosclerotiese hartverswakking, na 'n siekbed van tien dae.
Skryfwerk
Digkuns Reeds op skool in Pretoria trek hy die aandag met Nederlandse verse in die joernaal van die debatsvereniging, Dicendo Discimus. In hierdie blad verskyn tien van sy gedigte, maar ook ’n aantal Nederlandse prosastukke, waaronder sy spottende beskrywing van die heldhaftige optrede van die Johannesburgers met die Jameson-inval, De avond voor Kerstfeest te Johannesburg en ook De familie Greyling of een episode uit de Dorstland Trek door Parvus, Iets over de Dorstlandtrek en Vaderlandsliefde. Sy gedigte uit hierdie tyd loop oor van nasionalistiese trots en vaderlandsliefde en sluit in Dr. Jameson of het begin van 1896, Retief en Dingaan, De moord op de boeren in Natal, Een mislukking (oor die dood van Dirk Uys) en De inval van Dr. Jameson, terwyl hy ook natuurgedigte skryf soos Langdurige droogte, Een onweder, Des morgens na den regen en De nacht. In hierdie tyd skryf hy ook reeds toneelstukkies, wat plegtig deur sy maats opgevoer is. Hy gaan voort met die skryf van Nederlandse gedigte in die styl van die Nederlandse domineedigters van die negentiende eeu totdat hy in 1912 vir ’n hele versameling daarvan tevergeefs na ’n uitgewer soek. Hierna lê hy hom feitlik uitsluitlik toe op prosa, hoewel hy per geleentheid ook dramas skryf.
Romans en novelles Dit is veral met sy langer prosa wat hy ’n belangrike plek in die Afrikaanse letterkunde inneem. Hy is by uitstek die skrywer wat die verarmde en plattelandse Afrikaner se stryd aan die begin van die twintigste eeu uitbeeld, geskilder teen die politieke, sosiale en ekonomiese toestande van daardie tyd. So bring hy dan die armblanke probleem onder die aandag van die breë gemeenskap. Sy tematiek kan tot groot wins vir die Afrikaanse letterkunde gereken word en so ook sy humoristiese inslag en sober skryfstyl. Sy dialoog is uniek in die vroeë Afrikaanse prosa daarin dat dit natuurlik karakter-onthullend is en hy voer sy karakterisering grootliks konsekwent deur. So slaag hy daarin om die eerste werklike volronde mense in die Afrikaanse prosa te skep en daarbenewens is sommige van sy karakters van die onvergeetlikste in die Afrikaanse prosa. Ampie, oom Lood van Die burgemeester van Slaplaagte, Lambertus Bredenhand van Die sprinkaanbeampte van Sluis en Org Basson van die gelyknamige verhaal is enkeles. Hinderlik egter is sy geïdealiseerde wêreldbeeld, waar die skeiding tussen goed en sleg te duidelik afgepen word, die moraliserende toon onderliggend aan menige van sy verhale, die inmenging van die skrywer in die verhaal waar die leser voorgesê word wat om van die karakter of situasie te dink en ook die gebrekkige konstruksie van die romans, waar die verhaal dikwels slegs ’n (somtyds onlogiese) opeenvolging van tonele is en nie ’n meesleurende noodwendigheid nie.
Van Bruggen se eerste roman,Grosskopf, J.F.W. in Kannemeyer, J.C. (red.) Kritiese aanloop. Jutalit Kenwyn. Eerste uitgawe, 1989. Teleurgestel, wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel, gaan nog mank aan gebrekkige karakteruitbeelding, terwyl sy taalaanwending ook nog veel te wense oorlaat. Veral sy dialoog is styf en boekerig. Die karakters is oor die algemeen ook slegs edel of slegs boos, hoewel die karakter van Liepie Stols ’n vonds is. Stols is ’n lewende karakter met vermenging van goed en kwaad en sy woordgebruik sluit goed aan by die spraakwerklikheid. Hierdie roman sluit ten nouste aan by die romantiese tradisie van ’n liefdesdriehoek geskets teen ’n historiese agtergrond. Die Boere van Waterval en omstreke is besig met skyfskiet as hulle deur die veldkornet opgekommandeer word. Dirk Liebenberg probeer om Maria Brinkman oor te haal om met hom te trou, maar sy verkies vir Gysbert Kloppers. Na vyftien maande kom ’n kommando Nuwejaar vier op Waterval. Dirk wil oorgee aan die Engelse, maar daarvan wil die vrouens nie hoor nie. Hy probeer vir Liepie Stols en Luikes Greef oorhaal om saam met hom oor te gee, maar Greef weier. Ook Maria het steeds nie van plan verander jeens hom nie en in verbittering sluit hy dan by die Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak. Deur Dirk se verraad word Gysbert en Dawid, Maria se broer, vasgekeer in ’n grot, waaruit hulle met moeite ontsnap. Gysbert word later gewond en die vrouens na die konsentrasiekampe geneem. Na die vrede trou Gysbert met Maria, en Dawid met Elsie Greef, terwyl Dirk ’n suiplap word. Die manuskrip van Teleurgestel word in 1917 met die Hertzogprys bekroon. In 1925 verskyn die derde, heeltemal omgewerkte uitgawe van hierdie roman. Van Bruggen behou in hierdie uitgawe die raamwerk van die verhaal, maar skryf die hele boek feitlik oor [null om weg te doen met die vernaamste gebreke van die eerste uitgawe], sodat dit baie meer afgerond is.
Die burgemeester van Slaplaagte is die verhaal van die sukkelaar oom Lood en sy mooi dogter Levina. Hierdie roman beeld eerstens die euwel van plaasverdeling uit, waar die eertydse groot plaas naderhand so opgesny en onderverdeel word dat die nakomelinge almal tot ’n sukkelbestaan gedoem word. Oom Lood word so tot armoede gedoem, al is hy iemand wat waarskynlik in beter omstandighede in elk geval ’n mislukking sou gewees het. Levina word na die stad gedwing om daar ’n heenkome te vind, waar sy die slagoffer word van meer wêreldwyse mense. Haar werk as fabriekwerkster gee sy op om met ’n slegte man te trou, wat haar na die geboorte van hulle baba verlaat. Sy keer met haar skande terug na die dorp, waar oom Lood die gevare van die stadslewe met sy naïewe maar treffende Slaplaagte logika probeer oplos. Hierdie novelle is ’n groot verbetering op Van Bruggen se debuut, met die karakters wat meer lewensgetrou geskets word met hulle eienaardighede en gebreke. Baie van die newekarakters is egter slegs tipes, soos die Joodse winkelier en die onderwyser op Slaplaagte, terwyl die stedelike uitgebeeld word deur die besoekende Harry Peach. Die ondergang van die eenvoudige boermeisie in die stad word ook nie goed uitgebeeld nie en word ’n opsomming van gebeure en feite, eerder as dramatiese beelding.