Charles Etienne Boniface (2 Februarie 1787, Parys, Frankryk – 10 Desember 1853, Durban, Suid-Afrika) word beskou as ’n belangrike figuur in die Nederlandse literatuurgeskiedenis van Suid-Afrika. Hy sal veral onthou word vir sy pionierswerk op die gebied van toneel en joernalistiek.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Charles_Etienne_Boniface
Lewe en werk
Agtergrond Charles Etienne Boniface is op 2 Februarie 1787 in Parys in Frankryk gebore.Nienaber, G.S. “Van roem tot selfmoord” Voortrekkerpers Beperk Johannesburg en Pretoria 1939 Sy vader, Antoine Boniface, is ’n adjudant in die Franse leër, terwyl sy moeder, Benigne Fleurot, stam uit ’n gegoede familie. Charles is ’n begaafde kind wat reeds op twaalfjarige ouderdom ’n grondige kennis het van Frans, Spaans, Italiaans, Portugees, Latyn en Grieks. Verder kan hy ook goed skets met ’n pen, die verfkwas hanteer en hy bemeester ook die Spaanse kitaar, komponeer musiek en dans. Sy vader word later bevorder tot goewerneur van die Tempel-gevangenis, ’n belangrike Paryse gevangenis. Een van die hoë profiel gevangenes hier is sir Sydney Smith, die beroemde Britse krygsgevangene wat die aanvoerder was van die Britse vloot wat die Franse vloot in 1796 ’n gevoelige nederlaag by Toulouse toegedien het. ’n Dokument wat Smith se vrylating gelas en klaarblyklik van die owerhede afkomstig is, word in 1798 aan Boniface se vader oorhandig en Smith word dan vrygelaat en slaag daarin om na Spanje of Portugal te vlug. Die dokument blyk egter ’n vervalsing te wees en Boniface se vader word verdink van medepligtigheid, uit sy pos ontslaan en uit Frankryk verban. Smith help die Boniface gesin om hulle eers in Spanje en later op die Seychelles, wat toe onder Britse beheer was, te vestig. Hier kry Charles sy opvoeding van sy ouers en word ook ’n kadet in die Engelse vloot onder die direkte toesig van Smith. Die lewe op die Seychelle kom tot ’n einde, waarskynlik met die vader se dood, want daar word niks verder van hom in die geskiedenis vermeld nie. Sy moeder keer terug na die armoedige buurt Villers Côteret in Parys en Charles vertrek suidwaarts na Madagaskar. Hier sluit hy aan by ’n toneelgeselskap, wat later na Mosambiek vertrek en hy hier ook ’n ruk vertoef.
Suid-Afrika duimnael|regs|Strandstraat, Kaapstad, gedurende Boniface se tyd Met die slaweskip Général Isidro vertrek Charles dan na die Kaap, waar hy op 10 Februarie 1807 aankomEsaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Boniface,_Charles_Etienne en hom vestig. Sy verbasende talekennis en -aanleg stel hom in staat om spoedig Nederlands, Engels en Duits ook te bemeester. Hy gee hier onderrig in tale, dans en musiek en word reeds op 30 Junie 1807 deur die owerhede toestemming verleen om hom aan die Kaap te vestig. Aanvanklik wy hy hom aan die Franse toneel aan die Kaap. Hy skryf in 1807 ’n blyspel in een bedryf getiteld L'Enragé (later deur J. Suasso de Lima vertaal as De dolzinnige of De gewaande dolleman) en voer onder andere stukke van Jean Racine (Les Plaideurs), Nicolas-Médard Audinot (Le Tonnelier) en Franse vertalings van August von Kotzebue (Les deux Frères ou La Réconciliation) op. Onder sy leiding toon die Franse toneel ’n opbloei nadat dit vir lank ’n kwynende bestaan gevoer het, maar ’n gebrek aan ondersteuning laat hierdie toneelgeselskap in 1809 ontbind. Deurentyd voorsien hy in sy onderhoud deur les te gee in Duits, Frans, Spaans, Portugees, Italiaans, Grieks, Latyn, die skermkuns en die speel van die kitaar. In 1809 word hy en sy vennoot, Verrumé, voor die Raad van Justisie gedaag om hulle deel van die skuld van die Franse toneelgeselskap te betaal en is die uitspraak ten gunste van die skuldeisers. Sy leerlingtal verminder in 1812 drasties wanneer daar ’n pokke-epidemie aan die Kaap uitbreek. Hy word dan lid van die Hollandse toneelgeselskap wat in 1813 ’n balletpantomime van hom, Het beleg en het nemen van Troyen, op die verhoog bring. Die opvoering is ’n groot sukses en in 1814 volg hy dit op met Sappho, een groot ballet in drie bedrijven. Hy stig in 1814 ’n vaste toneelgeselskap met die naam 'Honi soit qui mal y pense' (“Mag kwaad geskied met diegene wat kwaad dink”). Vir hierdie geselskap skryf hy ballette, pantomimes en dramaverwerkings en tree op as teater-direkteur, akteur en regisseur. In 1809 raak hy as bestuurder van die Franse toneelgeselskap oor onbetaalde skuld oorhoops met Frederik Arnold Heynemann, die vader van nege kinders.
Bonafice en de Lima In 1819 werk Boniface saam met die toneelgeselskap 'Men doet wat men kan' en hy verwerk Dago, of de Spaanse Bedelaars vir die Kaapse verhoog. Hierdie opvoering is so suksesvol dat dit ’n heropvoering regverdig en hy bied dan weer sy dienste aan as onderwyser in tale, dans en kitaar. Boniface se drama De dolzinnige of De gewaande dolleman word in 1823 op die planke gebring en ’n hoogtepunt in sy toneelkuns bereik hy in 1825 met sy vertaling en opvoering van Molière se Le Bourgeois Gentilhomme. Intussen begin sy toneelgeselskap agteruit gaan en J. Suasso de Lima help hom aan die begin van 1824 met ’n pos as hoof van ’n pas-opgerigte skool in Rondebosch, wat aan hom ’n ekstra inkomste gee. Na ’n kortstondige vriendskap met De Lima, kom hulle egter in botsing. Boniface se geselskap wou in Oktober 1824 die komedie Guerre ouverte, ou ruse contre ruse van Jean Dumaniant in Hollands opvoer. Na vele onderonsies weier een van die hoofspelers tydens die laaste repetisie om verder deel te neem. Berig van die onvermydelike uitstel word dan onmiddellik aan die intekenaars gestuur, maar sommiges, waaronder De Lima, word ongelukkig oorgeslaan. De Lima plaas dan ’n lang gedig in die South African Chronicle wat hy Ieder wordt teleurgesteld noem en waarin hy Boniface sydelings berispe oor sy dramas selde betyds begin en telkens uitgestel word. Boniface antwoord skerp hierop en die South African Chronicle plaas gou die volgende berig: "De storm die zich lang heeft zaamgepakt, is eindelijk los gebroken, en reeds merkelijk hebben er vijandelijkheden tusschen de Heeren Boniface en S.d.L als vertegenwoordigers der Franschen en Hollanders plaats gehad. Wij versoeken echter als bemiddelaars te mogen optreden, en geven bij dezen kennis, dat wij ons Blad niet langer als een middel willen laten gebruiken, om die vijandelijkheden te doen voortduren. Wanneer hunne bekendmakingen van een vredelievenden aard zijn, zullen wij daaraan gaarne een plaatsje inruimen, maar anders niet. De tempel van Janus is derhalve gesloten”.Conradie, Elizabeth “Hollandse skrywers in Suid-Afrika (Deel I) (1652–1875) J.H. de Bussy, Pretoria, 1934 Beide se latere letterkundige werke, veral hulle dramas, word feitlik uitsluitlik daaraan gewy om mekaar by te kom en te antwoord op die vorige werk van die ander.
Geldelike probleme en bankrotskap In 1826 is Boniface weg van die skool in Rondebosch en weer terug in Kaapstad, by ’n Latynse skool wat hy in die stad open. Sy skulde vermeerder en hy is van die einde van 1824 gereeld in die hof om skuldeise teen hom te beveg. Ook by die huis gaan dinge nie rooskleurig nie en sy enigste kind is op ongeveer tienjarige ouderdom oorlede. In 1827 speel hy bankrot as gevolg van ’n skindersaak waarvan hy die onkoste moet dra en sy toneelgeselskap word ontbind. Met die afskaffing van die Landdros en Heemrade en die verengelsing van die regspleging moet daar vanaf 1828 meer staatsvertalers in diens geneem word en so kry Boniface weer ’n vaste inkomste. Hierdie betrekking behou hy vir ongeveer twaalf jaar, maar die werk is nie baie veeleisend nie en laat hom toe om tyd aan ander aktiwiteite ook te bestee. Terwyl hy geld verdien as 'gezwooren translateur' skryf hy sy Relation du Naufrage du navire frangais L’Eole, wat in 1829 uitgegee word. Dit is die beskrywing van die lotgevalle van die skip L’Eole wat in hierdie tyd teen die rotse van Sandy Point strand, met slegs ’n paar oorlewendes. In 1830 word hy redakteur van die eerste Nederlandse politieke koerant De Zuid-Afrikaan, wat voorheen onder redaksie van De Lima as De Verzamelaar bekend was. Skaars ses maande later, op 29 Oktober 1830, word hy van die redaksie onthef weens sy ongebalanseerde kritiek en persoonlike onbeheerste aanvalle op teenstanders. In sy artikels spreek hy hom meermale skerp uit teen die Engelse imperialistiese politiek en ons vind hierin voorbeelde van joernalistieke Afrikaans van sy tyd, veral in sy mondelinge verslag van Hottentot-Afrikaans uit die mond van Hendrik Kok. Hy wend hom weer tot die toneel en na die sukses wat sy drama De nieuwe ridderorde of De temperantisten behaal stig hy in 1834 die toneelgeselskap Vlyt en Kunst. Behalwe sy eie stukke voer hy onder andere sy Hollandse vertaling van Molière se Le Bourgeois Gentilhomme (De Burger Edelman) op, en Duval se Montonie, ook in sy Hollandse vertaling. .
Joernalistieke loopbaan en lewe in Natal Vanaf 1837 neem Boniface saam met Cornelis Moll die redaksie waar van The Moderator (wat in Julie 1837 van naam verander na De Meditator), ’n blad wat die Voortrekkers goedgesind was. Hierdie blad gaan tot niet in 1838. Boniface wend hom nou tot die regswese in ’n poging om ’n bestaan te maak en in 1841 word sy naam vermeld as geregistreerde advokaat. Sy openbare beeld is egter negatief beïnvloed deur die vele hofsake en onderonsies waarin hy in sy lewe betrokke was en hy kan ook nie ’n bestaan uit hierdie beroep maak nie. In Februarie 1844 gaan hy en Moll dan saam op die skip Rosebud na Natal, wat op 5 Maart 1844 in Port Natal (vandag Durban) se hawe vasmeer. Hiervandaan gaan hulle na Pietermaritzburg, waar hulle die Natalse Volksraad se toestemming verkry om vanaf 5 April 1844 die eerste koerant uit te gee, naamlik De Nataliër en Pietermaritzburgsche Trouwe Aantekenaar.Boniface Cape Colony: https://bonifacecapecolony.wordpress.com/ Daar is spoedig spanning tussen Moll en Boniface oor laasgenoemde se bitsige rubrieke en hy word dan ook as redakteur afgedank en die koerant self word in 1846 gestaak. Sonder Boniface se medewete en goedkeuring reël die vyande wat hy hier maak dat sy slavin-houvrou en sy kinders se passaat van die Kaap na Pietermaritzburg betaal word en hulle trek weer by Boniface in. Hierdie verhouding druis in teen die algemeen aanvaarde gedragskode van daardie tyd en veroorsaak weer dat Boniface as buitestander geïsoleer word.
Spoedig is hy weer in ’n aantal lasteraksies en teeneise gewikkel en in Mei 1845 verlaat Boniface Pietermaritzburg en gaan terug na Durban. Hier is sy houvrou aan siekte oorlede en word die sorg van die kinders aan hom oorgelaat. Teen die einde van die jaar loop sy aangenome seun Charles weg en aanvaar ’n werk by sy aartsvyand, Moll, se koerant. Eindelik is dit net sy dogter Charlotte wat by hom bly en hom steeds bystaan. Boniface en Charlotte keer dan terug na Pietermaritzburg, waar hulle op 27 Maart 1846 arriveer. Hier adverteer hy sy dienste as advokaat, geswore translateur en geldinvorderaar. Hy begin ook met ’n aantal hofsake teen Moll, een waarvan vir sy uitstaande redakteursalaris is. Hy wen hierdie saak en verloor die ander, maar Moll is nie in staat om die bedrag te betaal nie en speel in 1847 bankrot. In September 1846 word Boniface aangestel as staatsvertaler en as tolk in die howe teen ’n inkomste van £50 per jaar. Vanaf 1846 tot 1847 werk Boniface mee aan die tweetalige blad De Natalsche Getuige en hy loods vanuit hierdie posisie giftige aanvalle in Nederlands, Engels en Frans op Moll en die redakteur van Moll se nuwe tweetalige koerant The Patriot, naamlik Arthur Walker. Wanneer die staat in Mei 1847 regeringsdokumente aan hom stuur wat in Nederlands vertaal moet word vir publikasie in The Patriot, weier Boniface uit kleingeestigheid en bedank hy as staatsvertaler. So is hy sy enigste vaste inkomste kwyt.