James Harold Wilson (11 Maart 1916 – 24 Mei 1995), Lord Wilson van Rievaulx, was 'n Britse politikus van die Arbeidersparty. Hy word as een van die mees prominente politici van die tweede helfte van die 20ste eeu gesien en het twee keer as Eerste Minister van die Verenigde Koninkryk gedien.

Hy het aan die Universiteit van Oxford in die filosofie, politiek en ekonomie gestudeer en is in 1937 by dié universiteit aangestel as lektor in ekonomie. Hy is in 1940 met Gladys Mary Baldwin getroud, 'n huwelik waaruit twee seuns gebore is. Nadat hy tussen 1943 en 1944 direkteur van ekonomie en statistiek in die ministerie van brandstof en krag was, het Wilson in 1945 'n boek, New deal for coal, gepubliseer, wat die grondslag gevorm het vir die Arbeidersparty se nasionaliseringsplanne van die mynbedryf.

Dit was die eerste van talle ekonomiese en politieke publikasies wat hy die lig laat sien het. Harold Wilson het in 1945 lid van die Laerhuis geword en in 1947 president van die British Board of Trade, 'n organisasie waaruit hy later bedank het toe die staat gelde vir mediese dienste gehef het ten einde die Koreaanse Oorlog te finansier. Hy is in 1963 tot leier van die Arbeidersparty verkies, ʼn posisie wat hy tot in 1976 beklee het.

Hy het in 1964 premier van Brittanje geword en in Oktober 1965 ʼn mislukte poging aangewend om die eensydige onafhanklikverklaring in Rhodesië (teenswoordig Zimbabwe) af te wend. Wilson het later ekonomiese sanksies teen die regering van Ian Smith ingestel, maar ook dié maatreël het geen vrugte afgewerp nie.

In 1970 is die bewind in Brittanje deur die Konserwatiewe Party onder leiding van Edward Heath oorgeneem, maar toe die Tories na ʼn verkiesing in 1974 nie daarin kon slaag om 'n regering saam te stel nie, is Wilson gevra om dit te doen. Op 6 Maart 1974 het hy vir die tweede keer premier geword. Twee jaar later, op 16 Maart 1976, in ʼn stadium toe Brittanje se ekonomie in 'n benarde toestand was, het hy onverwags bedank.

Tydens sy bewind het Harold Wilson verskeie internasionale vredesbesoeke onderneem, onder meer na die VSA en die Sowjetunie in 1968 tydens die Viëtnam-oorlog. Sy buitelandse politiek het egter geen noemenswaardige resultate opgelewer nie. 'n Sirskap is in April 1976 aan Wilson toegeken.

Bronnelys Paul Routledge: Wilson (20 British Prime Ministers of the 20th Century). Haus Publishing Ltd, London 2006, . Wêreldspektrum, 1982, , volume 29, bl. 131, 132

Kategorie:Eerste Ministers van die Verenigde Koninkryk Kategorie:Britse ministers Kategorie:Britse opposisieleiers Kategorie:Geboortes in 1916 Kategorie:Sterftes in 1995