Dominica (Engels: [ˌdɒmɪˈniːkə], ; Frans: Dominique), amptelik die Gemenebes Dominica (Engels: Commonwealth of Dominica; Frans: Commonwealth de la Dominique), is 'n eilandstaat in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 751 km² en 'n bevolking van 74 661 in 2024. Dit behoort aan die Klein-Antille.

duimnael|links|Dominica, soos gesien vanaf die Internasionale Ruimtestasie duimnael|links|Kaart van Dominica Dominica is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit grens in die noorde aan Guadeloupe en in die suide aan Martinique. Die hoofstad en grootste stad is Roseau.

Dominica is op 3 November 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek en ná die Latynse woord vir Sondag (dies Dominica – "dag van die Here"), die weeksdag van die ontdekking, genoem. Die Spanjaarde het probeer om op dié eiland te vestig, maar hulle is deur die inheemse bevolking uitgestoot. In 1632 het die Franse Compagnie des Îles de l'Amérique Dominica en ander Petites Antilles vir Frankryk opgeëis, maar eers in 1690 is eerste permanente nedersettings gestig. Franse houtkappers van Martinique en Guadeloupe het in Dominica gevestig en hulle het slawe uit Wes-Afrika na dié eiland gebring. Tydens die Sewejarige Oorlog het die Britte in 1761 Dominica en ander Franse eilande in die Karibiese gebied verower en dié eiland is volgens die Verdrag van Parys in 1763 deur Frankryk aan Groot-Brittanje afgestaan.

Tydens die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog het Frankryk in 1778 met ondersteuning van die inheemse bevolking probeer om Dominica te verower, maar is deur die Britte verslaan en dié oorlog is met die Vrede van Parys in 1783 beëindig. Weens grootskaalse weerstand deur die bevolking kon die Verenigde Koninkryk eers in 1805 met die kolonisering van dié eiland begin en Dominica is by die Britse Ryk ingelyf. In 1833 is slawerny deur die Britte verbied. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie.

Op 3 November 1978 het Dominica van die Verenigde Koninkryk onafhanklik en 'n republiek binne die Britse Statebond geword. Die eiland is 'n gesogte vakansieplek en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.

Etimologie Die Kalinago het die eiland Wai‘tu kubuli genoem, wat "groot is haar lyf" beteken.

Christophorus Columbus het die eiland "Dominica" genoem, na die Latynse term dies Dominica vir Sondag, die dag waarop hy die eiland in November 1493 vir Europa ontdek het.

Dominica se naam word uitgespreek met klem op die derde lettergreep, na aanleiding van die Spaanse uitspraak.

Die soortgelyke name en die identiese demoniem met die Dominikaanse Republiek het daartoe gelei dat sommige in Dominica vir 'n naamsverandering pleit om sy eie afsonderlike identiteit te beklemtoon.

Sport Krieket is Dominica se gewildste sportsoort en word as nasionale sport beskou. Dominica is een van die eilandstate wat met ander Karibiese state spelers beskikbaar stel vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan, een van die "nasionale spanne" in internasionale krieket met toetsstatus. Die Wes-Indiese nasionale krieketspan het aan amper elke krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, die eerste twee toernooie in 1975 en 1979 gewen en slegs die 2023-toernooi misgeloop. Daarbenewens kon hulle die T20I-wêreldbekertoernooi twee keer (in 2012 en 2016), en beide die Kampioenetrofee (in 2004) en die o/19-krieketwêreldbeker (in 2016) eenkeer wen.

Verwysings

Bronnelys Algemeen

Eksterne skakels

Amptelike webwerf van Dominica se regering

Kategorie:Britse Statebond

Kategorie:Voormalige Britse kolonies