Die nasionale vlag van Nederland verteenwoordig die eenheid en onafhanklikheid van die hele Koninkryk van die Nederlande. Die rooi-wit-blou word op land asook op see gebruik as burgerlike vlag, staatsvlag (diensvlag) en oorlogsvlag.
Die Nederlandse vlag is ’n driekleur en bestaan uit drie ewe groot horisontale bane in rooi, wit en blou. In die vlagontwerp van die Ministerie van Algemene Sake word die kleure bepaal as helder vermiljoen, helder wit en kobaltblou. In die normblad 3055 word hierdie kleure in Internasionale Beligtingskommissie-koördinate gespesifiseer. Dié kleure kan nie regstreeks in Pantone-kodes omgereken word nie, dus word verskillende waardes vir laasgenoemde gebruik. Vir die vlagverhouding is daar geen regulasies nie. In die niegoedgekeurde 1937-vlagwet is die verhouding tussen hoogte en lengte bepaal as 2:3 en oor die algemeen word dié verhouding steeds gebruik. Die drie bane is ewe groot.
Die huidige ontwerp het sy oorsprong in die 16de-eeuse oranje-wit-blou “Prinsevlag” (Nederlands: Prinsenvlag) wat in die vroeë 17de eeu in die rooi-wit-blou “Staatsvlag” (Statenvlag) ontwikkel het, die vlootvaandel van die Stategeneraal van die Nederlandse Republiek, waarmee die Nederlandse vlag die oudste driekleur is wat aaneenlopend gebruik word. Aangesien die vlag die oorgang van ’n monargie na ’n republiek verteenwoordig, was dit ’n voorbeeld vir die ontwerp van die vlag van Rusland en, ná die Franse Rewolusie in 1789, die vertikaal gestreepte vlag van Frankryk gedien; albei vlae het op hul beurt baie ander vlagontwerpe beïnvloed.
Tydens die ekonomiese krisis van die 1930’s het die ou Prinsevlag met die kleur oranje ’n mate van gewildheid onder sommige mense verwerf, waaronder Protestante, orangiste, konserwatiewe liberale, fasciste, en ander. Om dié verwarring te beëindig, is die rooi-wit-blou vlag en sy amptelike status as die nasionale vlag van die Koninkryk van die Nederlande op 19 Februarie 1937 deur ’n koninklike besluit herbevestig.
Ontwerp duimnael|Vruntschap deur Jan van Hout (1575), die oudste bekende kleurillustrasie van die Nederlandse vlag. Die vlag steek links op die boonste paneel uit. Die nasionale vlag van Nederland is ’n driekleur. Die horisontale dwarsbalke is ewe groot bane in die kleure, van bo na onder, rooi (amptelik beskryf as ’n “helder vermiljoen”), wit (“silwer”) en blou (“kobaltblou”). Die vlagverhouding is 2:3. In November 1958 is die kleurparameters deur die NEN (voormalige HCNN) soos volg gedefinieer:
Kleurskema Helder vermiljoen Wit Kobaltblou Chromaties X=18.3 Y=10.0 Z=3.0 Y=100.0 X=7.5 Y=6.6 Z=25.3 CMYK 0.83.78.32 0.0.0.0 77.47.0.48 RGB (173,29,37) (255,255,255) (30,71,133) Heksadesimaal #AD1D25 #FFFFFF #1E4785 RAL 2002 9010 5013
In hierdie definisie word ’n standaardligbron C (ook gedefinieer deur die CIE-1931-kleurruimte) gebruik wat teen ’n 45°-hoek inval.
Die Nederlandse vlag is amper identies aan dié van Luxemburg, behalwe dat dit korter is en sy blou- en rooi bane donkerder skakerings het. Die ooreenkoms van die twee vlae het in 2006 tot ’n nasionale debat geïnisieer deur Michel Wolter gelei om die vlag van Luxemburg te verander.
Die Nederlandse vlag het die volgende tegniese ontwerp:
Simboliek Elke kleurbaan in die Nederlandse vlag het ’n sekere mate van simboliek vir die land. Die rooi baan verteenwoordig dapperheid, krag, moed en gehardheid; die wit baan vrede en eerlikheid en die blou baan waaksaamheid, waarheid, lojaliteit, deursettingsvermoë en geregtigheid.
Volgens ’n ander teorie beweer sommige deskundiges dat die kleure die samelewing verteenwoordig: rooi die volk, wit die kerk en blou die adel.
Geskiedenis Middeleeue Aan die einde van die 15de eeu, toe die meeste Nederlandse provinsies onder die Hertog van Boergondië verenig is, is vir gemeenskaplike ekspedisies die Hertog van Boergondië se Boergondiese Kruisvlag gebruik, wat bestaan het uit ’n rooi Andreaskruis met twee gekruisde grof gesnoeide (geknoopte) takke op ’n wit veld. Onder die latere Huis van Habsburg het dié vlag in gebruik gebly.
Hollandse of Staatsvlag (vóór 1572 tot 1810) duimnael|Detail van ’n geveg tussen Hollandse en Spaanse skepe op die Haarlemmermeer, waarop beide die Hollandse vlag en die Prinsevlag te sien is. Hendrik Cornelisz Vroom, 1629 Oor die jare heen was daar baie teorieë oor die ontstaan van die Nederlandse vlag. Volgens die Fransman Dampmartin se teorie is die Nederlandse vlag deur koning Hendrik IV van Frankryk geskenk. Dié teorie is egter deur die Ryksargivaris Johannes de Jonge in sy boek Over den oorsprong der Nederlandsche Vlag weerlê. Hy het op sy beurt beweer dat die kleure ontleen is aan die wapenskild van Willem van Oranje en dat dit ontstaan het aan die begin van die Nederlandse Opstand. D.G. Muller was egter van mening dat die “Hollandse vlag” al lank voor die opstand bestaan het. Die vlag het glo ontstaan in die tydperk toe die Beierse huis aan bewind was in die Graafskap Holland (1354–1433). Die kleure van die vlag sou inderdaad hul oorsprong in dié van die graaf van Holland se wapen hê, wat bestaan het uit die Beierse wapen gekwarteer met die wapen van die Graafskap Holland. Soos dit blyk uit die munte wat in opdrag van die graaf vir Holland en Zeeland gemunt is, is die wapen vir die eerste keer gebruik deur Willem V.
Uit ’n ondersoek deur P.C. Guyot In die tydskrif Bijdragen voor de Vaderlandsche geschiedend en oudheidkunde Xe deel blyk dit dat die tesourier van die graaf van Holland in die jaar 1409/10 vir graaf Willem VI ’n staatsrok aangekoop het van 12 ellen graauw laken en tot uitmonstering daarvan van 2 3/4de ellen rood wit en blaauw fluweel […] Het staatsiekleed, Tabbairt genoemd, was graauw met bont gevoerd, en uitgemonsterd met de kleuren, rood, wit, blaauw. (“12 el grys lap en as uitrusting 2 3/4 el rooi, wit en blou fluweel […] Die staatsrok, genaamd tabbaard, was grys met pels gevoer en versier met die kleure rooi, wit en blou.”)
In 1568 het provinsies van die Lae Lande in opstand gekom teen koning Filips II van Spanje en prins Willem van Oranje (1533–1584) het homself aan die hoof van die rebelle geplaas. Aan die begin van die opstand is naas die Hollandse vlag soms ook sekondêr ’n oranje vlag of vaandel gebruik. Die gebruik van die vlag is egter nie amptelik bepaal nie. Verder blyk dit uit Muller se ondersoek dat reeds vóór die opstand rooi-wit-bloue vlae in Nederland gebruik is. Die etimologie van die Huis van Oranje hou nie verband met die vrug of die kleur in nie. Die gebruik van die kleure oranje, wit en blou (Nederlands: Oranje, Wit, Blauw; van Frans: Orange, Blanc, Bleu) het sy oorsprong in die livrei van Willem en dit is vir die eerste keer genoem tydens die beleg van Leiden in 1574, toe Nederlandse offisiere oranje-wit-blou armbande gedra het. Die eerste uitbeelding in kleur van die vlag dateer uit 1575. In 1577 is Willem in Gent met ’n aantal teatrale allegorieë verwelkom verteenwoordig deur ’n jong meisie, geklee in oranje, blou en wit. Die ordonnansies van die Admiraliteit van Zeeland, wat uit 1587 dateer, d.w.s. kort na Willem se dood, is die eerste eksplisiete verwysing na ’n vlootvaandel in hierdie kleure.
Die kleurkombinasie oranje, wit en blou word oor die algemeen as die eerste Nederlandse vlag beskou. Die 400ste herdenking van die Nederlandse vlag se invoering is in 1972 in Nederland met die uitreik van ’n posseël herdenk. Dit is gebaseer op die feit dat in 1572 die Watergeusen (Gueux de mer, “meerbedelaars”) die pro-Nederlandse kapers Brielle namens Willem van Oranje ingeneem het. Dit is egter onduidelik of hulle tydens dié gebeurtenis ’n oranje-wit-blou vlag saamgeneem het, hoewel hulle sekerlik ietwat later in die 1570’s ’n oranje-wit-blou driekleur begin gebruik het. Soos die opstand voortgeduur het, het mense al hoe meer hoop op Willem van Oranje begin plaas, en die geuse het in hierdie tydperk die rooi op die volksvlag met oranje vervang. Dit het later die “Prinsevlag” (Nederlands: Prinsenvlag) geword en was die basis vir die voormalige vlag van Suid-Afrika, die vlae van New York en die vlag van Albany, al drie is voormalige kolonies van die Nederlandse Republiek.
By die nuutgestigte vloot is die Prinsevlag in gebruik geneem, maar by die handelsvloot is die Hollandse vlag egter nooit vervang nie, net soos die vlae van die VOC en die WIC se rooi-wit-blou. Net soos die Hollandse vlag in die vroeë jare van die Republiek was die geusevlag nie amptelik goedgekeur nie. Die vlagverandering in die vloot is dus nie deur ’n staatsbesluit teweeggebring nie. In 1664 het die State van Zeeland gekla oor die feit dat die naam Hollandse vlag in ’n resolusie deur die State-Generaal gebruik is. Hierna is die amptelike naam van die vlag verander na Statenvlag of Staatsche vlag (“Staatsvlag”).
Prinsevlag (1572 tot 1653)
duimnael|Nederlandse skepe stamp op 3 Oktober 1602 Spaanse galeie aan die Engelse kus (Hendrick Cornelisz Vroom, 1617) Die vroegste voorbeelde van die driekleur dateer uit die 16de eeu. Die eerste variant waarna verwys word (in 1572) is ’n veelbanige geusevaandel in die livreikleure van Willem van Oranje (wit en blou), aangevul met oranje. Die oudste bekende gedateerde afbeelding (2 Desember 1575) is deur Jan van Hout, stadssekretaris van Leiden, in die album amicorum deur Janus Dousa. Met die stigting van die Unie van Utrecht in 1579 het die oranje-blanje-blou, die “Prinsevlag” (Prinsenvlag), die amptelike vlag geword.
Reeds in 1596 het rooi as ’n plaasvervanger vir oranje verskyn, maar soos dit uit destydse skilderye blyk is dit eers ná 1630 meer gebruik. Rooi het oranje (1630–60) geleidelik vervang as ’n teken van politieke verandering en toenemende dissosiasie van die Republiek teenoor die Huis van Oranje. Dit blyk dat die rooi-wit-blou driekleur voor 1664 algemeen bekend gestaan het as die “Vlag van Holland” (Nederlands: Hollandsche Vlag), genoem na een van die opstandige provinsies. In 1664 het die State van Zeeland, een van die ander opstandige provinsies, hieroor gekla, en ’n resolusie deur die State-Generaal het die naam “Staatsvlag” (Nederlands: Statenvlag) ingestel, waarna die rooi-wit-blou driekleur dié naam verkry het. Navorsing oor die aankoop van vlagdoek deur die hoofadministrasie van die koste op land en op see het getoon dat die vloot tussen 1588 en 1630 altyd onder die Prinsevlag gevaar het en ná 1663 altyd onder die Staatsvlag. In die tydperk van 1630 tot 1662 is albei vlae gebruik. Die 17de-eeuse rooi-wit-blou driekleur het glo die vlagontwerp van beide die Russiese vlag en die Franse vlag geïnspireer. Op hul beurt sou dié twee vlae later baie ander beïnvloed.
Ten tye van die Eerste Stadhouerlose Tydperk (1650–1672) is die Prinsevlag by die vloot afgeskaf en die Hollandse vlag, waarna deur andere geweste ook verwys is as Staats- of Staatse vlag, in gebruik geneem. In 1652 is die Prinsevlag in die gewes Holland verbied en rondom 1653 is dit met die by die vloot gebruikte Prinsevlag vervang. Dit was volgens besluit deur die State-Generaal onder leiding van die raadspensionaris Johan de Witt. In hierdie tydperk het die Staatsvlag ook amptelik die vlag van die Republiek geword.
Die rede vir die terugverandering van oranje na rooi is onduidelik. Volgens De Jonge moes die rede in ’n staatkundige ontwikkeling gesoek word en dit iets met die konflik tussen die staatsgesindes en die orangiste te doen hê. Dit het plaasgevind tydens die Eerste Stadhouerlose Tydperk wat begin het met die ontydige dood van prins Willem II van Oranje in 1650. Die mag van die stadhouersgesinde het afgeneem, terwyl dié van die staatsgesinde toegeneem het. Volgens Muller het dit te doen met die respek wat die ou Hollandsese vlag op die wêreldmere verdien het. L. van Aitzema meen die Prinsevlag en die oranje baniere is in 1652 verander om die Engelse tevrede te stel. Lieuwe van Aitzema, Zaken van Staet en Oorlogh, deel 3, bl. 739 Dit het alles te doen gehad met die aanloop tot die Eerste Anglo-Nederlandse Oorlog wat in dieselfde jaar begin het.