Gaius Plinius Secundus (23 n.C. – 25 Augustus 79), beter bekend as Plinius die ouere, was 'n Romeinse outeur, natuurkundige en natuurfilosoof, asook 'n vloot- en weermagkommandeur van die vroeë Romeinse ryk, en persoonlike vriend van keiser Vespasianus. Sy vrye tyd is grootliks aan studies gewy; aan die beskrywings van sy ondersoeke en veldwaarnemings van natuurlike en geografiese verskynsels, waaruit hy 'n ensiklopediese werk, die Naturalis Historia, saamgestel het, wat daarna as 'n toonbeeld in baie aanverwante werke aanvaar is. Sy susterskind, Plinius die jongere, het só na hom verwys in 'n brief aan die historikus Tacitus: Uit my eie oogpunt beskou, ag ek diegene geseënd vir wie, as 'n vergunning van die gode, dit beskore is om óf te doen wat beskrywenswaardig is, óf te skryf wat lesenswaardig is; en uitermate geseënd diegene wat oor albei voorregte beskik. Onder die laasvermelde garde sal my oom gereken word, danksy sy eie en ook jou lektuur.
Plinius verwys hier daarna dat Tacitus op 'n tans verlore werk van sy oom, Geskiedenis van die Germaanse Oorloë, aangewese was. Plinius die ouere is op 25 Augustus 79 n.C. oorlede, tydens 'n reddingspoging om 'n vriend en sy familie van die nabye van berg Vesuvius te ontruim, kort nadat die uitbarsting daarvan die stede Pompeji en Herculaneum uitgewis het. 'n Heersende wind het hul skip verhoed om weer van die strand terug te keer. Hy het inmekaargesak en gesterf, en sy metgeselle het dit later toegeskryf aan giftige gasse. Maar aangesien hulle self daardeur ongedeerd gelaat is, kan natuurlike oorsake nie uitgesluit word nie.
Agtergrond duimnael|links|Como en Como-meer in 1834, geskilder deur Jean-Baptiste Camille Corot. duimnael|links|'n Phalera van 10,5 cm (4,1 duim) wat te Xanten uitgegrawe is, en in die Britse Museum gehuisves word. Dit dra 'n inskripsie gevorm uit geponsde stippelwerk: PLINIO PRAEF EQ; oftewel, Plinio praefecto equitum, "Plinius prefek van kavalerie". Dit is moontlik uitgereik aan elke lid van Plinius se eenheid. 'n Miniatuurborsbeeld van die keiser pryk in die middel.
Plinius se geboorte- en sterftedatums word albei uit die datum van die uitbarsting van Vesuvius in AugustusVir 'n alternatiewe beskouing, dat die uitbarsting in die herfs plaasgevind het, sien Vesuvius. 79 gerekonstrueer, benewens uit 'n stelling van sy susterskind, Plinius, dat hy in sy 56ste jaar oorlede is, wat naamlik sy geboortejaar as 23 n.C. aandui.
Plinius was die seun van 'n ridderlike, Gaius Plinius Celer, en sy gade, Marcella. Nóg die jonger, nóg die ouer Plinius meld hul name, en kennis daarvan kan teruggevoer word na 'n fragmentariese inskripsie (CIL V 1 3442) gevind in 'n veld te Verona en aangeteken deur die 16de-eeuse Augustynse monnik Onofrio Panvinio van Verona. Die inhoud van die inskripsie is onderhewig aan die rekonstruksie daarvan, behalwe dat die name in alle interpretasies na vore kom. Of hý wel 'n augur was, en sý Grania Marcella genaamd was, is minder seker. Jean Hardouin huldig 'n stelling uit 'n onbekende maar na sy mening antieke bron, wat sou aanvoer dat Plinius van Verona afkomstig was, en dat sy ouers Celer en Marcella was. Hardouin vermeld Catullus ook as landgenoot.
Verdere pogings om Celer en Marcella met ander gentes in verband te bring is hoogstens gissings, en Hardouin is die enigste geleerde om die onbekende bron te gebruik. Hoe die inskripsie in Verona kon opduik, is onbegryplik, maar kan aan oordraging van sy eiendom vanaf Plinius die jongere se destyds Toskaanse (tans Umbriaanse) landgoed te Colle Plinio toeskryfbaar wees. Dit is benoorde van Città di Castello geleë, en kan onbetwisbaar met hom verbind word weens sy voorletters op die dakteëls. Daar het hy ook standbeelde van sy voorsate aangehou.
Plinius die ouere is in Como gebore, en nié te Verona nie: dit is slegs by wyse van sy boorlingskap van Gallië Transpadana dat hy Catullus van Verona as sy conterraneus aandui, oftewel medelandgenoot, en wel nie sy municeps, of mededorpsgenoot nie. 'n Standbeeld van Plinius op die fasade van die Duomo van Como vereer hom as 'n plaaslike seun. Hy het 'n suster gehad, Plinia, wat in die Caecilii getrou het, en die ma geword het van (sy susterskind), Plinius die jongere, wie se briewe sy werk en studieroetine in besonderhede beskryf.
Twee inskripsies wat die tuisdorp van Plinius die jongere as Como uitwys, geniet voorrang bo die Verona-teorie. Een (CIL V 5262) herdenk die jongere se loopbaan as keiserlike magistraat en sonder sy aansienlike liefdadigheids- en munisipale toegifte uit, ten behoewe van die inwoners van Como. 'n Ander (CIL V 5667) identifiseer sy vader se nedersetting as Fecchio (van die Oufentina-stam) naby Como. Dit is daarom waarskynlik dat Plinia 'n plaaslike meisie was en Plinius die ouere, haar broer, van Como afkomstig was.
Gaius was 'n telg van die Plinii gens. Hy het sy eie cognomen, Secundus, aangeneem, eerder as dié van sy vader, Celer. Aangesien sy aangenome seun dieselde cognomen aangeneem het, het Plinius 'n nuwe loot gevestig, die Plinii Secundi. Die familie was vermoënd; Plinius die jongere se gekombineerde erfgelate landgoede het hom so welgesteld gelaat, dat hy 'n skool en 'n biblioteek kon stig, 'n fonds kon begunstig vir die voeding van die vroue en kinders van Como en verskillende landgoede rondom Rome en die Como-meer kon besit, en benewens sekere van sy vriende uit persoonlike geneentheid kon verryk. Geen vroeëre voorkoms van die Plinii is bekend nie.
In 59 v.C., slegs 82 jaar voor die geboorte van Plinius, het Julius Caesar Novum Comum (latere Comum) gestig as 'n colonia om die streek te beveilig teen die Alpynse stamme, wat hy nie kon verslaan nie. Hy het 'n bevolking van 4 500 uit ander provinsies (onbekend van waar) gebring om hul in Comasco te vestig, benewens 500 aristokratiese Grieke vir bewoning van Novum Comum self. Hierdie gemeenskap was gevolglik multi-etnies en die Plinies se herkoms kon uit enige oord wees. Of enige gevolgtrekking uit Plinius se voorkeur vir Griekse woorde gemaak kan word, of Julius Pokorny se afleiding van die naam uit noord-Italies, as "bles", bly kwessies vir spekulatiewe opinie. Daar skyn geen blyke te wees van enige etniese onderskeide in Plinius se tyd nie. Die gemeenskap het hul wel op hul Romeinse burgerskap geroem.
Plinius die ouere het ongetroud gebly en geen kinders gehad nie. In sy testament het hy sy susterskind aangeneem, wat die begunstigde bemagtig het om die hele boedel te erf. Die aanneming was by skrywers oor die onderwerp bekend as 'n "testamentêre aanneming", wat volgens hul aanduidings beperk was tot gevalle van naambenoeming, maar Romeinse jurisprudensie erken geen sodanige kategorie nie. Plinius die jongere was gevolglik die aangenome seun van Plinius die ouere, maar wel nie in Plinius die ouere se leeftyd nie. Vir minstens 'n sekere tydperk egter, het Plinius onder dieselde dak gewoon as sy suster en susterskind (wie se eggenoot en pa vroeg oorlede is), aangesien dit die geval was toe Plinius besluit het om die uitbarsting van berg Vesuvius te ondersoek, waar hy deur die loodsing van 'n reddingspoging onderbreek is, en die boodskapper van 'n vriend wat om sy bystand gevra het.
Student en regsgeleerde duimnael|Die Tempel van Castor en Pollux in die Forum, afgeneem in 2005 Plinius se vader het hom na Rome geneem vir sy opleiding, waar Plinius meld dat hy Marcus Servilius Nonianus gesien het.
Junioroffisier duimnael|links|255px|Kaart van Castra Vetera aan die laer-Ryn, 'n groot castra stativa of permanente basis in Laer-Germanië, waar Plinius die laaste jaar van sy dekadelange opname as ruiterykommandeur deurgebring het. Die nabyheid van 'n vlootbasis beteken dat hy ook in skepe opgelei is, aangesien die Romeinse soldate gebruiklik en waar moontlik vir alle gevegsituasies opgelei is. In 46 n.C., op die ouderdom van 23 is Plinius in die weermag opgeneem as 'n junioroffisier, soos die gebruik was vir jong mans van die ridderlike rang. Ronald Syme, Pliniese geleerde, rekonstrueer drie periodes in drie onderskeie range.Beagon (2005), bl. 3Syme (1962), bl. 207 Plinius se belangstelling in Romeinse lettere het guns en toegeneentheid by ander literatore van die hoër range gewek, met wie hy blywende vriendskappe gesmee het. Later het hierdie vriendskappe sy toetrede tot die hoër echelons van die staat vergemaklik; nietemin is hy wel ook om sy kennis en bevoegdheid geag. Volgens Syme, het hy sy loopbaan as 'n praefectus cohortis begin, 'n "kommandeur van 'n kohort" ('n infanteriekohort, aangesien junioroffisiere as voetsoldate begin het), onder Gnaeus Domitius Corbulo, self 'n skrywer (wie se werke nie behoue is nie) in Laer-Germanië. In 47 n.C. het hy deelgeneem aan die Romeinse verowering van die Chauci en die aanlê van die kanaal tussen die riviere Maas en Ryn. Sy beskrywing van die Romeinse skepe wat oornag in die stroom ankerlê om drywende bome af te weer, dra die stempel van 'n ooggetuieverslag.
Op 'n sekere onbekende tydstip is Plinius oorgeplaas na die bevel oor Bo-Germanië onder Publius Pomponius Secundus, met 'n bevordering tot militêre tribuun, 'n stafaanstelling met pligte toegewys deur die distrikskommandeur. Pomponius was 'n halfbroer van Corbulo; albei seuns van Vistilia. Sy was 'n gesiene matrone van die Romeinse hoëlui, wat sewe kinders by ses eggenote gehad het; verskeie van die kinders met keiserlike konneksies, insluitend 'n toekomstige keiserin. Plinius se opdragte is onduidelik, maar hy moes deelgeneem het aan die veldtog teen die Chatti in 50 n.C., op ouderdom 27, in sy vierde diensjaar. Deur sy assosiasie met die kommandeur in die praetorium het hy 'n kennis en noue vriend van Pomponius geword, wat ook 'n literator was.
Op 'n verdere onseker datum is Plinius na Laer-Germanië terugverplaas. Corbulo het die aanstelling as bevelhebber in die ooste aanvaar. Hierdie keer is Plinius bevorder tot praefectus alae, "kommandeur van 'n ala", afgevaardig oor die ruiterybattaljon van om en by 480 manskappe. 'n Onderskeid is steeds getref tussen legionarisse en vennote auxilia, selfs noudat alle Italiane ook Romeinse burgers was. Plinius, komende uit noord-Italië, was 'n vennotekommandeur, soos meeste van die ruitery van die tyd (maar gelyk in rang, gesag en voordele aan hul Romeinse eweknieë). Hy het die res van sy diensopname daar deurgebring. 'n Dekoratiewe phalera, of beslag van 'n harnas, met sy naam daarop is te Castra Vetera gevind, 'n groot Romeinse weermag- en vlootbasis aan die laer-Ryn. Plinius se laaste kommandeur aldaar, blykbaar nie 'n literator of noue vriend van hom nie, was Pompeius Paulinus, wat 55 tot 58 n.C. goewerneur van Laer-Germanië was.Griffin (1992), bl. 438 Plinius vermeld dat hy persoonlik kennis gedra het dat Paulinus ongeveer 12 000 pond silwereetgery op 'n veltog teen die Germane saamgeneem het ('n praktyk wat nie welwillendheid by die gedissiplineerde Plinius sou ontlok nie).
Volgens sy susterskind, was dit tydens hierdie periode dat hy sy eerste boek geskryf het (miskien in winterkwartiere wanneer sy vryetyd meer toerykend was), 'n werk omtrent die gebruik van missiele vir berede troepe, De jaculatione equestri. Die werk het nie behoue gebly nie, maar in sy Natuurgeskiedenis blyk hy minstens 'n deel van die inhoud te onthul: deur aanwending van die perd se intelligensie as hulpmiddel vir die lanswerper, om missiele uit die berede posisie te werp. In hierdie tydperk het hy ook gedroom dat die gees van Drusus Nero hom smeek om sy nagedagtenis van vergetelheid te red. Die droom het Plinius genoop om oor te gaan tot die skryf van 'n geskiedenis van al die oorloë tussen die Romeine en die Germane, wat hy vir 'n aantal jare nie sou afhandel nie.
duimnael|200px|links|Titus