Prof. Daniël François Malherbe (28 Mei 1881 – 12 April 1969) was ’n bekende Afrikaanse digter, dramaturg en romanskrywer. Hy is algemeen as D.F. Malherbe bekend en word veral onthou vir sy prosa asook Vergeet niet, wat as die eerste roman met artistieke waarde in Afrikaans beskou word.http://esat.sun.ac.za/index.php/D.F._Malherbe
Biografie
Herkoms Daniël François Malherbe is op 28 Mei 1881 in Daljosafat gebore. Hy is die seun van P.J. Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners.
Kampvegter vir Afrikaans Na sy studies aan die Victoria-kollege op Stellenbosch en die universiteite Halle en Freiburg in Duitsland, waar hy in 1905 promoveer op ’n proefskrif oor Das Fremdword im Reformationszeitalter, word hy lektor aan die Hugenote-Seminarie op Wellington. In Wellington lewer hy in Oktober 1906 in sy rede “Is Afrikaans ’n dialekt?”, ’n wetenskaplik gemotiveerde pleidooi vir die erkenning van Afrikaans.
In 1907 het hy deel aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging in Kaapstad en die uitbreiding daarvan oor die hele Kaapkolonie. Hy is in 1910 as professor in Moderne Tale aan die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein aangestel. In 1918 word hy die eerste professor in Afrikaans. Hy het ook ’n rol gespeel in die invoer van Afrikaans as voertaal in die Vrystaatse skole. Malherbe dien van 1929 tot 1934 en weer in 1941 as rektor van die Grey-Universiteitskollege. As akademikus tree hy op as adviseur vir die vertalers van die Bybel in Afrikaans en ook in verband met die vertaling van die Nederlandse Gesange.
As een van die grootste kampvegters van Afrikaans het hy woordelyste, spreekwoorde en baie ander stof versamel. Hy was die redakteur van die Tydskrif Vir Wetenskap en Kuns en ’n mede-outeur van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.
Skrywer Hy het ook verskeie dramas en historiese romans geskryf. Sy Bybelse romans, Die Hart van Moab (1933), Saul die worstelheld (1935), en Die profeet (1937) het ’n parallel tussen die Afrikaners en die Israeliete van die Ou Testament getrek. Sy prosa word gekenmerk deur romantiese verheerliking van die arbeid. In sy belangrikste romans behandel hy stof uit die vaderlandse verlede, die mens in sy verbondenheid aan die natuur en grepe uit die Ou Testament.
Op die gebied van drama publiseer hy van 1921 tot 1959 19 stukke, waarvan sommige verwerkings van sy romans is. Van sy drama's het ’n paar met Bybeltemas, soos Amrach die tollenaar (1935) en Moeder en seun (1945) die bekendste geword. Sy werke het meer literêr-historiese kunswaarde.
As mens is hy volkome toegewyd aan sy volk en taal, met ’n kinderlike vertroue op God. Hy is ’n besielende openbare redenaar wat verskeie kere as geleentheidspreker by feeste en ander funksies optree. Hy is drie kere getroud. Sy eerste vrou is Mynie Mostert van die Paarl en hulle het vyf kinders, drie dogters naamlik Helene, Sonja en Elsa, en die twee seuns Pietie en Willie. Na sy eerste vrou se dood trou hy met Louisa (Lulu) Blignaut, wat eers getroud was met Willie Mostert, ’n broer van sy eerste vrou. Sy ontval hom na slegs ’n jaar en twee maande, waarna hy met die weduwee Ivy Lubbe van Pietersburg trou, wat hom oorleef.
Malherbe is sowel op taalkundige as literêre terrein aktief deur sy lidmaatskap van die Taalkommissie, die Spellingkommissie (wat die eerste spelreëls in 1915 publiseer), redigering van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns vanaf 1922 tot 1939, advies aan die Bybelvertalers en aktiewe bystand met die beryming van die Gesange, resensies in heelparty tydskrifte, bloemlesings uit die Afrikaanse letterkunde, die versameling Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1926) en die publikasie van die eerste Afrikaanse Taalboek (1917). Vir die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, Die Brandwag, Nuwe Brandwag, Die Huisgenoot en verskeie dagblaaie lewer hy gereeld boekbesprekings en taal en letterkundige artikels.
Op 12 April 1969 is hy in Bloemfontein aan ’n hartaanval oorlede.http://www.stellenboschwriters.com/100malherbedf.html
Lewe en werk
Opleiding Saam met onder andere A.G. Visser en Totius ontvang hy vanaf 1890 op negejarige ouderdom onderrig aan die Gedenkschool der Hugenoten, wat op sy geboorteplaas gevestig was, en groei op in die geestelike sfeer van die Patriotters. Hy woon in Januarie 1896 die Eerste Afrikaanse Taalkongres in die Paarlse stadsaal by. In 1896 slaag hy die standerd agt-eksamen (destyds die Skool Hoër-eksamen) aan die Gedenkschool der Hugenoten op Kleinbosch in Daljosafat en woon daarna vir twee jaar die Hoër Jongenskool in Wellington by, waar onderrig in Engels geskied. Op skool skryf hy die Taalbondeksamens met goeie gevolg. In 1898 slaag hy die matrikulasie-eksamen van die Universiteit van Kaap die Goeie Hoop en studeer dan vir ’n jaar aan Victoria-Kollege op Stellenbosch, waar hy die Intermediêre eksamen slaag. Op universiteit is hy ’n geesdriftige krieketspeler. Hierna gee hy vir twee en ’n halfjaar onderwys op Montagu. In September 1901 besluit hy om verder te studeer en hy keer terug na die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop, waar hy aan die einde van 1901 die derde klas-onderwyserseksamen slaag en in 1902 die B.A.-graad behaal.
Oorsese studie Sy vriende Abram Perold en Danie du Toit Malherbe vertrek aan die begin van 1902 na Duitsland vir verdere studie in Chemie, wat hom laat besluit om ook in Duitsland verder te studeer. Later in 1902 vertrek hy dan na Duitsland en studeer vanaf die begin van 1903 vir ’n jaar in Halle an der Saale, waar daar by sy aankoms ses Afrikaners is. Die minimum vereiste vir toelating tot die universiteit is vyf jaar Latyn en vyf jaar Grieks, maar hy het slegs Latyn op skool en universiteit geleer en nooit Grieks nie. Ná dae se mooipraat word eindelik aan hom toestemming verleen om in te skryf, maar slegs as spesiale vergunning. Sy begeerte om Vergelykende Taalkunde te bestudeer word gekniehalter deur sy gebrek aan toepaslike agtergrond en ook gebrekkige kennis van Duits en vir ’n jaar bestudeer hy dan Frans, Middel-Engels en Duits. In die vakansie besoek hy onder andere Parys, Lyon en Genève, waar hy ook spesiale kursusse volg. Omdat hy hoofsaaklik met sy landgenote omgaan, besef hy dat sy kennis van Duits só nooit voldoende sal ontwikkel nie en hy besluit dus om eerder weg te gaan en op sy eie verder te studeer. Vervolgens gaan hy dan na Freiburg im Breisgau, waar hy onder die blinde professor Friedrich Kluge verder in Taalkunde studeer, met hoofvak Duits en byvakke Frans en Engels. In 1906 promoveer hy magna cum laude in die Duitse taal en lettere met ’n proefskrif oor “Das Fremdwort im Reformationszeitalter”. Hierdie studie handel oor die vasstelling van die ouderdom van ’n woord en sy oorsprong asook Luther se standpunt teenoor die vreemde woord in sy Bybelvertaling. Dit gee ook ’n beeld van die groot instroming van vreemde woorde in Duits gedurende die eerste helfte van die sestiende eeu. Terwyl hy in Freiburg studeer spandeer president Steyn geruime tyd hier onder toesig van ’n Nederlandse arts en hy kuier dikwels by die president. Hiervandaan besoek hy ook gereeld die nabygeleë Switserland, spandeer tyd in Lyon om Frans te bestudeer en besoek ook die Skandinawiese lande.
Begin van loopbaan By sy terugkeer na Suid-Afrika in 1906 neem hy tydelik die B.A. Honneurs klas in Duits en Nederlands waar aan die Hugenote Universiteitskollege in Wellington. Hy word dan aangestel as skoolhoof op Carnarvon, ’n pos wat hy vanaf Januarie 1907 tot April 1909 beklee, in dieselfde tyd wat A.G. Visser geneesheer op die dorp is. In 1909 doseer hy vir die res van hierdie jaar tydelik op Stellenbosch as plaasvervanger vir dr. W.J. Viljoen, wat toe op sabbatsverlof was. In dieselfde jaar is hy ook ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is later vir twee termyne van twee jaar elk voorsitter van die Akademie, is lid en voorsitter van die Akademie se Taalkommissie en behartig ook vanaf 1923 tot 1939 die redaksie van die Akademie se Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. Teen die einde van 1909 word ’n permanente pos as dosent in Frans en Duits aan die Universiteit Stellenbosch hom aangebied, maar hy wys eindelik hierdie aanbod van die hand. Hy word in 1910 benoem tot hoogleraar in moderne tale aan die Grey-Universiteitskollege te Bloemfontein, waar hy Nederlands, Duits en Frans doseer. In die termyn 1917–1918 is hy voorsitter van die Kollege-senaat. In 1921 word hy lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden en vanaf 1937 is hy korresponderende buitelandse lid van die Deutsche Akademie te München.
Taalstryder Hy het ’n leidende aandeel aan die taalstryd, onder meer met die rede Is Afrikaans een dialekt? wat hy op 12 Oktober 1906 in die Goodnow Hall op Wellington voor ’n gehoor van ongeveer vyfhonderd belangstellendes hou. Met voorbeelde uit die verskillende Europese tale toon hy aan dat Afrikaans ’n selfstandige taal is wat die reg het om as skryftaal gebruik te word. Hierdie rede word dan vanaf 27 Oktober 1906 in vyf opeenvolgende aflewerings in De Volkstem gepubliseer. Op 3 November 1906 is hy ook in Kaapstad stigterslid en die eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging, met die doel om Afrikaans as spreektaal en skryftaal erken te kry. Op 19 Desember 1906 woon hy die jaarlikse kongres van die Z.A. Onderwijsunie in Somerset-Strand by, waar die kongres besluit om ondersteuning te gee aan Afrikaans as spreektaal, maar hom nie uitspreek oor skryftaal nie. In tydskrifte soos De Unie en Ons Land verdedig Malherbe gereeld die waardigheid van die Afrikaanse taal, veral teen diegene wat ten gunste was van die behoud van Nederlands as volkstaal. Na sy vertrek na Carnarvon is hy steeds aktief betrokke in die taalstryd en is op 16 en 17 Desember 1907 in Kaapstad voorsitter van die Eerste Afrikaanse Taalkongres. Op hierdie kongres is ’n spellingkommissie aangestel, wat die volgende jaar verslag uitgebring het en wie se spelreëls in 1915 in hoofsaak nagevolg word deur die Suid-Afrikaanse Akademie.
Na sy aankoms in Bloemfontein sluit Malherbe aan by die vereniging Onze Taal en word só aktief betrokke by die Vrystaatse Taalbeweging. Hy word in 1911 erevoorsitter van die Afrikaanse Studente Taalvereniging. Saam met ds. Willem Postma (Dr. O’Kulis) verander hy op 15 Junie 1914 die bewoording van die Vrystaatse Onderwysordonnansie sodat ook Afrikaans naas Nederlands onder die woord “huistaal” verstaan sou word, wat by die Provinsiale Raad aanvaar word en Afrikaans só tot skooltaal verhef. By die Grey-Universiteitskollege beywer hy hom dat Afrikaans as gebruikstaal aanvaar word en op 2 Augustus 1918 verskyn ’n kennisgewing in sy handskrif dat studente voortaan toegelaat sal word om al hulle eksamens in Afrikaans af te lê. Hy dien later ook op die Kottich-kommissie van ondersoek na die invoering van die tweede taal op skool. In 1916 word hy deur die Bybelvertalingkommisse van die drie Afrikaanse susterskerke aangewys as taaladviseur vir die paneel wat die Statebybel in Afrikaans moet vertaal. Die resultate van die eerste proewe van hierdie vertaling is egter teleurstellend en word gekritiseer dat dit nie Afrikaans is nie maar ook nie Nederlands nie. Hierdie paneel word dan ontbind en ’n besluit word geneem om die Bybel eerder uit die grondtale, Grieks en Hebreeus, te vertaal. In 1928 is hy stigter van die Afrikaanse Kultuurbond in Bloemfontein, wat later saamsmelt met die Helpmekaar-beweging. Hy dien dan as voorsitter van die Bloemfonteinse Helpmekaar-tak en van die plaaslike Skakelkomitee.