duimnael|regs|250px|Ds. G.M. Daneel het die Grahamstadse NG kerkgebou se hoeksteen op 17 Maart 1951 gelê. Die argitek was Wynand Louw, of ten minste sy firma.
Die NG gemeente Grahamstad was 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oos-Kaapse stad Grahamstad wat op 28 September 1916 van die moedergemeente Albanie afgestig het en op 1 Maart 2000 weer by die moedergemeente ingelyf is, hoewel sowat driekwart van die lidmate in Grahamstad se gemeente was. Met die inlywing het die 21ste oudste gemeente in Suid-Afrika en die sewende oudste in die Sinode van Oos-Kaapland egter bly voortbestaan. Die gemeente Albanie se middelpunt het weliswaar in 2000 Grahamstad geword, maar daar is steeds gereelde dienste op Riebeek-Oos, eertydse middelpunt van Albanie, Fonteinskloof en af en toe op Seven Fountains.
Voorgeskiedenis duimnael|links|270px|Die gemeente se eerste kerkgebou was dié gebou, wat die kerksaal geword het met die bou van die nuwe kerkgebou. Die houtstoep aan die voorkant is later verwyder.
duimnael|regs|220px|Met die gemeente se vyftigjarige bestaan in 1966 het die kerkraad dié bordjie laat vervaardig by die plaaslike Grahamstown Potteries Limited.
Suid-Afrika se oudste historiese gedenkwaardigheid staan betreklik naby Grahamstad, naamlik die kruis wat in 1488 by Kwaaihoek, in die huidige distrik Alexandria, deur die groot ontdekkingsreisiger Bartholomeus Dias opgerig is. Hierdie kruis het die oppermag van Portugal langs die suiderkus aangedui, maar terselfdertyd was dit ook 'n simbool van die Christendom wat mettertyd oor die lengte en breedte van die "Donker Vasteland" gedra moes word. Die vroegste spore van 'n Christelike en Westerse beskawing is dus in die Oostelike Provinsie getrap.
Byna drie eeue gaan verby en nou sien begin die ligstrepies van die beskawing hul pad vanuit die Weste na die Ooste vind. Die ossewa en die perd bring die trekkerveeboer na die ongerepte skoonheid van hierdie wilde wêreld en waar hy gaan, word die veeboer op sy eie primitiewe wyse die draer van die Westerse beskawing en die Christelike godsdiens. Sonder keer het die trek ooswaarts gerol. Die Kompanjiesgesag het aan die uitbreiding perk en paal wou stel, maar dit kon hom nie geluk nie totdat uiteindelik in 1775 die Visrivier tot grens verklaar en die streek wat vandag as die distrik Albanie bekendstaan, by die Kolonie ingesluit is. Een van die plase wat hier uitgegee is, was De Rietfontein, waar Lucas Meyer hom gevestig het en hier sou later die dorpie ontstaan wat nou die stad Grahamstad geword het. Juis toe die trekkers hierdie dele bereik, het daar egter ook 'n ander bevolkingstroom na die gesogte Suurveld gevloei. Die twee strome moes noodwendig bots en hierdie ontmoeting van die wit en die swart stroom, gepaard met die koms van 'n derde bevolkingselement, Britse Setlaars van 1820, het aan die verlede van die gebied waarin die Grahamstadse gemeente ontstaan het, sy kenmerkende karakter gegee. In die jare 1811–1812 is die Vierde Grensoorlog gevoer en die Xhosas deur die kragtige optrede van lt.kol. John Graham uit die Suurveld en oor die Visrivier gedryf. In hierdie tyd is daar toe op die verlate plaas van Lucas Meyer 'n dorpie aangelê om as hoofkwartier van die Kaapse Regiment te dien. Ter ere van die dappere Graham het dit die naam ontvang wat dit tans nog het.
Teen 1820 het 'n groot gedeelte van die grond hierlangs nog feitlik onbewoond gelê en dit was deel van goewerneur lord Charles Somerset se planne om die setlaars uit Brittanje hier te plaas. Hierdie beleid en die latere verhuising van 'n groot gedeelte van die Hollandse boere na die verre Noorde, het aan Grahamstad as hoofstad van die Oostelike Provinsie sy eertyds deur-en-deur Engelse karakter gegee sodat daar ook 'n volle eeu sou verloop voordat hier 'n eie gemeente van die NG kerk gestig kon word. Vir sowat tien jaar het die Hollandse boere aan die Vis- en Koenaprivier wat nie die lang reis na Uitenhage en later na Somerset-Oos kon onderneem nie, 'n geestelike heenkome in die Engelse kerke van Grahamstad gevind. 'n Herinnering aan daardie tyd is nog te vind in die huweliksregister van die Katedraal-gemeente waar die eerste huwelik (1823) dié van twee Afrikaners was, terwyl die eerste dopelinge onder die Wesleyaanse gemeente (1822) ook kindertjies van Afrikaanse ouers was.
'n Versoek van die boere wat in hierdie geweste die baanbrekers was, om 'n kerk van hul eie te hê, het in 1826 op die dowe ore van die destydse bewindhebbers geval, maar eindelik is daar in hul lang en diep gevoelde behoefte voorsiening gemaak toe die gemeente Albanie vroeg in 1831 sy beslag gekry het. Alhoewel die eerste kerkraadslede in Grahamstad voorgestel en hul eerste vergadering hier gehou is, het die plaas Mooimeisiesfontein (plaas), wat vroeër aan Piet Retief behoort het, in 1840 die kerkplaas van die jong gemeente geword. Hier het toe ook die dorpie ontstaan wat sedert 1842 op aanbeveling van dr. Adrian Roux, die hooggeagte leraar van die gemeente vanaf 1842 tot 1882, die naam Riebeek-Oos dra. Interessant is dit dat toe dr. Roux in 1842 sy eerste huisbesoek deur die gemeente gedoen het, hy in Grahamstad slegs twaalf lidmate van die NG Kerk aangetref het. Een van hulle was die weduwee van 'n Afrikaanssprekende en een haar ongetroude dogter, terwyl die ander tien almal met mans van ander kerke getroud was. Daar was dus hier geen enkele manlike lidmaat van die NG Kerk nie. Ofskoon dr. Roux Grahamstad as 'n wyk van sy gemeente besoek het en hy byvoorbeeld tydens die Grensoorloë hier vir die Boerekommando's dienste gehou het, was daar eers teen 1887 in die tyd van sy wakkere opvolger, ds. W.P. Rousseau, sprake van gewone dienste in Grahamstad. Hierdie byeenkomste is in verskillende sale en soms selfs in 'n kamer in 'n losieshuis gehou en is volgens oorlewering deur sowat ses mense bygewoon. Ook is die doop by geleentheid hier bedien en jongmense aangeneem.
Die lede van die kerk in Grahamstad het egter nie stil gesit nie en telkens moes die kerkraad op Riebeek kennis neem van hul verlange na beter en gereelder bearbeiding. So gaan daar byvoorbeeld in Februarie 1894 'n versoekskrif waarin 21 "Leden en Vrienden der Nederduitsch Gereformeerde Kerk" — onder wie verskeie met Engelse name — vra dat die leraar een Sondag per maand dienste in Grahamstad moes kom hou, en indien dit onmoontlik was, dan ten minste een keer per kwartaal op 'n Sondag. Hulle het beloof om die losies en ander onkoste van die leraar te betaal en origens hul pligte teenoor die kerk getrou na te kom. Dergelike versoeke is dikwels herhaal met die klem later op die wenslikheid van die aanstelling van 'n hulpprediker of tweede leraar met Grahamstad as spesiale arbeidsveld.
Lidmate raak ongeduldig duimnael|regs|230px|Die NG kerksaal in Grahamstad, soos die kerkgebou ook in Hillstraat, maar 'n blok of wat nader aan die middestad.
Nadat die lede in Grahamstad teen 1904 ongeduldig begin word het met die langsame beweging van die kerkraad van Albanie, veral ook toe die aankoop van die Odd Fellows' Hall vir 'n kerkgebou deur die mat val, word in 1907 die blinde evangelis, die heer David Roux, in Grahamstad geplaas en vir 'n aantal jare het hy ten spyte van sy gebreke 'n geseënde werk gedoen. In 1911 het die Ring ingegryp en 'n oplossing vir die Grahamstad-probleem probeer vind. Die gedagtes het nog al die tyd in die rigting van 'n vaste hulpprediker gegaan. By die vergadering wat die Ringskommissie met die kerkraad gehou het, kon nou berig word dat daar hier 239 siele was wat tot die NG Kerk behoort het, asook 37 studente in die Opleidingskollege en 16 in die Rhodes Universiteitskollege, terwyl daar 42 leerlinge in die publieke skole en 12 in die kloosterskool was.
Die bemoeiinge van die Ring en die lofwaardige ondersteuning van Rings- en ander gemeentes en Christelike verenigings het dit toe moontlik gemaak om 'n beroep uit te bring waardeur aan 'n geordende hulpprediker £250 per jaar vir twee jaar gewaarborg is. "Die kerk het besef dat Grahamstad 'n strategiese punt was. Dit was hier 'n kwessie van die redding van ons armes, die behoud van ons studerende jeug, die troos van ons siekes," het ds. Roelof Johannes de Leeuw Theron jare later geskryf. Die kerkraad was gelukkig om die dienste van hierdie jong leraar te kry met wie se bevestiging op 2 Mei 1913 daar 'n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van die NG Kerk hier begin. Meer as een wat die feestelike verwelkoming van die eerste hulpprediker bygewoon het, moes sy verbasing lug oor die groot aantal Afrikaners in Grahamstad en met toegewyde ywer het ds. Theron hom van sy moeilike taak gekwyt om die verstrooide skape van die kudde op te soek en hulle saam te snoer tot 'n eenheid wat sy verpligtinge sou voel en nakom.
Aanloop tot afstigting Geen wonder dan ook dat daar reeds in September 1914 gerapporteer kon word dat die ou Odd Fellows' Hall in Hillstraat vir £1 200 aangekoop is om as kerkgebou ingerig te word nie, en in Desember van dieselfde jaar is dit opnuut aan die diens van God gewy. Opnuut omdat hierdie interessante en historiese gebou op 30 Maart 1851 ook as kerk in gebruik geneem is en wel deur 'n deel van die Doopsgesinde gemeente wat hulle onder eerw. Alexander Hay van die oorspronklike gemeente afgeskei het. Hierdie waardige leraar is in 1871 oorlede en toe daar teen die volgende jaar weer 'n hereniging van die twee seksies plaasvind, is die gebou aan die Vrymesselaars verkoop wat daar 'n netjiese losie aangebou het wat vir die NG gemeente goeie diens as konsistorie en saaltjie gedoen het. Deur 'n genadige beskikking van God kon die gemeentetjie in 'n kritieke tyd van sy bestaan hierdie ou Godsgebou aankoop en daarin het hulle vergader tot op hierdie dag waar hulle hul nuwe kerk in gebruik neem. Sonder twyfel mag gesê word dat die aankoop van 'n kerkgebou baie daartoe bygedra het om kerklike en nasionale selfrespek by die minderbevoorregte gemeentelede in te boesem.
Intussen het die begeerte na 'n selfstandige gemeente hy die lidmate steeds sterker geword en teen September 1915 was die verwesenliking van hierdie ideaal reeds in sig. Daar moes egter weer 'n struikelblok in die weg gekom het, want in Maart 1916 besluit die kerkraad van Albanie om ds. Theron daarvan te verwittig dat sy werk in Grahamstad aan die einde van daardie kwartaal gestaak moes word, tensy die geldsake anders sou toelaat. Hierdie besluit het waarskynlik die laaste stoot aan die afstigting gegee want op 29 April 1916 word in 'n buitengewone kerkraadsvergadering amptelik daartoe verlof gegee. Die werklike afstigting het op 28 September 1916 plaasgevind wat dan die geboortedag van die gemeente genoem mag word.
Eerste twee leraars duimnael|regs|170px|Ds. M.J. de Kock, van 1917 tot 1923 Grahamstad se eerste NG leraar, en daarna tot 1942 die NG gemeente Springfontein in die Vrystaat se tweede leraar. 'n Maand ná die afstigting tree prop. Mattheam Johannes de Kock voor die gemeente op om kort daarna met algemene stemme tot herder en leraar beroep te word. Sy ordening en bevestiging het op 3 Februarie 1917 plaasgevind. Geldelik het dit maar nog steeds moeilik gegaan, maar vir byna sewe jaar het ds. en mev. De Kock die veeleisende gemeente met toewyding bearbei en ywerig voortgebou op die fondamente wat gelê was. Dit was 'n tyd waarin die ledetal aansienlik toegeneem het en groot voorwaartse stappe is gedoen. Onder meer is daar hard gewerk om die kerkskuld te delg en dit het so goed gegaan dat daar selfs aan die moontlikheid van 'n nuwe kerk gedink is. Ook is daarop Port Alfred 'n stukkie grond vir latere gebruik aangekoop.