Papoea-Nieu-Guinee (PNG; Engels: Papua New Guinea; Tok Pisin: Papua Niugini; Hiri Motu: Papua Niu Gini), amptelik die Onafhanklike Staat Papoea-Nieu-Guinee (Engels: Independent State of Papua New Guinea, Tok Pisin: Independen Stet bilong Papua Niugini, Hiri Motu: Independen Stet bilong Papua Niu Gini), is ’n eilandstaat in Oseanië net suid van die ewenaar met ’n oppervlakte van 462 840 km² en ’n bevolking van 9 819 350 in 2023. Papoea-Nieu-Guinee is oos van Indonesië, suidoos van Palau, suid van die Gefedereerde State van Mikronesië, wes van Nauru en die Salomonseilande en noord van Australië geleë. Die hoofstad en grootste stad is Port Moresby wat in die suide van die land langs die Koraalsee geleë is en die Nasionale Hoofstaddistrik (Engels: National Capital District, NCD) vorm.
duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Papoea-Nieu-Guinee duimnael|links|Kaart van Papoea-Nieu-Guinee duimnael|links|Kaart van Papoea-Nieu-Guinee Papoea-Nieu-Guinee is naas Madagaskar en Indonesië die derde grootste eilandstaat in die wêreld. Dit bestaan uit die oostelike deel van die eiland Nieu-Guinee, wat die grootste deel vorm, die Bismarckargipel met groot eilande soos Nieu-Brittanje en Nieu-Ierland asook die outonome gebied rondom die eiland Bougainville, wat geografies, maar nie polities nie tot die Salomonseilande behoort. Naas al die eilande word die Papoea-Nieu-Guinese geografie veral deur die Bismarcksee in die noorde en die Salomonssee in die suidooste gekenmerk. Van die eilandstaat se langste riviere is die Fly en die Sepik. Albei riviere ontspring in die sentrale Viktor Emmanuel-bergreeks in die Westelike provinsie; terwyl die Fly in die suidelike Koraalsee uitmond, vloei die Sepik in die noordelike Bismarcksee.
Papoea-Nieu-Guinee is ’n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond met Charles III as staatshoof. Die land het op 16 September 1975 van Australië onafhanklik geword, nadat Papoea-Nieu-Guinee deur sy suidelike buurland vir sowat 60 jaar regeer is. Tot die Eerste Wêreldoorlog is die eiland Nieu-Guinee deur drie koloniale magte beheers: Die Duitse Keiserryk in die noorde, die Verenigde Koninkryk in die suide en Nederlands-Indië in die weste. Op 1 Julie 1949 is die Australiese gebiede van Papoea en Nieu-Guinee as die Gebied Papoea en Nieu-Guinee saamgesluit. Dit is sedert 1976 ’n waarnemerland van ASEAN en het in 2015 sy aansoek ingedien vir volle lidmaatskap.
Papoea-Nieu-Guinee is een van die kultureel mees diverse lande in die wêreld. Hier word 840 verskillende tale gepraat, waaronder die Engelse kreooltaal Tok Pisin, die Austronesiese taal Hiri Motu en verskeie Papoeastale wat nie ’n taalfamilie in sy eie reg vorm nie, maar ook nie tot een van die ander taalfamilies behoort nie. Die Trans-Nieu-Guinese tale is die grootste taalfamilie binne die Papoeastale.
Etimologie Die woord papua is afgelei van ’n ou plaaslike term met ’n onbekende herkoms. “Nieu-Guinee” (Nueva Guinea) was die benaming wat deur die Spaanse ontdekkingsreisiger Yñigo Ortiz de Retez gegee is. In 1545 het hy na die ooreenkoms van die mense met dié wat hy voorheen langs die Guinese kus van Afrika gesien het verwys. Guinee, op sy beurt, is etimologies ontleen aan die Portugese woord Guiné. Die naam is een van verskeie toponieme met ’n gemeensame etimologie, met die oorspronklike betekenis “land van die swartes” of ’n soortgelyke, en verwys na die donker velkleur van sy bevolking.
Geskiedenis Voorgeskiedenis duimnael|links|Kerepunu-vroue op die markplein van Kalo, Brits-Nieu-Guinee, 1885 duimnael|Vroulike gewelbeeld, ’n voorbeeld van Oseaniese kuns in die Bishop-museum duimnael|Britse anneksasie van Suidoos-Nieu-Guinee in 1884 Volgens argeologiese opgrawings het die eerste mense hulle sowat 42 000 of 45 000 jaar gelede in Papoea-Nieu-Guinee gevestig. Hulle was nasate van migrante uit Afrika en hulle het hulle in een van die eerste migrasiebewegings in die geskiedenis van die mensdom kom vestig.
Die landbou is apart van ander streke rondom 7000 v.C. in die Nieu-Guinese hooglande ontwikkel, wat van Papoea-Nieu-Guinee een van min streke wêreldwyd maak, waar mense op hul eie plante gekweek het. Rondom 500 v.C. het Austronesiese volke tydens ’n grootskaalse migrasie hulle langs kusgebiede van Nieu-Guinee gevestig. Dit het met die invoering van pottebakkery, varke en sekere hengeltegnieke gepaard gegaan.
Gedurende die 18de eeu het handelaars Patats na Nieu-Guinee gebring, waar dit aangeneem is en deel van die krammetjies geword het. Portugese handelaars het dit van Suid-Amerika saamgeneem en op die Molukke-eilande ingevoer. Die veel hoër oesopbrengste uit patattuine het die tradisionele landbou en samelewing radikaal verander. Patats het die vorige stapelvoedsel, taro, grootliks vervang, en tot ’n groot bevolkingsgroei in die hooglande gelei.
Alhoewel teen die laat 20ste eeu koppesnellery en kannibalisme prakties uitgeroei is, is hulle in die verlede in baie dele van die land as deel van rituele wat met oorlogvoering verband gehou het en waarin vyandelike geeste of magte ingeneem is, beoefen. In 1901 het die sendeling Harry Dauncey sowat 10 000 skedels in die langhuise op Goaribari-eiland in die Golf van Papoea ontdek, ’n voorbeeld van verlede praktyke. Marianna Torgovnick het in 1991 die volgende geskryf: “Die mees gedokumenteerde gevalle van kannibalisme as ’n sosiale instelling kom uit Nieu-Guinee, waar kopjag en rituele kannibalisme in sekere afgesonderde gebiede oorleef het tot in die vyftiger-, sestiger- en sewentigerjare, en steeds spore binne sekere sosiale groepe oorlaat.”
Europese inmenging Tot in die 19de eeu was in Europa min bekend oor die eilande, alhoewel Portugese en Spaanse ontdekkingsreisigers soos Jorge de Menezes en Yñigo Ortiz de Retez van die eilande reeds in die 16de eeu verken het. Handelaars van Suidoos-Asië het Nieu-Guinee 5000 jaar gelede begin besoek om Paradysvoëlvere te versamel.
Kolonialisme duimnael|Nieu-Guinee tussen 1884 en 1919. Die Duitse Keiserryk en Groot-Brittanje beheer die oostelike helfte van Nieu-Guinee Die land se dubbelnaam het sy oorsprong in die komplekse administratiewe geskiedenis voor sy onafhanklikheid. Die Nederlanders het die westelike deel van die eiland in 1828 verower, terwyl die oostelike deel nog nie deur koloniale magte verower is nie. Die Duitse Keiserryk en die Verenigde Koninkryk het egter ’n wedloop om die vrye deel van die eiland begin. Nadat Duitse kapteins en die ornitoloog Otto Finsch langs die noordkus vlae gehys het, het albei lande in 1885 ooreengekom om die oostelike helfte van die eiland weereens in twee te deel.
Die noordelike deel is Keiser-Wilhelm-Land genoem en as ’n “beskermde gebied” deur ’n groot Duitse koloniale geselskap, die Nieu-Guinee-Kompanjie, beheer. In 1914 het, ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, Australiese troepe Duits-Nieu-Guinee tydens ’n klein militêre veldtog verower en regdeur die oorlog beset. Ná die oorlog, waarin Duitsland en die ander Sentrale Moondhede verslaan is, het die Volkebond Australië gemagtig om dié gebied, wat nou as Gebied Nieu-Guinee bekend gestaan het, as ’n Volkebondmandaat te administreer.
Die suidelike helfte van die land is vanaf 1884 deur die Verenigde Koninkryk as Brits-Nieu-Guinee gekoloniseer. Met die Papoea-Wet van 1905 oorhandig die Verenigde Koninkryk dié gebied aan die nuut gestigte Gemenebes Australië, wat die administrasie oorgeneem het. In 1905 is Brits-Nieu-Guinee na Gebied Papoea hernoem. In teenstelling met die vestiging van ’n Australiese mandaat in die voormalige Duits-Nieu-Guinee het die Volkebond bepaal dat Papoea ’n eksterne gebied van die Australiese Gemenebes sou wees; dit het as ’t ware ’n Britse besitting gebly. Die verskil in hul regstatus het meegebring dat Papoea en Nieu-Guinee tot in 1949 heeltemal aparte administrasies gehad het, en albei is deur Australië beheer. Hierdie voorwaardes het bygedra tot die kompleksiteit van die organisering van die land se regstelsel ná sy onafhanklikheid.
Tweede Wêreldoorlog duimnael|Australiese troepe val Japannese posisies aan gedurende die Slag van Buna-Gona, 7 Januarie 1943 In Desember 1941 het Japannese troepe die noorde van die eiland verower en beheer oorgeneem. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die Nieu-Guinese veldtog (1942–1945) een van die belangrike militêre veldtogte tussen die Japannese Keiserryk en die Geallieerdes. Die hoofstad Port Moresby het tydelik as hoofkwartier van die Amerikaanse generaal Douglas MacArthur gedien. Omtrent 216 000 Japanese, Australiese en Amerikaanse soldate het gesneuwel. Langs die kus kan nog baie skeepswrakke uit hierdie tydperk aangetref word. Ná die Tweede Wêreldoorlog en die oorwinning van die Geallieerdes is die twee gebiede tot die Gebied Papoea en Nieu-Guinee saamgevat. Ná dié gebied is later as “Papoea-Nieu-Guinee” verwys.
Die westelike deel van die eiland was tot in 1962 onder Nederlandse beheer (Nederlands-Indië) en is toe deur Indonesië geannekseer (provinsies Papoea en Papoea Barat).
Die inheemse bevolking van Papoea het by die Verenigde Nasies vir toesig en onafhanklikheid gepleit. Op 16 September 1975 het die land sy onafhanklikheid van Australië verkry en ’n Britse realm met Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk as sy staatshoof geword. Papoea-Nieu-Guinee handhaaf ’n noue verbintenis met Australië, wat as dié land se grootse hulpskenker optree. Papoea-Nieu-Guinee het op 10 Oktober 1975 ’n lidland van die Verenigde Nasies geword.
Bougainville duimnael|’n Australiese patrolliebeampte in 1964 ’n Sessionistiese opstand op Bougainville in 1975–76 het tot ’n elfuur-wysiging aan die konsepgrondwet van Papoea-Nieu-Guinee gelei, waarvolgens Bougainville en die ander agtien distrikte ’n kwasi-federale status as provinsies verkry het. In 1988 het op Bougainville ’n nuwe opstand uitgebreek wat tot sy beëindiging in 1997 sowat 20 000 lewens geëis het. Bougainville was die primêre mynstreek van die land en het sowat 40% van die nasionale begroting bygedra. Die inheemse volke het gevoel dat hulle die nadelige gevolge van die mynbou, wat die land, water en lug vergiftig het, dra sonder om ’n billike deel van die winste te verkry.
Die regering en rebelle het ’n vredesooreenkoms uitgevaardig, waarvolgens die Outonome Distrik en Provinsie Bougainville gestig is. Die outonome Bougainville het in 2005 Joseph Kabui as president verkies wat tot en met sy dood in 2008 gedien het. Hy is deur sy adjunk John Tabinaman as waarnemende president opgevolg, terwyl ’n verkiesing vir die onverstroke termyn gereël is. James Tanis het dié verkiesing in Desember 2008 gewen en tot die inhuldiging van John Momis, die wenner van die 2010-verkiesings, gedien. As deel van die huidige vredesooreenkoms is tussen 23 November en 7 Desember 2019 ’n niebindende onafhanklikheidsreferendum gehou. Die vraag van die referendum was oor groter outonomie binne-in Papoea-Nieu-Guinee of volle onafhanklikheid vir Bougainville, en die meerderheid aan stemgeregtigdes (98,31%) het vir Bougainville se volle onafhanklikheid gestem.
Chinese minderheid duimnael|Begraafplaas vir Chinese soldate wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Papoea-Nieu-Guinee gesneuwel het Verskeie Chinese werk en bly in Papoea-Nieu-Guinee en hulle het Chinese gemeenskappe in dié land gevestig. Chinese handelaars het hulle reeds voor die Europese verkenning op die eiland gevestig. In Mei 2009 het Anti-Chinese onluste, waaraan derduisende mense deelgeneem het, uitgebreek. Die aanvanklike vonk was ’n geveg tussen Han-Chinese en inheemse werknemers by ’n nikkelfabriek wat deur ’n Chinese maatskappy gebou is. Inheemse wraak teen die Chinese eienaarskap van talle klein ondernemings en hul kommersiële monopolie op die eilande het tot die oproer gelei. Die Chinese is al lank handelaars in Papoea-Nieu-Guinee.
Aardbewings