Hierdie artikel handel oor die Kanadese nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Kanadese nasionale vrouerugbyspan.
Die Kanadese nasionale rugbyspan (Engels: Canada national rugby union team; Frans: Équipe du Canada de rugby à XV) is die nasionale rugbyspan wat Kanada in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span dra die byname Canucks en Les Rouges. Rugby word in Kanada geadministreer deur Rugby Kanada (Engels: Rugby Canada, RC; Frans: Fédération canadienne de rugby à XV) wat in 1974 gestig is. Kanada word as die derde beste rugbyspan in die Amerikas beskou (ná Argentinië en die Verenigde State) en deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Kanada is tans (September 2025) 24ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Twee voormalige Kanadese rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Kanada het in 1932 sy internasionale rugbydebuut teen Japan gemaak. Kanada tot dusver vir nege van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en slegs die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk misgeloop; tydens die 1991-toernooi het hulle daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Van 2003 tot 2011 het hulle deelgeneem aan die Churchillbeker, sedertdien speel Kanada gereeld in die Stille Oseaan-nasiesbeker, waar hulle teen Fidji, Japan, Samoa, Tonga en die Verenigde State te staan kom. Sedert 2016 neem Kanada ook deel aan die jaarlikse Amerikaanse Rugbykampioenskap, saam met die tweede Argentynse span, Brasilië, Chili, Uruguay en die Verenigde State. Kanada speel tradisioneel in rooi truie met wit kleuraksente, wit broeke met rooi strepe en rooi sokkies met wit strepe – wat aan die kleure van die vlag van Kanada ontleen is.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Kanada is Rugby Kanada (Engels: Rugby Canada, RC; Frans: Fédération canadienne de rugby à XV). Rugby Kanada is in 1974 gestig en het in 1987, net voor die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was Rugby Kanada in 2001 ’n stigterslid van die Noord-Amerikaanse en Wes-Indiese Rugbyvereniging (North America and West Indies Rugby Association, NAWIRA; nou Rugby Amerikas Noord, RAN), nadat Kanada en die Verenigde State by die Wes-Indiese Rugbyvereniging (West Indies Rugby Association, WIRA) aangesluit het.
Van 2019 tot 2023 het met die Toronto Arrows ’n Kanadese span aan die Major League Rugby, ’n Amerikaanse professionele liga, deelgeneem. Die meeste spelers van die Kanadese nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in Frankryk op professionele vlak aktief. Daarbenewens word die amateurtoernooi tussen die tien provinsiale beheerliggame beslis, waarvan dié uit Brits-Columbië as sterkste beskou word. Van 2009 tot 2018 is die Kanadese Rugbykampioenskap tussen vier plaaslike keurspanne beslis.
Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Kanada ook ander keurspanne byeen. Canada A is die tweede nasionale span van Kanada en hulle het tot in 2016 aan die Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem, voordat hulle na Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi oorgeskakel het. Die Canada Sevens is die Kanadese sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en Statebondspele deel. Net soos ander rugbylande beskik Kanada oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby duimnael|Die Harvard–McGill-wedstryd van 1874 Van 1823, toe William Webb Ellis by die Engelse Rugby-skool glo die spel uitgedink het, het Britse immigrante, lede van die regimentsleërs en die Britse Vloot relatief vinnig vroeë en grootliks ongekodifiseerde vorme van rugby na Oos-Kanadese stede soos Halifax, Montreal en Toronto saamgeneem, hoewel die afbakening met sokker nie duidelik was nie. In 1864 het die Trinity College in Toronto die eerste gekodifiseerde stel reëls in Kanada gepubliseer en in die volgende jaar het in Montreal (retrospektief) die eerste bekende rugbywedstryd plaasgevind, toe Britse beamptes en burgerlikes (veral leerlinge van die McGill Universiteit) teen mekaar gespeel het.
Van omtrent 1870 het in Montreal ’n hibriede vorm uit sokker en rugby ontstaan. Veral die McGill Universiteit, wie se span op 15 Mei 1874 in Cambridge, Massachusetts teen die Harvard-universiteit gespeel het, het ’n sterk invloed op die verdere ontwikkeling uitgeoefen. Aangesien hul stel reëls van mekaar verskil het (albei universiteite het na hul balspel as Rugby football verwys), het hulle daarop besluit om een wedstryd elk na elkeen se reëls te speel. As gevolg van die wedersydse invloed het mettertyd twee nuwe Gridiron-variasies ontstaan: Amerikaanse voetbal en Kanadese voetbal. Vervolgens het in Kanada talle klubs ontstaan wat Rugby football uitgeoefen het. Aangesien albei weergawes aanvanklik nog baie naby aan mekaar was, was dit in baie gevalle egter nie duidelik of hulle die gewone rugby of die ontwikkelende Kanadese voetbal uitgeoefen het nie. Die verskynsel dat baie nuutgestigte provinsiale beheerliggame die terme „Rugby Football Union“ of „Rugby Union“ in hul name gebruik en volgens die voetbalreëls gespeel het, het die aanvanklike verwarring vererger. Die Kanadese voetbalbeheerliggaam is in 1884 as die Kanadese Rugbyvoetbalunie gestig en het in 1891 sy naam in Kanadese Rugbyunie verander. Eers in 1967 het dit sy naam in Kanadese Amateurvoetbalvereniging verander; sedert 1986 dra dit die naam Voetbal Kanada.
Die provinsie Brits-Columbië in die land se verre weste het in die vesting van rugby in die tradisionele Britse betekenis (waarna in Kanada vir ’n lang tydperk as English rugger of British rugby verwys is) ontwikkel – veral te danke aan die matige klimaat en die sterk gevoel vir Britse tradisies. In 1876 is die eerste wedstryd op Vancouver-eiland tussen matrose van die Britse Vloot en Garnisoensoldate gespeel, die eerste wedstryd in Vancouver is tien jaar later aangebied. In 1889 is met die Brits-Columbië Rugbyunie (BCRU) die eerste beheerliggaam gestig wat as ’t ware rugbyunie betrek het. Kort daarna is twee verdere beheerliggame vir die maritieme provinsies en Manitoba gestig. As gevolg van die gebreek aan belangstelling het die stigting van verdere beheerliggame en veral ’n nasionale beheerliggaam heelwat later gebeur.
Eerste internasionale ontmoetings In Oktober en November 1899 het die eerste internasionale wedstryde plaasgevind, toe die Ierse nasionale span die Kanadese ooste besoek het. Hulle is genooi deur ’n entrepreneur met Ierse herkoms wat die rugbysport wou bevorder. Tydens die vierweekse toer is elf wedstryde gespeel, waarvan die Iere tien gewen het; hul enigste nederlaag was teen ’n keurspan uit Halifax. In 1902/03 het ’n Kanadese keurspan die Verenigde Koninkryk en Frankryk besoek, waar hulle binne 56 dae 22 wedstryde teen klubs en plaaslike spanne gespeel het. Die span het uit nege rugbyspelers uit Brits-Columbië en die maritieme provinsies asook elf voetbalspelers uit Ontario en Quebec bestaan. Aangesien die reëls van albei sportsoorte destyds nog baie naby aan mekaar was, kon ’n gemeensame span saamgestel word. Die gashere het die Kanadese vir hul deursettingsvermoë, atletiek en vinnigheid geloof, maar hulle het ook opgemerk dat hul tegniese vaardighede en hul spanwerk nie eens was nie. Die spankaptein James McClure se hoop, wat hy teenoor die Britse pers geuiter het, dat met die toer albei sportsoorte nader aan mekaar sou beweeg, het egter nie vervul nie: In 1903 het die Ontario Rugbyvoetbalunie die Burnside Rules ingevoer, waarvolgens Kanadese voetbal duidelik van rugby afgebaken is.
In die jare daarna was dit veral die BCRU wat op internasionale vlak aktief was. ’n Keurspan het in Februarie 1906 Kalifornië besoek om teen die besoekende Nieu-Seelandse All Blacks te speel. Die Australiese Wallabies het in Februarie 1909 en November 1912 Brits-Columbië besoek, die All Blacks in November 1913. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die spelbedryf amper gekniehalter, net in Brits-Columbië en Nova Scotia kon dit redelik gereeld voortgaan. In 1919 het ’n span van die Kanadese ekspedisiemag in Engeland deelgeneem aan die King’s Cup, ’n toernooi tussen die verskeie gewapende magte van die Britse Statebond. Die uit Europa terugkerende soldate was grootliks aan rugby blootgestel en hulle het veral in Ontario en Quebec dié sport laat herleef (hoewel Kanadese voetbal steeds gewild was). In Februarie 1925 het die All Blacks deur Brits-Columbië getoer, vier jaar later die Nieu-Suid-Wallis Waratahs (namens die destyds onaktiewe Wallabies). Die toenemende belangstelling in rugby het in 1929 gelei tot die stigting van die eerste nasionale beheerliggaam, die Rugbyunie van Kanada.
In September 1930 het die Japannese nasionale span ’n toer na Brits-Columbië onderneem en teen klubs asook keurspanne gespeel. Skaars een en ’n halwe jaar later het die Rugbyunie van Kanada ’n amptelike nasionale span saamgestel. As deel van ’n deur die Kanadese regering befondsde handelsafvaardiging het die teenbesoek in Japan plaasgevind. Op 31 Januarie 1932 het in Higashiosaka die eerste amptelike toetswedstryd van ’n Kanadese span plaasgevind, dit het in ’n naelskraapse 9–8-oorwinning vir Japan geëindig. Elf dae later het die gasheer in Tokio met 38–5 geseëvier. Die Kanadese het hul nederlae toegeskryf aan ’n „oormatige vermaak, te veel wedstryde in ’n kort tydperk en die geïnspireerde speelstyl van die Japanners voor die hoë adel“. Die nasionale beheerliggaam het nie daarin geslaag om verdere toere te reël nie en dit is in 1939 ontbind. Tydens die Tweede Wêreldoorlog kon die speelbedryf weens die gebrek aan geskikte spelers weer net op ’n klein vlak voortgaan, aktiewe provinsiale beheerliggame het slegs in Brits-Columbië, Ontario en Quebec bestaan.
Pouse en herlewing Tydens die naoorlogse tydperk het opnuut die BCRU daarvoor gesorg dat ten minste internasionale spanne Brits-Columbië kom besoek. Die Wallabies was in Februarie 1948 en Maart 1958 gaste, die All Blacks in Maart 1954. Ná die provinsiale span se goeie vertoning tydens die Britse Leeus (die vier Tuisnasies se keurspan) in September 1959 is daar oorweeg om ten minste weer ’n informele Kanadese nasionale span saam te stel en op hul eie toere te onderneem. In 1960 is vir hierdie doeleindes die Rugby Tours Committee gestig. In 1962 het ’n Kanadese span, wat oorwegend uit spelers uit Brits-Columbië saamgestel is, die Verenigde Koninkryk en Ierland besoek, maar hulle het nie teen nasionale spanne gespeel nie. Die Rugbyunie van Kanada is in 1965 herstig en in 1967 in Kanadese Rugbyunie hernoem; vandag dra dié nasionale beheerliggaam die naam Rugby Kanada. As gevolg van die herstigting het die aantal toere en besoeke deur ander nasionale spanne aansienlik toegeneem.