Die Ougelowiges of Ouritualiste (Russies: старове́ры, staroweri; of старообря́дцы, staroobrjadtsi) was lede van die Russies-Ortodokse Kerk wat ná 1666-'67 van die amptelike Kerk afgeskei het uit protes teen die hervormings van patriarg Nikon van 1652 af. Hulle het vasgeklou aan die liturgiese praktyke wat voorheen in die Kerk beoefen is.

Die rede vir die hervormings was dat kerkamptenare agtergekom het daar is verskille tussen die gebruike in die Russiese en Griekse Kerk wat deur die eeue ingesluip het. Die Russiese Kerk was dus nie meer in gemeenskap met die res van die Ortodokse kerke nie. Dit was vir Nikon onaanvaarbaar. Hy het selfs beweer sommige Russiese praktyke grens aan kettery.

duimnael|150px|links|’n Ikoon van die 6de eeu wat Jesus uitbeeld waar hy die kruisteken met twee vingers maak. Die Ougelowiges het geglo dit is die regte manier. Nikon het, met die ondersteuning van tsaar Aleksei, in 1652 ’n sinode saamgestel om Russiese en Griekse liturgiese boeke met mekaar te vergelyk. So 'n taak sou egter jare duur en Nikon het, sonder om verder te wag, opdrag gegee vir die druk van nuwe weergawes van die Russiese psalm- en misboek. Die nuwe weergawes het dikwels gebruikte woorde en tekens in die liturgie verander. Verder het die manier waarop Nikon die veranderings deurgedwing het, baie lede van die Kerk ontstig.

Die haastig gedrukte nuwe weergawes het ongerymdhede bevat en moes herhaardelik herdruk word in 'n poging om dit reg te stel. Van die belangrikste veranderings waarteen die Ougelowiges was, is: die spelling van Jesus se naam, veranderings in die bewoording van die geloofsbelydenis en die maak van die kruisteken met twee vingers tot drie vingers.

Nadat hulle weerstand gebied het teen die Kerk se hervormings is die banvloek in 'n sinodebesluit oor hulle en hulle rituele uitgespreek. Dit het 'n skeuring veroorsaak tussen die Ougelowiges en dié wat die staatskerk se hervormings aanvaar en die ou rituele verwerp het. Baie Ougelowiges is geëkskommunikeer en verban, en sommige is selfs tronk toe gestuur of tereggestel.

Ná 1685 het 'n tydperk van vervolging begin. Baie Ougelowiges het uit Rusland gevlug en hulle denominasies kan vandag in baie afgeleë streke van Rusland en oorsee gevind geword. Daar is tans twee hoofgroepe, die popoftsi (поповцы, "met priesters") en die bespopoftsi (беспоповцы, "sonder priesters").

In die 1970's het die Patriargaat van Moskou en die Russies-Ortodokse Kerk Buite Rusland die banvloek herroep wat in die 17de eeu oor Ougelowiges uitgespreek is. Die meeste Ougelowige gemeenskappe het egter nog nie teruggekeer na volle gemeenskap met die ander Ortodokse kerke wêreldwyd nie.

Agtergrond Van 1652 tot 1658 het patriarg Nikon van Moskou 'n aantal veranderings in rituele en kerktekste aangebring met die doel om eenvormigheid te skep tussen die gebruike van die Grieks-Ortodokse Kerk en die Russiese Kerk. Nikon het verskille tussen die Russiese en Griekse rituele en tekste opgemerk en opdrag gegee dat die Russiese rituele verander word om ooreen te stem met die Griekse Kerk s'n. Die Ougelowiges het geglo Nikon het dit gedoen sonder om kerklui behoorlik te raadpleeg en sonder om 'n konsilie byeen te roep.Zenkovskiy S.A., 1995, 2006. Nadat die hervormings ingestel is, het die Kerk die banvloek oor die vorige rituele uitgespreek en dit met die hulp van die staatsmag onderdruk – asook oor die lidmate wat nie die hervormings wou aanvaar nie.

Die lidmate wat die ou rituele bly gebruik het, is van die einde van die 17de eeu tot die begin van die 20ste eeu as "kerkskeurders" (раскольники, raskolniki) vervolg en swaar gestraf. Hulle het bekend geword as die "Ougelowiges", 'n naam wat onder keiserin Katharina die Grote (bewind: 1762-'96) begin gebruik is. Die lidmate wat die hervormings aanvaar het, het hulleself prawoslawnije (православные, "reggelowiges") begin noem.

Voor Nikon Die inhuldiging van 'n Metropolitaan van Kiëf en die hele Rusland, maar met sy hoofsetel in Moskou, deur 'n raad van Russiese biskoppe in 1448 sonder die instemming van die Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel, het die effektiewelike onfhanklikheid van die Oosters-Ortodokse Kerk in die Grootvorstedom Moskou ingelui. Teen daardie tyd was al die inwoners van die grootvorstedom buiten Moslemse, Joodse en heidense minderhede gekersten en het hulle volgens Ortodokse rituele feesgevier en met geboortes, troues en begrafnisse Ortodokse rituele gevolg. Baie kerkgebruike was egter van heidense oorsprong of gekenmerk deur bygelowe, wanorde of dronkenskap.

Die hoofdoel van hervormers in die 16de eeu was om heidense rituele en gelowe uit te roei en die liturgie deur die hele Moskouse ryk te standaardiseer. Dit het gelei tot die hou van die Stoglaf-sinode, of Sinode van Honderd Hoofstukke, 'n Russiese konsilie van 1551 waarvan die besluite (die Stoglaf) in die laat 16de en vroeë 17de eeu die basis van Ortodokse rituele en liturgie gevorm het. Dié sinode het baie gewilde godsdienspraktyke verbied, onder meer polifonie (veelstemmigheid, of die gelyktydige uitvoering van verskillende dele van die liturgie). Tekste wat van die destydse geskrifte van die Griekse kerk verskil het, is ook goedgekeur.

Nikon se hervormings Tydens die bewind van Aleksei Michailowitsj (1645-'76) het die jong tsaar en sy biegvader, Stefan Wonifatijef, 'n groep van hoofsaaklik niemonastiese kerklui gestig bekend as Dwepers van Vroomheid. Die lede het aartspriester Awwakoem as stigterslid ingesluit, asook die toekomstige patriarg Nikon, wat in 1649 aangesluit het. Hulle aanvanklike doel was om nuwe lewe in die gemeentes te blaas deur middel van effektiewe prediking en die afdwing van die kerk se morele leerstellings. Om te verseker die liturgie word korrek gevier, moes sy oorspronklike en ware vorm vasgestel word, maar die manier waarop Nikon dit gedoen het, het dispute tussen hom en ander hervormers veroorsaak.

thumb|260px|links|Patriarg Nikon hersien kerkboeke, deur Aleksei Kifsjenko. In 1646 het Nikon tsaar Aleksei die eerste keer ontmoet en dié het hom dadelik aangestel as hoofab van die Nowospasskiklooster in Moskou. In 1649 is Nikon ingehuldig as die metropolitaan van Nowgorod en in 1652 het hy die Patriarg van Moskou geword. In sy tyd in Nowgorod het Nikon die idee begin ontwikkel dat die verantwoordelikheid vir die spirituele gesondheid van Rusland dié van die senior kerkleiers is en nie die tsaar nie. Toe hy patriarg word, het hy begin om die Kerk se administrasie te reorganiseer sodat dit geheel en al onder sy eie beheer is.

Teen die middel van die 17de eeu het Griekse en Russiese kerkamptenare, insluitende Nikon, agtergekom daar is verskille tussen die gebruike in die Russiese en Griekse Kerk. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom die Russiese Kerk het, weens kopiëring deur onbewame skrywers, rites en geskrifte ontwikkel wat aansienlik van die Griekse Kerk s'n verskil. Die Russiese Kerk was dus nie meer in gemeenskap met die res van die Ortodokse kerke nie.Kapterev, N. F., 1913, 1914.

Die onhersiene Moskouse diensteboeke is gekopieer van 'n ander, ouer Griekse weergawe as die een wat toe in die Griekse Kerk gebruik is. Laasgenoemde weergawe is oor die eeue hersien en vernuwe. Nikon wou dié nuwer weergawe in Rusland gebruik, nes die ander Slawiese lande (toe Oekraïne en Belarus, wat deel van die Pools-Litause Gemenebes was). Dit was vir Nikon onaanvaarbaar dat daar in dieselfde kerk twee verskillende ritusse kan wees.

Nikon, wat deur tsaar Aleksei ondersteun is, het in 1652 ’n sinode saamgestel om Russiese en Griekse liturgiese boeke met mekaar te vergelyk. Kloosters oor die hele Rusland is versoek om voorbeelde na Moskou te stuur sodat hulle ontleed kon word. So 'n enorme taak sou baie jare geduur het, veral in ag genome die ingewikkeldheid van die ontwikkeing van die Russiese liturgiese tekste oor verskeie eeue heen en die destydse gebrek aan tegnieke om tekste te vergelyk.

Sonder om te wag vir die voltooiing van enige vergelykende studies, het Nikon die besluite van die Stoglaf-sinode verwerp en opdrag gegee vir die druk van nuwe weergawes van die Russiese psalm- en misboek, asook 'n pamflet om sy veranderings te verduidelik. Die nuwe weergawes het die mees dikwels gebruikte woorde en sigbare tekens in die liturgie verander, soos die uitspraak van Christus se naam en hoe om die kruisteken te maak. Verder het die oordonderende manier waarop Nikon die veranderings deurgedwing het, vir Awwakoem en die ander lede van die Dwepers van Vroomheid teen hom laat draai. Hulle proteste is begroet met ekskommunikasie en verbanning, en in somme gevalle tronkstraf of teregstelling.

Die hervormers was nie ten gunste van alle veranderings nie; hulle het gedink van die Russiese seremoniële praktyke is aanvaarbaar. Daarbenewens het die haastig gedrukte nuwe weergawes ongerymdhede bevat en hulle moes herhaardelik kort ná mekaar herdruk word in 'n poging om dit reg te stel. Eerder dat hulle hersien is volgens antieke Slawiese en Griekse manuskripte, is die nuwe weergawes eintlik van moderne Griekse tekste vertaal wat in die Katolieke Venesië gedruk is.

thumb|260px|links|'n Toneel uit die tyd van die raskol, deur Sergei Iwanof. Die locum tenens vir patriarg Pitirim van Moskou het in 1666 die Groot Moskouse Sinode byeengeroep. Patriarge Macarius III Ibn al-Za'im van Antiogië, Paisius van Aleksandrië en baie biskoppe het daarvoor na Moskou gereis. Sommige geleerdes beweer die twee patriarge het goud en pelse van baie duisende roebels vir hulle deelname gekry. Dié sinode het die hervormings bekragtig en die banvloek opgelê nie net aan die mense wat dit teengestaan het nie, maar ook aan die ou boeke en rites self. 'n Newe-effek van die veroordeling van 'n deel van die verlede van die Russies-Ortodokse Kerk en sy tradisies was dat dit die uitbeelding van Moskou as die Derde Rome verswak het. In plaas van die bewaarder van die Ortodokse geloof, het Moskou voorgekom as 'n ophoping van ernstige liturgiese blapse.

Daar word gereken min veranderings was werklik noodsaaklik. Nikon het nie net 'n klomp veranderings aangebring wat net hy as nodig beskou het nie, maar het ook beweer sommige Russiese praktyke grens aan kettery. Patriarg Paisios van Jerusalem het hom selfs gemaan teen oorhaastige besluite om dinge te verander en gesê verskille in rituele dui nie noodwendig op foute nie; 'n mens moet in ag neem dat die verskille mettertyd ingesluip het.

Beide die patriarg en tsaar was haastig om die hervormings deur te voer, hoewel hulle oortuigings waarskynlik godsdienstig én polities was; die tsaar het ambisies gehad om die bevryder te word van die Ortodokse streke wat toe deel van die Ottomaanse Ryk gevorm het. Kenners noem ook die rol van die Nabye Oosterse pariarge, wat die idee ondersteun het dat die tsaar die bevryder van alle Ortodokse Christene word en wat voorgestel het patriarg Nikon kan die nuwe patriarg van Konstantinopel word.

Belangrikste veranderings Die talle veranderinge het sowat 400 bladsye beslaan. Die meeste was klein en klink vandag dalk onbelangrik, maar destyds het dit die Ortodokse Christene se hele geloof geraak. Van die belangrikste veranderinge waarteen die Ougelowiges was, is: Die spelling van Jesus van Ісусъ [Isus] tot Іисусъ [Iisus] Veranderings in die bewoording van die geloofsbelydenis Die maak van die kruisteken met twee vingers tot drie vingers Die rigting van die prosessie van kloksgewys na antikloksgewys Die herhaling van "Halleluja" ná Psalms van twee tot drie keer

Dié wat teen die hervormings was, was net so gekant teen die manier waarop die veranderings aangebring is as die veranderings self. Veranderings aan die tekste was ook willekeurig. Waar daar Христосъ ("Christus") in die boeke gestaan het, het Nikon se assistente dit met Сынъ ("die Seun") vervang, en Сынъ is vervang met Христосъ. Nog 'n voorbeeld is dat die woord Церковь ("Kerk") telkens met Храмъ ("Tempel") vervang is, en omgekeerd.

Die skeuring