duimnael|Volgens legende is Rome gestig in 753 v.C. deur Romulus en Remus, wat deur 'n wolfteef grootgemaak sou gewees het. duimnael|Die uitbreiding van die Romeinse Ryk tussen 510 v.C. en 480 n.C.
Antieke Rome was 'n beskawing wat uit 'n klein landelike gemeenskap ontstaan het, wat reeds in die 10de eeu v.C. op die Italiaanse skiereiland gevestig is. Die beskawing was oorwegend langs die Middellandse See geleë, met die stad Rome as fokuspunt, en het tot een van die grootste ryke in die antieke wêreld ontwikkel.Chris Scarre, The Penguin Historical Atlas of Ancient Rome (Londen: Penguin Books, 1995).
In die eeue-lange bestaan daarvan, het die Romeinse beskawing ontwikkel van 'n monargie tot 'n oligargiese republiek tot 'n toenemend outokratiese ryk. Dit sou heerskappy voer in Suidwestelike Europa, Suidoostelike Europa (die Balkan-skiereiland) en die Mediterreense streek na stelselmatige verowering en inkorporering.
Geteister deur interne onstabiliteit en aangeval deur verskeie migrerende volke, het die westelike deel van die ryk, insluitend Italië, Hispanië, Gallië, Britannië en Africa in die 5de eeu opgebreek in verskeie onafhanklike koninkryke. Hierdie verbrokkeling word deur geskiedkundiges aangedui as die breekpunt tussen die Antieke tydperk en die middeleeuse tydvak van die "Donkereeue".
Die Oos-Romeinse Ryk wat vanuit Konstantinopel regeer is, nádat Diocletianus die Ryk in 286 n.C. verdeel het, en wat saamgestel was uit Griekeland, die Balkans, Klein-Asië, Sirië en Egipte, het hierdie krisis oorleef. Ten spyte van die latere verlies van Sirië en Egipte, wat aan die Arabies-Islamitiese ryk afgestaan is, het die Oos-Romeinse Ryk vir 'n verdere millennium standgehou, tot die oorblyfsels uiteindelik geannekseer is deur die ontluikende Turkse Ottomaanse Ryk. Hierdie oostelike, Christen- en middeleeuse era van die ryk word gewoonlik die Bisantynse Ryk genoem deur historici, alhoewel die Bisantynse nasie hulself gesien het as 'n voortsetting van die antieke Romeinse tradisie.
Die Romeinse beskawing word dikwels onder die "klassieke oudheid" geresorteer, saam met antieke Griekeland, 'n beskawing wat, tesame met die Etruskerse beskawing en die vele ander beskawings wat deur die Romeine verower en geïnkorporeer is, heelwat van die kultuur van antieke Rome geïnspireer het. Antieke Rome het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van regering, wetgewing, oorlogvoering, kuns, literatuur, argitektuur, tegnologie, religie en die tale in die Westerse wêreld, en die geskiedenis daarvan het 'n blywende grondige invloed op die hedendaagse wêreld.
Natuurwetenskap en tegnologie
Die Griekse tradisies van natuurwetenskaplike navorsing is nie deur die Romeine voortgesit nie. Bekende skrywers soos Vitruvius, wat omstreeks 25 v.C. sy bekende werk oor boukuns in tien boekdele gepubliseer het ('n soort argitektoniese ensiklopedie wat eeue lank 'n standaardwerk sou bly), het hom liewer op die samestelling van vroeëre kennis op dié gebied toegespits. Hierdie kennis is op 'n betreklik onkritiese manier aangebied.
Ook Plinius die ouere het in sy Naturalis Historia min belangstelling in wetenskaplike metodes getoon. Al verwys hy na sowat 2 000 werke van 516 skrywers wat hy vir sy "Natuurgeskiedenis" geraadpleeg het, en bly sy werk 'n vooraanstaande bron vir moderne navorsers, was sy wetenskaplike kennis oppervlakkig.
Algaande het steeds meer van die historiese Griekse oorlewerings op wetenskaplike gebied verlore gegaan. So het Strabo († 20 n.C.) se noukeurige geografiese beskrywing van ons aarde ongeewenaard gebly – latere outeurs soos Mela het niks meer as deskriptiewe opsommings opgelewer nie, en in die laat-antieke tydperk was die kennis van skrywers soos Cyrillus en Diodorus (omstreeks 370 n.C.) sodanig beperk dat hulle die aarde weer as 'n plat skyf beskryf het.
Nogtans het die Romeine by die oorname, verbetering en praktiese toepassing van Griekse tegnologieë uitgeblink – juis wanneer dit nuttig kon wees vir die uitbreiding en administrasie van die Romeinse Ryk of die verbetering van die lewenstandaard van sy bewoners, het die Romeinse ingenieurs en tegnici hul grootste prestasies gelewer.
Ontstaan van Rome Die eerste Romeinse historici (3e eeu v.C.) het in Grieks geskryf en so 'n groot bewondering vir die Griekse kultuur gekoester dat hulle die vroeë geskiedenis van hul stad met die Griekse mitologie verbind het. Volgens legende het Aeneas uit die brandende Troje (die Ilium van Homerus) na Italië gevlug, waar sy seun Ascanius (ook bekend as Julius) in die Tiberstreek die stad Alba Longa gestig het.
'n Latere koning, Numitor, het ʼn dogter, Rhea Silvia, gehad, by wie die oorlogsgod Mars 'n tweeling, Remus en Romulus, verwek het. Numitor se broer en vyand, Amulius, het die tweelingseuns in die Tiber gegooi, maar hulle het uitgespoel en is gered deur 'n wolvin, wat hulle gesoog het - die latere simbool van Rome. Hulle is deur die herder Faustulus en sy vrou, Acea Larentia, gevind en opgevoed. Nadat hulle volwassenheid bereik het, het die tweelingbroers 'n eie stad gestig, genoem na Romulus, wat sy broer in 'n geveg doodgemaak het.
Die tradisionele stigtingsdatum van die stad Rome is 753 v.C. Dit was die begin van die Romeinse jaartelling: ab urbe condita (sedert die stigting van die stad, dit wil sê van Rome). Reeds tydens die koningskap van Romulus het 'n stryd met die naburige Sabyne ontbrand. Dit is veroorsaak deur die sogenaamde Sabynse maagderoof: omdat daar in Rome 'n tekort aan vroue was, het die Romeine die vroue van hul bure ontvoer.
Die ontvoerde meisies was egter heeltemal tevrede met hul lot en die Romeine en Sabyne het vrede gesluit. Daarna is Rome beurtelings deur 'n Romeinse en 'n Sabynse koning geregeer. Romulus is na sy dood as Quirinus in die geledere van die gode opgeneem.
Historiese kern Die legende is deur argeologiese vondste gedeeltelik bevestig. Op een van die sewe heuwels van Rome, die Palatinus, is tekens van bewoning uit omstreeks 750 v.C. gevind. Bowendien blyk dit uit die grafte wat op die latere Forum gevind is, dat die dooies op twee wyses begrawe is: deur gewone begrawing en deur lykverbranding. Daaruit kan afgelei word dat die Romeine en die Sabyne reeds in 'n vroeë stadium verenig het. In werklikheid was Rome dus oorspronklik 'n stadjie van die Latyne, een van die Indo-Europese volke wat Italië in omstreeks 1000 v.C. uit die noorde binnegeval het.
Etruskiese oorheersing Volgens tradisionele oorlewering is Romulus opgevolg deur ses konings: Numa Pompilius, Tullus Hostilius, Ancus Marcius, Tarquinius Priscus, Servius Tullius en Tarquinius Superbus. Numa en Servius Tullius het onderskeidelik 'n godsdienstige en administratiewe organisasie aan die stad geskenk. Volgens hul name was albei Tarquinii van Etruskiese afkoms, wat daarop dui dat Rome in daardie tyd deel van die Etruskiese magsgebied was.
Die Etruskers het aan die einde van die 6e eeu v.C. ongeveer een derde van Italië oorheers en het kulturele en handelskontak gehad met die Grieke, wat reeds in die 8ste eeu v.C. begin het met die kolonisering van die Italiaanse suidkus. Vanweë hul hoog ontwikkelde kultuur en tegnologie het die Etruskers 'n diepgaande invloed op die Romeine gehad. Hulle het die Romeine byvoorbeeld met die Griekse alfabet en met die beginsels van koepelbou in aanraking gebring.
Die gewilde Romeinse gladiatorsport het heel moontlik uit die swaardgevegte van die Etruskiese begrafnisritueel ontwikkel. Die eerste vermelding daarvan in Rome dateer egter eers uit 264 v.C. Godsdienstige gebruike wat die Romeine by die Etruskers oorgeneem het, is onder meer die rituele van augur en haruspecx, waarmee onderskeidelik uit die vlug van voëls en die ingewande van ʼn offerdier die toekoms voorspel is. In die verband is van disciplina etrusca (Etruskiese kennis) gepraat.
Die konings verdryf Volgens tradisie is die laaste verteenwoordiger van die Etruskiese gesag, Tarquinius Superbus, in 510/509 v.C. deur Lucius Junius Brutus uit Rome verdryf. Die jaar 509 v.C. word aangegee as die tradisionele begindatum van die Romeinse Republiek en Brutus as die stigter daarvan.
Hy het volgens oorlewering opgetree as die wreker van Lucretia, 'n Romeinse edelvrou wat deur die seun van die vors verkrag is en uit skaamte selfmoord gepleeg het. Lucretia het later die simbool van die getroue vrou geword. Die bevryding het egter nie so vinnig geskied as wat die oorlewering suggereer nie. Die Etrusker Lars Porsenna het die mag van Tarquinius probeer herstel en die stryd teen die Etruskiese buurstede is eers met die val van Vei in 396 v.C. definitief beëindig.
Weens toenemende Griekse druk was die mag van die Etruskers in daardie tyd inderdaad aan die kwyn, veral nadat hulle die seeslag van Cumae (474 v.C.) teen Sirakuse verloor het. Daarna het ook Rome minder van die Etruskers te vrees gehad.
Die Republiek Die eerste twee en halwe eeu van die Romeinse Republiek is gekenmerk deur 'n interne stryd tussen patrisiërs en plebejers (adel en burgerlikes) om die politieke mag in die nuwe republikeinse staatsvorm. Intussen moes die pas herwonne selfstandigheid teen die Etruskers beskerm word en is ook daarna gestrewe om die leierskap oor die buurvolke, verenig in die Latynse Bond, te bekom.
Die stryd om die leierskap het aanvanklik geen beslissende slag opgelewer nie en is uiteindelik bygelê onder druk van 'n gemeenskaplike bedreiging deur invallende bergvolke. Daar kon dus gesamentlik opgetree word teen die Sabyne, Aequi en Volsci, van wie veral laasgenoemde gedugte teenstanders was. Uiteindelik het die Bond tog die oorhand behaal en was Rome vry om Vei, die laaste Etruskiese bolwerk in die omgewing, in te neem.
Die stad is eers in 396 v.C. na 'n beleg van 11 jaar ingeneem, ʼn prestasie wat deur latere Romeinse historici vergelyk is met die Grieke se tienjarige stryd teen Troje. In 387 v.C. is die Romeinse leër by Allia deur Kelte onder leiding van Brennus verslaan. Die Kelte het Rome binnegedring, maar 'n volslae nederlaag vir die Romeine is afgewend deur die heilige ganse van die Kapitool, gewy aan die god in Juno, wat met hul gesnater die verdedigers op die heuwel teen ʼn nagtelike aanval gewaarsku het.
Vernietiging van Rome kon egter net afgeweer word deur die betaling van 'n skat aan Brennus. Volgens oorlewering het Brennus sy swaard in die skaal geplaas terwyl die skat afgeweeg is en toe die Romeine protesteer omdat hy hulle daardeur benadeel, het hy geantwoord: vae victis ("wee die oorwonnenes"). Rome het egter gou herstel en die omringende volke geen geleentheid gebied om by sy ontreddering baat te vind nie.
In 358 v.C. het die Romeine die Latynse Bond gedwing om die verdrag op ongunstiger voorwaardes te hernuwe en in 338 v.C. is die Bond ondanks hewige verset ontbind. Die lid state is deur afsonderlike verdrae aan Rome ondergeskik gemaak en Rome was daarop die heerser van Latium.
Samniete en Grieke Intussen het nuwe vyande op die toneel verskyn. Die stad Capua het Rome se hulp ingeroep teen die Samniete, ʼn oorlogsugtige bergvolk van die Oskiese taalgroep. Die gevolg was 3 Samnitiese oorloë (343-341 v.C., 326-304 v.C., 298-290 v.C.), waarvan veral die tweede Rome in 'n benarde posisie geplaas het. In 321 v.C. is die Romeinse legioene by die Caudynse Passe in 'n hinderlaag gelei en moes hulle hul oorgee.
Tydens die derde oorlog het die Samniete hulp ontvang van onder andere die Etruskers, Umbriërs en Keltiese Senone, maar hulle is by Sentinum (295 v.C.) en Aquilonia (293 v.C.) verslaan. In 283/82 v.C. is die Keltiese bedreiging nog 'n laaste keer afgeweer en kon die Romeine al hul aandag aan hul aspirasies in ʼn suidelike rigting wy. Van die Griekse kolonies wat sedert die 8e eeu aan die Italiaanse suidkus gestig is, het Tarentum daarin geslaag om onder andere deur die uitvoer van wol die magtigste posisie te verwerf.