Maria (Marie) Margaretha Koopmans-de Wet (Kaapstad, 18 Maart 1834 – Kaapstad, 2 Augustus 1906) was 'n kampvegter vir Afrikanerregte, kultuurleidster, patriotiese weldoener, vermaarde Kaapse gasvrou en beskermvrou van die kunste.

Reeds as jong dogter is sy aangegryp deur die lotgevalle van die Voortrekkers, die totstandkoming van die Boererepublieke en die Anti-Bandietebeweging, almal gebeurtenisse wat bygedra het om 'n vurige patriotisme te ontwikkel. Haar woning by Strandstraat 23 sou in latere jare die bymekaarkomplek word van vooraanstaande Kaapse inwoners en selfs Boerepresidente. Sy het daarna gestrewe om die Kaaps-Hollandse tradisies en leefwyse in ere te hou deur haar te beywer vir die bewaring van die volkseie, beskerming van die inheemse flora en die bewaring van die Kasteel. Sy het ook 'n wesentlike bydrae gelewer tot die uitbouing van die Hollandse taal, maar dit was veral tydens die Tweede Vryheidsoorlog dat haar volksdiens tot 'n hoogtepunt gevoer is. Haar woning het terselfdertyd die versamelplek geword van goedere wat vir die Boerekrygsgevangenes sowel as die konsentrasiekampe bestem was.

Agtergrond en kinderjare Sy en haar suster, Margaretha Jacoba, het as kinders 'n puik opvoeding ontvang by hulle vader, adv. Johannes de Wet. Hy het ook grootgeword in die nou bekende verdiepinghuis by Strandstraat 23, die sogenaamde Koopmans-de Wet-huis. Die grond waarop die huis staan, is in die tyd van Willem Adriaan van der Stel aan Reynier Smedinga toegeken en die huis is in 1701 opgerig. Volgens oorlewering was dit 'n skeepskaptein wat die huis gebou en die boumateriaal op sy laaste reis uit Europa met hom saamgebring het. Daar is geen bewyse in die beskikbare bronne dat die beroemde argitek Louis Thibault of beeldhouer Anton Anreith die front van die huis omstreeks 1795 in sy huidige vorm gebou het nie. Dis nietemin 'n treffende voorbeeld van die streng klassieke styl aangepas by die Hollandse tradisie.

Ná die dood van Hendrik Justinus de Wet het sy weduwee in 1809 hierdie huis gekoop. Die oudste van haar drie seuns, Johannes, het later advokaat geword. Hy was 15 jaar lank lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering nadat hy aan die Universiteit van Leiden in Romeinse en Franse reg gepromoveer het en was aktief in die opvoeding, politiek en talle ander sfere van die openbare lewe aan die Kaap, soos die stryd om persvryheid en die stigting van die Zuid-Afrikaansch Athenaeum. Onder die vele belangrike besoekers aan Strandstraat 23 was mense soos dr. Abraham Faure (van 1822 tot 1867 leraar van die NG gemeente Kaapstad), Andries Stockenström (luitenant-goewerneur van die Oostelike Provinsie), John Fairbairn (kampvegter vir persvryheid, opvoedkundige, finansier en politikus) en William Porter (prokureur-generaal van die Kaapkolonie van 1839 tot 1866, na wie Porterville genoem is).

Adv. De Wet se suster was getroud met sir John Truter, die eerste hoofregter van die Kaapkolonie en stigter van die NG gemeente Wynberg. Haar moeder was Adriana Horak, 'n kleindogter van Martin Melck, die stamvader van die Melck-familie in Suid-Afrika. As kind het sy gesien hoe haar ouma Melck met haar draagstoel tot voor die Lutherse kerk, ook in Strandstraat, gedra word en die hele gemeente opstaan terwyl die dogter van Martin Melck statig na haar ereplek in die kerk stap, vooruitgegaan deur 'n bediende wat haar voetstofie dra en gevolg deur nog een wat haar kerkboeke bring. Dié deftige vernaamheid het Marie by haar grootmoeder geërf en dit was een van haar blywendste kenmerke, hoewel haar verstandelike gawes ewe uitsonderlik was. Sy het ook 'n besonderse sterk wil en beslistheid van optrede gehad. Haar oordeel was buitengewoon helder en vir volksake het sy altyd 'n warm hart gehad.

duimnael|links|200px|'n Linosnee van Marie Koopmans-de Wet, gemaak ter illustrasie van die lewenskets oor haar deur Anna de Villiers in die boekie Vrouegalery. Nadat sy van die ouderdom van sewe ds. Johannes Spijker se Hollandse skool bygewoon het en 'n tyd lank tuis onderrig is, het Marie in haar 13de jaar na die Engelse privaat skool van mev. Midgley in Breestraat gegaan en sowat anderhalf jaar daar onderrig ontvang, veral met die doel om Engels te leer. Haar vader het groot waarde aan die kennis van vreemde tale geheg en later is sy en haar suster deur 'n privaat leermeester tuis Duits en Frans geleer. Uiteindelik het sy ook Italiaans geleer.

Op rype leeftyd het sy eenkeer 'n artikel in Hollands vertaal wat in 'n Italiaanse nuusblad verskyn het oor pres. Paul Kruger. Dit is in die plaaslike koerant Ons Land (volgens die geraadpleegde bron, maar bedoel waarskynlik De Zuid-Afrikaan vereenigd met Ons Land) gepubliseer. Al dié tale het haar ook goed te stand gekom tydens haar twee besoeke aan Europa.

Ook in musiek, skilder en naaldwerk het sy onderrig ontvang, kundighede wat destyds in die mode was as deel van 'n jong dame se opvoeding. As jong meisie was sy mooi en aantreklik en die portrette wys dat sy 'n besonder fyn sin vir die mode van die tyd gehad het. Maar haar innerlike skoonheid, wat gestraal het uit haar sagte blou oë en vriendelike glimlag, het getuig van haar innemende geaardheid.

duimnael|280px|As kind in die 1830's, toe dié skets van Strandstraat gemaak is, het Marie Koopmans-de Wet gesien hoe haar ouma Melck met haar draagstoel tot voor die Lutherse kerk gedra word en die hele gemeente opstaan terwyl die dogter van Martin Melck statig na haar ereplek in die kerk stap.

Die Anti-Bandietebeweging was die oorheersende gebeurtenis in haar kinderjare. Dit was 'n spontane verset in 1849 teen die Britse regering se voorneme om die Kaap as strafkolonie te gebruik vir 'n skeepslading veroordeelde misdadigers, wat vrygelaat sou word nadat hulle hul vonnis uitgedien het. Haar biograaf en persoonlike vriend, sen. F.S. Malan, skryf dat hierdie beweging om die Kaap te vrywaar van die lot van 'n strafkolonie "waarskynlik meer as enigiets anders bygedra het tot die ontwaking van 'n gevoel van vaderlandsliefde in die hart van Marie".

Van kleins af het sy haar vader se leidende aandeel in al sy bedrywighede gevolg, byvoorbeeld die beweging om 'n parlementêre Grondwet vir die Kaapkolonie te verkry. Dit was veral omdat hul woning die middelpunt van tale byeenkomste oor belangrike landsake was. Sy het ook die lotgevalle van die Voortrekkers en die erkenning van die onafhanklikheid van die Transvaalse Boere in 1852 en die Oranje-Vrystaat in 1854 met belangstelling gevolg. Dit het 'n nasionale bewuswording meegebring in die gemoed van die jong meisie met 'n kragtige persoonlikheid en mettertyd het sy bekend geword om haar sterk patriotiese insigte. Later jare sou sy haar gesondheid opoffer aan 'n selfopgelegde taak van barmhartigheid om die geskenke en geriewe oor te pak en te versend wat die land ingestroom het ten behoewe van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog asook die krygsgevangenes op St. Helena, Ceylon en elders, toe Marie reeds bejaard was.

Troue duimnael|links|280px|Langstraat in Kaapstad omstreeks 1850, toe Marie Koopmans-de Wet enkele straatblokke daarvandaan onderrig aan mev. Midgley se Engelse skool gekry het.

Op 15 Maart 1864 het sy getrou met Johan Christoffel Koopmans, 'n Nederlander van geboorte en aanvanklik offisier in die Brits-Duitse Legioen onder bevel van baron Richard von Stutterheim (na wie die Oos-Kaapse dorp Stutterheim genoem is) aan die oostelike grens van die kolonie. Hy het met 'n aanbevelingsbrief van 'n vriend van adv. De Wet in Holland by die verdiepingwoning in Strandstraat opgedaag. Hy het aanvallige maniere, 'n gesellige geaardheid en 'n flinkheid van optrede gehad. Die goewerneur, sir George Grey, het hom die betrekking van buitelandse korrespondent-klerk in die hoofposkantoor aangebied omdat hy ses Europese tale magtig was, en die jong egpaar het in Waalstraat gaan woon, maar toe Koopmans se pos as besuinigingsmaatreël tydens die depressie van 1867 afgeskaf word, het hulle na haar ouerhuis teruggekeer. Dit was ook omdat hulle kinderloos was en Marie se moeder se gesondheid agteruit begin gaan het. Ná agt maande is hy egter as ampswag (Draer van die Swart Roede) in die Kaapse Wetgewende Vergadering aangestel.

Kort daarna is Marie se moeder oorlede, waarna die sorg van die huishouding oorgegaan het op die ongetroude Margaretha; en op 15 Junie 1875 ook haar vader. Slegs vier jaar later, in 1879, het ook haar geliefde eggenoot gesterf (aan 'n nierkwaal), 'n slag wat sy nooit heeltemal te bowe gekom het nie, soos daaruit blyk dat sy nooit weer haar rouklere afgelê het nie. Sy en haar suster het bly woon in die ouerhuis in Strandstraat en, hoewel nie ryk nie, was hulle in staat om hul sosiale status te handhaaf.

In 1881 het hulle 'n reis na verskeie Europese lande onderneem en die familielede van haar oorlede man leer ken, onder wie die latere redakteur van Die Volkstem dr. Frans Engelenburg. Op hierdie reis het sy in gesiene kringe beweeg en is selfs aan die hof van koning Willem III van Nederland ontvang. Toe hy enkele jare later sterf, het sy 'n persoonlike brief van leedbetuiging aan koningin Emma gerig en 'n pragtige krans gestuur.

Hulle reis na Europa het by die susters groot innerlike vernuwing gebring, want by hul terugkeer aan die Kaap rig die twee susters hul lewenswyse ruimer in. Ná 'n tweede besoek aan Europa word dit vir hulle duidelik dat hulle hul afgesonderde bestaan moet beëindig en weer, soos in die ou dae, gaste in hul huis moet verwelkom. Mettertyd word hul woning dan ook vanweë die sjarme en sprankelende geestesvermoëns van die gasvrou as die Strandstraatse salon bekend. Sy versamel kunsvoorwerpe en stel haar ten doel om die Kaaps-Hollandse tradisies op statige wyse in ere te hou. Juis daarom ontvang sy vreemdelinge, veral Engelse, om dit duidelik te maak dat grootmoedigheid 'n inherente karaktertrek van haar volk is. Op kultuurgebied skep sy nou geleentheid in hul huis vir jong mense van sowel Engelse as Hollandse afkoms om 'n reeks kameropvoerings met musiek te reël.

Gesiene vriende duimnael|240px|regs|Marie Koopmans-de Wet as 'n jong vrou. In haar ouerhuis het sy gedurig kontak gehad met vooraanstaande Kaapse figure, soos sir John Truter, haar oom. Die Prince Imperial, seun van Napoleon III en keiserin Eugenie, het tydens sy kort verblyf aan die Kaap op pad na Zoeloeland met Marie kennis gemaak. Toe hy so skielik sneuwel, het Marie namens die vroue en moeders van die Kaap 'n hartroerende brief aan die keiserin gestuur om hul meegevoel met haar te betuig. Op politieke gebied het sy staatsmanne geken soos sir Henry Bartle Frere en Cecil John Rhodes. Laasgenoemde het op 'n keer van haar gesê: "Ek vrees haar meer as die hele Afrikanerbond". Die gebeure in Transvaal tydens die Jameson-inval het egter 'n einde aan die besoeke van Rhodes aan die Koopmans-de Wet-huis gebring.

Deur vriende het hy probeer om 'n geleentheid te kry om 'n uitleg van die inval vir haar te gee, maar sy het geantwoord: "Laat mnr. Rhodes die uitleg wat hy aan my wil gee op 'n openbare platform maak." Jan Hendrik Hofmeyr was 'n persoonlike vriend van die susters, soos ook die Boerepresidente Jan Brand, F.W. Reitz, Paul Kruger en M.T. Steyn. Later kom ook sen. F.S. Malan, Marie se biograaf, by. Mettertyd is daar na haar huis verwys as die voorportaal van die Afrikanerbond.

Sy het ook die stigting van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (A.C.V.V.) voorgestaan, maar het haar later onttrek daaraan omdat haar wens dat alle vroue daarby betrek moes word, ook Rooms-Katolieke vroue, nie aanvaar is nie. Haar standpunt het getuig van grootmoedigheid: "Het Christendom sluit niet uit, maar in. Hoe ver wij ook door formulieren of menselijke uitleggen uit elkaar gaan, in die Bijbel worden wij weer verenigd."

Bewaringsbewuste duimnael|links|180px|Sen. F.S. Malan, hier afgeneem in 1904, was een van die gesiene vriende wat gereeld by Marie Koopmans-de Wet en haar suster, Margaretha de Wet, gekuier het by Strandstraat 23.