Daniel Sleigh (1938–2023) was 'n geskiedkundige en Afrikaanse skrywer van gedigte, jeugverhale, romans en historiese werke. Met sy skryfwerk het hy benewens ander toekennings ook die W.A. Hofmeyr-prys, die Universiteit van Johannesburg-prys, die M-Net-prys, die Helgaard Steyn-prys, die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings se K. Sello Duiker-prys en die ATKV-Prosaprys verower. Hy het ook verskeie romankompetisies gewen. Sleigh se Eilande, in Engelse vertaling (Islands), word gelys as een van die "1001 Boeke om te Lees Voordat Jy Sterf."https://1001bookreviews.com/the-1001-book-list/ Opgespoor en besoek op 29 Julie 2023
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms Daniël Sleigh is op 3 November 1938 op Geelbeksfontein aan die Langebaan-strandmeer aan die Weskus gebore van ’n Afrikaanse moeder en ’n Engelse vader. Aan beide ouers se kant is hy ’n afstammeling van geslagte van seelui. Sy pa, Francis, was die vierde geslag van kaptein Francis Sleigh van HMS Russel van die Royal Navy wat in 1806 aan die Slag van Blouberg aan die Kaap deelgeneem het. Sy ma, Susanna, is die vierde geslag van skipper Klaas Acker, bevelvoerder van die Verenigde Oos-Indiesche Compagnie (VOC) se skepe Duyfje, Diamant en Zoutman. Acker het hom in 1790 in die Kaap gevestig.http://www.litnet.co.za/dan-sleigh-1938/ Dan se pa word van een militêre pos na die ander verplaas en eindig sy loopbaan by die Agste Swaargeskut Battery by Noordbaai.
Die jong Dan matrikuleer aan Vredenburg HoërskoolNB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/662 en sluit daarna aan by die Suid-Afrikaanse Vloot waar hy onder meer reise onderneem na Mombasa aan die Ooskus van Afrika en die Prins Edward Eilande. Daarna werk hy ’n ruk by Barclays Bank as agentskapteller en is ook kroegman by die Saldanha Hotel.
Studie en begin van loopbaan Vanaf 1960 tot 1962 studeer hy verder aan die Paarl Opleidingskollege en kwalifiseer as ’n onderwyser in Liggaamlike Opvoeding. Vervolgens hou hy skool aan Mariental Hoërskool in Suidwes-Afrika, Marist Brothers College in Rondebosch in Kaapstad en die Laerskool Pinelands-Noord.
Terwyl hy onderwys gee studeer hy in sy vrye tyd verder aan die Universiteit van Suid-Afrika en behaal in 1969 die B.A.-graad met hoofvakke Geskiedenis en Engels. Hy aanvaar dan ’n deeltydse posisie as direkteur in die transkripsie-afdeling van die Kaapse Staatsargief in Roelandstraat in Kaapstad.
Kenner van vroeë Kaapse geskiedenis Reeds sedert 1970 doen hy navorsing in die Argief oor die VOC-brondokumente en vestig hom as een van die voorste kenners van die vroeë Kaapse geskiedenis. Sy navorsing handel hoofsaaklik oor die VOC, dwarsgetuigde skepe en die Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis tussen 1650 en 1850. Hierdie wêreld van die vroeë Kaap vind dan ook by uitstek neerslag in veral sy prosawerke.
Aan die Universiteit van Stellenbosch behaal hy later sy M.A.-graad in Geskiedenis met lof. In 1987 behaal hy onder leiding van professor Dirk Kotzé ook aan die Universiteit van Stellenbosch sy Ph.D.-graad in Geskiedenis met ’n proefskrif oor Die buiteposte in die ekonomie van die Kaapse Verversingstasie 1652–1795. Sy promotor, professor Dirk Kotzé, beskryf hierdie werk as die grootste navorsingsprojek in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywingAzar-Luxton, Grizell Cape Librarian: https://www.westerncape.gov.za/Text/2004/8/may2004_17-18.pdf en die proefskrif word later in verwerkte vorm gepubliseer as Die buiteposte.
Hy is een van slegs ’n handvol mense wêreldwyd wat die 17de-eeuse skrif van die VOC-dokumente kan lees. Vir die Tanap-projek van die Nederlandse regering help hy dus om die VOC se argiewe wêreldwyd te transkribeer en op ’n sentrale databasis te plaas.
Na aftrede is Dan steeds bedrywig en is onder andere in 2003 redakteur en vertaler van die Van Riebeeckvereniging se reeks boeke en is ook redakteur van die reeks vir die Kasteel Militêre Museum oor die Kaapse Militêre Geskiedenis.
Hy is ook vryskutnavorser en konsultant vir instansies soos die Departement van Kultuur, Kuns en Tegnologie van die Wes-Kaap Regering, die South African Heritage Resources Agency (SAHRA), die Kasteel Militêre Museum, die Munisipaliteit van Blaauwberg en Gawie Fagan Restourasie Argitekte. Sedert 1995 is hy lid van die VOC Stigting en hy is verder lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Argivarisse, die Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Vereniging, die Suid-Afrikaanse Militêre Historiese Vereniging, Vriende van die Kasteel Militêre Museum, lewenslange lid van die Stigting Simon van der Stel, Vriende van Mostert se Meul en Raad vir Nasionale Monumente, terwyl hy ook dien in die Pleknaamkomitee van die Kaapse Stadsraad.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/sleighd.html
In 2012 gee hy die openingslesing by die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Geskiedenisonderrig se jaarlikse konferensie. Hierin kritiseer hy Geskiedenis-sillabusse wat ontwerp word om die waarheid van mense te weerhou, almal in onkunde te begrawe en aan politici genoeg ruimte voorsien om mag en ’n plek op die soustrein na te jaag. Sy sig verswak merkbaar vanaf vroeg in sy volwasse lewe en later vind hy dit.
Onderwysmuseum In 1985 begin hy om die Onderwysmuseum in die historiese Aliwal Skool in Wynberg in te rig, wat in 1996 die enigste Onderwysmuseum in die land word nadat die museums in die Vrystaat en Gauteng gesluit is. In 1988 word hy aangestel as hoof van die Sentrum vir Bewaringsopvoeding, waar spesiale kursusse in die bewaring van die natuurlike, mensgemaakte en sosiale omgewing jaarliks aan leerlinge en onderwysers aangebied word. Deur sy inisiatief word die Walters-toekenning en die Volkskasprys vir Bewaringsprojekte vir skole hierna toegeken. Hy word in 1995 aangestel as Koördineerder van Bewaringsopvoeding in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en in 1996 tree hy af. Hy trou met Dewetia Hendriksz, ’n kunslektrise aan die Mowbray Opleidingskollege in Kaapstad en uit die huwelik word ’n dogter, Jean, op 2 Januarie 1973 gebore. Hulle bly in Pinelands in Kaapstad en het ook ’n vakansiehuis in Jakkalsfontein, waar hy op die Raad van Direkteure van die Jakkalsfontein Natuurreservaat dien.
Persoonlike lewe Sy vrou is in September 2006 oorlede.
Skryfwerk
Poësie Sy gepubliseerde debuut maak hy met die digbundel Duif oor water. Hierdie bundel bevat meestal vrye verse oor filosofiese, natuur en volkse temas, hoewel daar geen afdelings binne die bundel is nie. Die titel verwys na die duif wat Noag uit die ark oor die water gestuur het om te kyk of die water al gesak het en daar iewers ’n holte vir sy voet was. So soek die digter na die regte woord en wag op die boodskap wat die duif sal bring. Baie van die gedigte is dan ook gemoeid met die kommunikasieprobleem. Die water in die titel vind ook uiting in ’n aantal gedigte oor die see, waaroor die voorvaders na hierdie land gekom het. Hierdie gedigte vind aansluiting by ’n aantal verse oor die vroeë geskiedenis en persoonlikhede aan die Kaap.Coetzee, A.J. “Standpunte” Nuwe reeks 102, Augustus 1972 Die bundel word in 1974 deur die Departement van Nasionale Opvoeding met die C. Louis Leipoldt-prys bekroon.
Van sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek en Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte.
Jeugverhale Hy skryf ’n hele aantal jeugromans wat elkeen ’n boeiende verhaal teen ’n historiese agtergrond vertel, waaronder Die nege-maande-mars oor die probleme aan die Oosgrens tydens die bewind van die VOC. Dit is die verhaal van ’n jong man se stryd om sy besondere plek in die samelewing te vind.
’n Man om te hardloop gaan oor die lewe van die Franse sersant Estienne Barbier, bevelvoerder van die Chavonnes-battery aan die Kaap in die tyd tussen 1738 en 1739 toe vier goewerneurs mekaar binne twee jaar opgevolg het.
Vryburger Tas handel oor die lewe van Adam Tas en sy stryd teen goewerneur Willem Adriaan van der Stel. Jakie Nel, kneg van Adam Tas, is ook betrokke en Tas laat hom die skryfwerk doen oor die goewerneur se korrupsie. Sy gesprekke met Tas help die leser om self ook te besin oor die geldigheid al dan nie van die Vryburgers se klagtes.
Fort Lydsaamheid handel oor die Kaap van die agtiende eeu. Op 14 Februarie 1721 vertrek veertig vrywilligers uit die Kaap na Delagoabaai om ’n nuwe handelspos en verversingstasie aan die Ooskus te vestig. Hulle hoop om die fabelagtige rykdomme van die legendariese Monomotapa op te spoor. By hulle aankoms bou hulle ’n klein fort op die wit sand. Die sending verloop rampspoedig, want hulle soeke na Monomotapa loop op niks uit nie, die ruilhandel met die inboorlinge loop dood, hulle getalle word uitgedun deur koors en woeste storms vernietig hulle pogings tot landbou. Op land word hulle bedreig deur die vyandige inboorlinge en die see bring seerowers wat die handelspos plunder en verwoes. In die fort self is ook genoeg tweespalt en spanning om geweld te laat losbars. Een man is egter nie bereid om te erken dat die hele onderneming ’n mislukking is nie: slaag of sterf, is Jan van den Capelle se leuse. Na tien jaar moet die pos egter gesluit word. Weens die ontberinge word die vesting herdoop tot Fort Lydsaamheid. Die verhaal gee die ontberinge van die fortbewoners weer, maar ook hulle geestelike agteruitgang, sodat dit ’n gebalanseerde uitbeelding is van die tragiek eie aan ’n verlore saak.Wiehahn, Rialette “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 15 no. 3, September 1975
Tussen twee vlae is die verhaal van die Anglo-Boereoorlog met die jong Afrikaanse Kapenaar George Verwey as hoofkarakter. Hy veg eers saam met die Britse leër as seiner in die Derde Berede Seinerskorps, maar die wrede Ierse lansier Jack Spear se optrede walg hom. Spear het wraak gesweer op alle Afrikaners, kap sy vyande genadeloos met ’n sabel uitmekaar en wil boonop met George se suster trou. George se lojaliteit teenoor sy mede-Afrikaners dryf hom tot optrede en hy word voor ’n krygshof gedaag. Hy kom nou tot ander insigte en sluit aan by die Boeremagte. Die stryd word so vanuit beide kampe weergegee, terwyl met Verwey se posisie as seiner ook belangrike inligting oor die verloop van die oorlog feitlik ongemerk in die verhaal ingewerk word. Die finale konfrontasie tussen Verwey en Spear vorm dan die klimaks van die boek.
Sersant Barodien, Kaapse Korps het as tema die slawe-opstand in Oktober 1808 aan die Kaap. Sersant Gasant Barodien is ’n bruin man met verdeelde lojaliteit. Hy is as soldaat trou verskuldig aan die staat, maar as bruin man is hy nader aan die onderdrukte slawe as aan sy soms korrupte werkgewer. Om sake verder te kompliseer is sy eie vader ’n vrygemaakte slaaf wat nou self slawe aanhou en die meisie Farieda met wie hy wil trou, is ’n slavin. Die morele vraagstukke waarmee die sersant worstel, is universeel en is vandag steeds teenwoordig in die samelewing. Dit word op boeiende wyse voorgestel, tesame met ’n interessante kyk op ’n relatief onbekende stuk geskiedenis.Brink, André P. “Rapport” 26 Februarie 1978