Zwelini Lawrence Mkhize (gebore 2 Februarie 1956, Willowfontein) is 'n Suid-Afrikaanse dokter en oud-politikus. Hy was vanaf 6 Mei 2009 tot 1 September 2013 die vyfde premier van KwaZulu-Natal en is deur Senzo Mchunu opgevolg. Einde Februarie 2018 is hy deur president Cyril Ramaphosa as Minister van Samewerkende regering en Tradisionele aangeleenthede benoem.

Op 30 Mei 2019 volg hy dokter Aaron Motsoaledi op as die nasionale Minister van Gesondheid.

Digital Vibes-skandaal Op 8 Junie 2021 plaas president Ramaphosa Zweli Mkhize op spesiale verlof, weens bewerings dat sy ministerie onbehoorlik kontrakte met betrekking tot die bestryding van die koronavirus toegeken het aan 'n kommunikasiemaatskappy wat deur sy voormalige medewerkers beheer word.

Op 29 Julie 2021 is die verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SIU) vrygestel en dit is onthul dat Mkhize se seun Dedani na bewering "bokse vol kontant" van 'n sleutelfiguur in die korrupsieskandaal ontvang het. Dedani het Radha Hariram, die direkteur van Digital Vibes, by 'n vulstasie in Stanger in KwaZulu-Natal ontmoet, waar hy glo geld uit die kontrak ontvang het. Die SIU beskuldig Mkhize van onbehoorlike optrede vir sy rol en wil sowat R3,8 miljoen van Dedani terugeis. Die SIU het aangevoer dat die kontrak onregmatig toegeken is en dat die eenheid dit nou deur 'n hof wil hersien en tersyde stel. Die SIU poog ook om R150 miljoen terug te eis van verskeie ontvangers van die beweerde plunderskema.

Mkhize bedank as minister van gesondheid op 5 Augustus 2021, en na 'n kabinetskommeling word hy opgevolg deur dokter Joe Phaahla.

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1956 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Politici van die African National Congress Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van gesondheid Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Zoeloes