duimnael|’n Smeltende ystong van Athabasca Gletser, Jasper Nasionale Park, Alberta, Kanada. duimnael|Die oorsprong van ’n bergrivier in die Switserse Alpe, Switserland. (Reichenbach in Grosse Scheidegg). duimnael| Hierdie brug oor die Donourivier verbind Hongarye met Slowakye. duimnael|’n Uitsig oor die Brahmaputra naby Sukleswar ghat in Guwahati, Indië. duimnael|Die Amasonerivier in Brasilië.
'n Rivier is 'n natuurlike waterloop,River {definisie} vanuit Merriam-Webster. Besoek Februarie 2010. gewoonlik van varswater, wat 'n oseaan, meer, see of ander rivier binnevloei. In sommige gevalle sal 'n rivier eenvoudig binne die grond invloei of heeltemal opdroog alvorens 'n ander watermassa bereik word. 'n Klein rivier kan onder verskillende ander name bekend staan, soos stroom, spruit, riviertjie, lopie of beek; daar bestaan geen omvattende reël oor wat as 'n rivier gedefinieer kan word nie.
Die enigste uitsondering is die stroom: in party lande of gemeenskappe kan ’n stroom volgens sy grootte bepaal word. Baie name vir klein riviere is aan die geografiese ligging verbonde, soos Burn in Skotland en Noordoos-Engeland.
'n Rivier vorm deel van die hidrologiese siklus. Die water wat binne die rivier vloei is afkomstig van neerslag, wat deur middel van oppervlakafloop, die deursyfering en styging van watertafels, fonteine, en smeltwater van gletsers en ys gevoed word.
Potamologie is die wetenskaplike studie van die riviere, terwyl limnologie die studie van vrye water in die algemeen is.
Vloeipatroon 'n Rivier kan omskryf word as 'n natuurlike waterloop waarin die water in 'n selfgevormde bedding 'n weg baan vanaf hoër- na laerliggende dele. Die neiging van lopende water is om die laagsliggende deel te bereik, meestal die see. Sommige riviere stroom egter ook in mere sonder 'n afvoer en verdere waterverlies geskied dan slegs deur wegsyfering en verdamping.
Die primêre rede waarom lopende water oor die aardoppervlak beweeg, is swaartekrag. Water sal in die proses altyd die roete (pad) met die minste weerstand probeer volg, en afhangende van die aard van die terrein, die gesteente en die helling, sal dit die kortste moontlike loop na 'n laerliggende deel uitkerf. Die krag van lopende water is buitengewoon groot en dit kan in die neiging om tot 'n toestand van ekwilibrium te kom, in baie gevalle van die hardste gesteentes verweer.
'n Rivier kan by die oorsprong gevoed word met water uit verskillende bronne. In die hoërliggende gebiede is dit dikwels smeltende sneeu of gletserys. Dit kan ook gevoed word met water wat uit ʼn ondergrondse bron na die oppervlak syfer (fonteine) of met water afkomstig uit 'n meer of ʼn moeras. Sowat 30 % van alle reën wat op aarde val, keer deur middel van riviere na die see terug.
Al hierdie reën val natuurlik nie in die oorspronggebied nie, maar na genoeg of langdurige reën kan die talle afloopstroompies teen die hellings op 'n sekere punt saamvloei en die oorsprong van 'n rivier vorm. Talle klein waterlopies, gevoed deur fonteine, gesmelte sneeu of ys, of reënwater wat op 'n berghelling val, kan saamvloei om spruite, klein riviertjies en groter riviere te vorm wat uiteindelik in 'n groot stroom verenig.
Op hierdie manier word ʼn netwerk gevorm van waterlope wat 'n bepaalde deel van die aarde se oppervlak dreineer. Hierdie gebied word dan ook die stroomgebied van 'n bepaalde rivier genoem. Die natuurlike skeiding tussen twee stroomgebiede, wat meestal deur 'n gebergte of rûe gevorm word, word 'n waterskeiding genoem. Een van die bekendste, waterskeidings in Suid-Afrika is die eskarprand wat deur die Drakensberg gevorm word.
Stroomgebiede is soms met mekaar verbind. In Suid-Amerika is byvoorbeeld die stroomgebied van die Orinoco deur die Casiquiare met die Rio Negro verbind. Die Rio Negro sluit by die Amasone aan, wat laasgenoemde een van die grootste riviere in die wêreld maak. Die stroomsnelheid van 'n rivier word bepaal deur die helling, breedte en diepte van die rivier en deur die hoeveelheid water wat afgevoer word.
Die snelheid van die stroom is in die middel van die rivier meestal die hoogste en dit neem af na die oewers. In draaie of kronkels loop die water egter die vinnigste aan die buite-oewer, waar dit dan ook die meeste erosie veroorsaak. Die vloeisnelheid is heelwat stadiger aan die binne-oewer van 'n kronkel. Indien die stroomsnelheid laag en die stroomkanaal baie eweredig en gelyk is, is die water geneig om in dun eweredige lagies oormekaar te vloei.
Dit word laminêre vloei genoem, en dit veroorsaak nie veel erosie nie. As die rivierbedding of stroomkanaal baie ongelyk en die stroomsnelheid hoër is, is die vloei van die water baie meer onreëlmatig. Wrywing met die rivieroewer, rivierbodem en materiaal wat meegevoer word, veroorsaak turbulensie (dwarrelende vloei). Turbulente vloei bring hoë erosie mee en die meeste riviere (veral ook Suid-Afrikaanse riviere) toon hierdie vloeipatroon.
Met die afloop van water word groot hoeveelhede klip en grond (veral in die steiler bolope) losgewerk en saam met die stroom afgevoer. Hierdie materiaal word die stroomvrag genoem. Die erosiewerkende krag van riviere speel 'n belangrike rol in die ontstaan van landskapvorme op die aarde se oppervlak. Wanneer daar 'n versperring van moeilik verweerbare of byna onverweerbare gesteente in 'n rivierloop voorkom, kan daar op die plek 'n waterval ontstaan.
Die eroderende krag van die water sal mettertyd die sagter gesteentelae onder die versperring wegvreet en instortings kan ontstaan, waardeur die ravyn (kloof) waarin die rivier loop, na agtertoe verdiep en uitgebrei word. Stroomversnellings ontstaan op plekke waar weerstandbiedende gesteentelae oor groot gedeeltes skuins stroom af langs die rivierbedding voorkom.
Waterstand Die waterstand van 'n rivier wissel na gelang van die hoeveelheid reën, die tempo waarin sneeu en gletserys smelt, en word ook beïnvloed deur verdamping. Die snelheid en omvang van die water- stroming van 'n rivier hou verband met die klimaat en die reënvalspatroon.
Riviere wat deur gletserwater gevoed word, kry oor die algemeen 'n reëlmatige hoeveelheid water met 'n hoogtepunt in toevoer gedurende die lente wanneer die gletserys en die sneeu smelt. Die sogenaamde reënriviere is heeltemal afhanklik van die reënval in die bepaalde seisoene, en nie-standhoudende riviere is periodiek heeltemal of gedeeltelik droog ('n uiterste voorbeeld hiervan is die droë rivierbeddings of wadi's in woestyngebiede wat slegs enkele kere in talle jare na seldsame stortreëns water afvoer).
Op grond van die waterstand word daar dan ook dikwels deur geoloë onderskei tussen permanente (standhoudende) riviere, periodiese riviere en episodiese riviere. Permanente riviere vloei die hele jaar deur. Die waterstand is nie deur die jaar konstant nie, en 'n bepaalde seisoen kan 'n groot verskil in die stroomvolume teweegbring. Permanente riviere word egter dikwels gevoed deur gletsers of 'n goed verspreide reënval deur die jaar.
Voorbeelde van permanente riviere is die Ryn, die Seine, die Mississippi en die Amasone. In Suid-Afrika het ʼn stelsel van damme en sluisbeheer die Oranjerivier 'n permanente karakter gegee. Periodiese riviere vloei meestal net gedurende die reënseisoen en gewoonlik elke jaar. Hierdie riviere kom veral in semi-ariede streke voor met 'n reënval van minstens 300 tot 400 mm per jaar in die opvanggebied. Talle Suid-Afrikaanse riviere is periodiese riviere.
Episodiese riviere vloei nie noodwendig elke jaar nie, maar net na die hoogste neerslag gedurende die reënseisoen. Gedurende die grootste gedeelte van die jaar is hulle droog en soms as die reënval nie hoog genoeg is nie, bly hulle jare agtereen droog. Na 'n harde bui sal hulle vir 'n kort rukkie loop, wat soms net 'n paar uur kan wees. Die kort vloeiperiode kan baie heftig wees en grootskaalse erosie tot gevolg hê.
Fluviale siklus Die Amerikaanse geoloog Davis het aan die begin van die vorige eeu die teorie ontwikkel dat 'n rivier se stroomvallei deur verskillende ontwikkelingstadia gaan. Hy maak melding van 'n jeug-, volwasse en ou stadium.
Die boloop Die boloop (waar die rivier ontspring) is die trajek van 'n rivier wat die jong rivier genoem word, en word gewoonlik in die hoe berggebiede aangetref. As gevolg van die groot val oor 'n kort afstand (steil profiel) stroom die rivier buitengewoon vinnig en sny dit ʼn diep V-vormige dal uit. Rotsstukke wat afgebreek het, kry deur onderlinge botsings op die rotsagtige rivierbedding reeds 'n afgeronde vorm. Die meegevoerde rotsmateriaal vergroot die erosiewerking van die jong rivier. As brokstukke in reeds gevormde gate in die rivierbedding vasgevang word, sal dit die gat verder uithol en kolk- of maalgate kan so ontstaan. 'n Reeks aaneengeskakelde kolkgate kan uiteindelik saam 'n kloof of 'n ravyn vorm. In die bolope is daar nag min materiaal gesuspendeer (suspensievrag) en die water is nog redelik helder. Die meeste materiaal word nog as redelike groot deeltjies op die bodem (bodemvrag) vervoer.
Die middelloop Die middelloop van 'n rivier word die volwasse rivier genoem. Dit is die meer egalig vloeiende gedeelte van die rivier nadat dit die hoë berggedeeltes, waarin dit ontspring het, verlaat het. Die omliggende landskap bestaan hoofsaaklik uit die voetheuwels van die bergreekse. Erosie is steeds die belangrikste landskapvormende proses, hoewel daar in hierdie stadium ook reeds van afsetting sprake is.
As die deurstroomde gebied boonop aan periodes van langsame opheffing en rus onderworpe is, kan rivierterrasse ontstaan. Gedurende die rusperiodes verbreed die dal deur sywaartse erosie. Kleinerige kronkels begin ontstaan, die stroom vloei stadiger en watervalle kom selde voor. Die takriviere in die omgewing is langer en die waterskeidings reeds verder weggeërodeer.
Die benedeloop Die benedeloop van 'n rivier word die ou rivier genoem. Die helling en die stroomsnelheid is nou gering en groot rivierkronkels of meanders word gevorm. 'n Groot deel van die stroomvrag, veral die growwer materiaal, word in die kronkels afgeset. Die water is gewoonlik nie meer helder nie omdat die suspensievrag dit vertroebel. Die waterskeidings tussen die takriviere het ook byna weggeërodeer.
Nie alle geoloë steun die fluviale siklusteorie nie, en volgens hulle moet 'n bepaalde siklus nie deur 'n geologiese proses soos die opheffing van 'n riviervallei versteur word nie. Indien dit wel gebeur, sal daar weer 'n sogenaamde verjonging moet plaasvind waarin die rivier weer opnuut 'n nuwe bedding of loop sal moet uitkerf. Die fluviale siklus bevat egter wel die belangrike konsep dat riviere deur progressiewe ontwikkelingstadia gaan.
Fluviale sediment Indien die oorsprong van 'n rivier in 'n gebergte lê, speel die lengteprofiel daarvan 'n belangrike rol in die afsetting van die stroomvrag. Die lengteprofiel dui die hoogte van elke punt van die waterloop aan bo 'n gekose verwysingsvlak (gewoonlik seespieël). Wanneer daar 'n ewewigtoestand bestaan, vorm die lengteprofiel van die rivier 'n vloeiende konkawe lyn wat in die benedeloop byna gelyk is en in die boloop naby die oorsprong baie steiler vertoon.
Vir 'n val van 10 m (dus 'n hoogteafname van 10 m) is daar dikwels in die boloop 'n geringe horisontale afstand nodig (byvoorbeeld 100 m), terwyl vir dieselfde daling in die benedeloop dikwels minstens 10 km nodig is. Die verhouding tussen die val en die horisontale afstand (profiel) verminder dus hoe verder die stroom van die oorsprong of bron af verwyder is. Die profiel van 'n rivier is belangrik omdat dit saam met die waterafvoer bepaal of die rivier 'n vlegstroom of 'n meandriese rivier sal word.
Vlegstrome