Perikles (c. 495 – 429 v.C., Grieks: Περικλῆς, menend "omgewe van glorie") was 'n prominente en invloedryke staatsman, redenaar en generaal van antieke Athene tydens die stad se goue era — spesifiek die tydperk tussen die Persiese en Peloponnesiese oorloë. Hy het aan sy moederskant afgestam van die gesaghebbende en histories invloedryke Alkmaionide-familie.

Perikles het sodanige grondige invloed op die Atheense samelewing gehad dat Thukydides, sy eietydse historikus, hom aangeslaan het as die "eerste burger van Athene". Perikles het die Deliese bond omskep in 'n Atheense ryk en sy landgenote gelei tydens die eerste twee jaar van die Peloponnesiese oorlog. Sy Atheense ampstermyn, min of meer van 461 tot 429 v.C., is soms bekend as die "Era van Perikles", alhoewel die tydperk wat so aangedui word, ook 'n tydperk van so vroeg as die Persiese oorloë kan insluit, tot selfs so laat as die volgende eeu.

Perikles het die kunste en literatuur aangemoedig; dit was die hoofrede waarom Athene beskou is as die opvoedkundige en kultuursentrum van die antieke Griekse wêreld. Hy het 'n ambisieuse bouprojek ingelei wat verantwoordelik is vir die meerderheid oorblywende strukture van die Akropolis (insluitend die Parthenon). Hierdie projek het die stad verfraai, die stad se leierstatus sigbaar tentoongestel, asook werk verskaf aan die inwoners daarvan.L. de Blois, An Introduction to the Ancient World, 99 Benewens het Perikles die Atheense demokrasie so aangevuur dat die kritici hom 'n populis genoem het.S. Muhlberger, Periclean Athens.S. Ruden, Lysistrata, 80.

Vroeë jare Perikles is in 495 v.C., in die dêmos Cholargos, net noord van Athene gebore. Hy was die seun van die politikus Xanthippos, wat, alhoewel verban in 485 – 484 v.C., kwalik vyf jaar later na Athene teruggekeer het om die Atheense kontingent aan te voer in die Griekse oorwinning te Mykale. Perikles se moeder, Agariste, was 'n afstammeling van die gesaghebbende en omstrede adellike familie van die Alkmaionide, en haar familieverband het 'n deurslaggewende rol gespeel in die vestiging van Xanthippos se politieke loopbaan. Agariste was die agterkleindogter van die tiran van Sikyon, Kleisthenes, en haar oom was die leidende Atheense hervormer Kleisthenes, ook 'n Alkmaionid. Volgens Herodotos en Plutarchus, het Agariste 'n paar nagte voor Perikles se geboorte gedroom dat sy geboorte gegee het aan 'n leeu.Herodotos, VI, 131.Plutarchus, Perikles, III. Volgens een uitleg van die vertelling verteenwoordig die leeu die tradisionele simbool van grootsheid, maar die storie mag ook heenwys na die ongewone grootte van Perikles se skedel, in sy tyd 'n gewilde teiken onder die komediante.V.L. Ehrenberg, From Solon to Socrates, a239. (Alhoewel Plutarchus beweer dat hierdie wanskapenheid die rede was dat Perikles telkens met 'n helm uitgebeeld is, is dit egter nie die geval nie; die helm was inderdaad die simbool van sy amptelike rang as strategos, d.i. generaal).L. Cunningham & J. Reich, Culture and Values, 73.

"Ons regeringsvorm wedywer nie met die institusies van andere nie. Ons regering is nie 'n kopie van ons bure s’n nie, maar geld as 'n voorbeeld vir hulle. Dit is waar dat ons 'n demokrasie genoem word, want die administrasie word behartig deur die meerderheid en nie die minderheid nie. Maar terwyl daar gelyke beregtiging aan een en almal in hul private dispute toekom, word voortreflikheid ook gehuldig; en wanneer 'n landsburger in enige opsig uitmunt, geniet hy voorkeur in die publieke diens, nie as 'n saak van bevoorregting nie, maar as 'n meriete-erkenning. Nòg is armmoedigheid tot 'n hindernis, maar 'n man kan sy land tot voordeel strek uit welke gebrekkige welstand ookal." Perikles se Begrafnisrede soos opgeteken deur Thukydides, 2.37; Thukydides maak nie aanspraak op 'n verbatim aanhaling nie .

Perikles het behoort aan die plaaslike Akamantis stamgroep (Ἀκαμαντὶς φυλὴ). Sy vroeë jare was stil; die introverte jong Perikles het openbare verskynings gesystap, en instede verkies om al sy tyd aan sy studies te spandeer.

Sy familie se hoë stand en rykdom het hom in staat gestel om sy voorliefde vir opvoeding uit te leef. Hy het musiek geleer van die meesters van sy tyd (Damon of Pythokleides mag sy onderwyser gewees het)Plutarchus, Perikles, IVPlato, Alkibiades I, 118c en hy word beskou as die eerste politikus wat filosofie van groot belang geag het. Hy het die geselskap geniet van die filosowe Protagoras, Zenon van Elea en Anaxagoras. Veral Anaxagoras het sy goeie vriend geword en hom grootliks beïnvloed.M. Mendelson, Many Sides, 1 Perikles se gedagtepatroon en redenaarsaanhang mag deels die resultaat wees van Anaxagoras se beklemtoning van nugterheid in die aangesig van moeilikhede en skeptisisme rakende goddelike ingryping. Sy veelbesproke kalmte en selfbeheersing word ook toegeskryf aan die invloed van Anaxagoras.Plutarchus, Perikles, VI en Plato, Phaidros, 270a

Politieke loopbaan tot 431 v.C. Toetrede tot politiek In die lente van 472 v.C., het Perikles die Persai van Aischylos voorgedra by die Groter Dionysia as 'n liturgie, 'n aanduiding dat hy toe een van die meer welgestelde manne van Athene was. Simon Hornblower het aangevoer dat Perikles se keuse van hierdie toneelstuk, wat 'n nostalgiese oorsig bied oor Themistokles se beroemde oorwinning te Salamis, aandui dat die jong politikus Themistokles ondersteun het, teen sy politieke opponent Kimon, wie se faksie verantwoordelik was vir Themistokles se verbanning kort daarop.S. Hornblower, The Greek World, 479–323 BC, 33–4

Plutarchus meld dat Perikles die vooraanstaande Athener was vir veertig jaar.Plutarchus, Perikles, XVI Indien so, moes Perikles 'n leiersposisie ingeneem het teen die vroeë 460s v.C.. Regdeur hierdie jare het hy gestrewe om sy privaatheid te beskerm en homself voorgehou as 'n voorbeeld vir sy medeburgers. So sou hy dikwels bankette vermy om spaarsamigheid te bevorder.Plutarchus, Perikles, VIIPlutarchus, Perikles, IX

In 463 v.C. was Perikles die hoofaanklaer van Kimon, leier van die konserwatiewe faksie, wat aangekla is van verwaarlosing van Athene se strategiese belange in Masedonië.Aristoteles, Konstitusie van Athene, Alhoewel Kimon vrygespreek is, het hierdie konfrontasie die kwesbaarheid van Perikles se belangrikste politieke teenstander bewys.Plutarchus, Kimon, XV

Verbanning van Kimon Om en by 461 v.C. het die leierskap van die demokratiese party besluit om hul visier te rig op die Areopagos, 'n tradisionele raad beheer deur die Atheense aristokrasie, wat eens die mees magtige liggaam in die stadstaat was.Fornara-Samons, Athens from Cleisthenes to Pericles, 24–25 Die leier van die party en mentor van Perikles, Ephialtes, het 'n skerp inperking van die Areopagos se magte voorgestel. Die Ekklesia (die Atheense Vergadering) het Ephialtes se voorstel sonder sterk opposisie voorgestel.Plutarchus, Perikles, IX Hierdie hervorming het die begin aangedui van 'n nuwe era van "radikale demokrasie". Die demokratiese party het algaande meer dominant geword in Atheense politiek en Perikles het gewillig voorgekom om 'n populistiese beleid te volg om die publiek te vlei. Volgens Aristoteles kan Perikles se standpunt verklaar word deur die feit dat sy hoof politieke opponent, Kimon, ryk en vrygewend was, en in staat was om publieke mening te verseker deur sy persoonlike fortuin vrygewig aan te wend.Aristoteles, Konstitusie van Athene, Die historikus Loren J. Samons II argumenteer daarenteen dat Perikles oor genoeg private hulpbronne beskik het vir die bevordering van sy politieke oogmerke, sou hy so verkies het.L.J. Samons, What's Wrong with Democracy?, 80

In 461 v.C. het Perikles geslaag in die politieke eliminasie van hierdie gedugte opponent deur die wapen van ostrakisme of verbanning te gebruik. Die aangeduie beskuldiging was dat Kimon sy stad verraai het deur op te tree as die vriend van Sparta.Plutarchus, Kimon, XVI

Selfs na Kimon se verbanning, het Perikles steeds 'n populistiese sosiale beleid gevolg en gepromoveer. Hy het eerstens 'n bepaling voorgestel wat die armes gratis toegang tot toneelopvoerings gegun het, met die stadstaat wat ingestaan het vir die toegangsfooie. Met ander bepalings het hy die eiendomsvereiste vir die archonskap in 458 – 457 v.C. verminder, en kort na 454 v.C. gul lone toegestaan aan alle burgers wat as jurielede in die Heliaia (die Atheense hooggeregshof) opgetree het.Fornara-Samons, Athens from Cleisthenes to Pericles, 67–73 Sy mees omstrede maatreël was egter 'n wet van 451 v.C. wat Atheense burgerskap beperk het tot slegs diegene waarvan beide ouers Atheens was.R. Martin, An Overview of Classical Greek History

"En ons sal sekerlik nie sonder getuies wees nie; daar is imposante monumente van ons mag wat ons die wonder van hierdie en toekomende eras sal maak; ons sal nie die lofsange van Homeros of enige ander panegeris benodig, wie se digtery vir die oomblik mag behaag, terwyl sy feiteweergawe nie die daglig sal aanskou nie. Want ons het elke land en elke see gebied om 'n weg te baan vir ons durf, en oral onverganklike monumente opgerig van ons vriendskap en vyandskap." Perikles se Begrafnisrede soos aangeteken deur Thukydides (II, 41)

Sodanige maatreëls het Perikles se kritici genoop om hom te sien as die verantwoordelike vir die geleidelike verval van die Atheense demokrasie. Konstantinos Paparrigopoulos, 'n toonaangewende moderne Griekse historikus, argumenteer dat Perikles die uitbreiding en stabilisering van alle demokratiese institusies as doelwit gehad het.K. Paparrigopoulos, History of the Greek Nation, Ab, 145 Gevolglik het hy wetgewing in werking gestel wat die laer stande toegang gegun het tot die politieke stelsel en die publieke diens, waarvan hulle vroeër weerhou is weens hul beperkte welstand of beskeie herkoms.Aristoteles, Konstitusie van Athene, en Politiek, 1274a Volgens Samons het Perikles geglo dat dit nodig was om die demos te verhoog, wat hy as onbenutte voedingsbron vir Atheense mag gesien het, asook die bepalende element vir Atheense militêre heerskappy.L.J. Samons, What's Wrong with Democracy?, 65 (Die vloot, ruggraat van Atheense mag sedert die dae van Themistokles, was byna uitsluitlik deur lede van die laer stande beman.)Fine, The Ancient Greeks, 377–8

Kimon, daarenteen, het blykbaar geglo dat geen verdere vrye ruimte vir demokratiese evolusie bestaan het nie. Hy was oortuig dat demokrasie sy toppunt bereik het en dat Perikles se hervormings besig was om na die dooiemat van populisme te lei. Volgens Paparrigopoulos, het die geskiedenis Kimon se siening gehandhaaf, aangesien Athene, na Perikles se dood, versink het in 'n afgrond van politieke onrus en demagogie. Paparrigopoulos voer aan dat 'n ongekende regressie die stad geknel het, waarvan die glorie vergaan het weens Perikles se populistiese beleid. Volgens nog 'n historikus, Justin Daniel King, het radikale demokrasie mense individueel bevoordeel, maar die stadstaat geskaad.J.D. King, , 24–25 Daarteenoor stel Donald Kagan voor dat Perikles se demokratiese maatreëls die basis was vir 'n onaanvegbare politieke voorsprong.D. Kagan, The Outbreak of the Peloponnesian War, 79 Kimon het naamlik die nuwe demokrasie uiteindelik aanvaar, en het nie die burgerskapwet teëgestaan na hy in 451 v.C. uit bannelingskap teruggekeer het nie.D. Kagan, The Outbreak of the Peloponnesian War, 135–136

Leier van Athene Die moord op Ephialtes in 461 v.C. het die weg gebaan vir Perikles om sy gesag te konsolideer. By die gebrek aan enige robuuste opposisie na die verbanning van Kimon, het die onaanvegbare leier van die demokratiese party ook die onbetwisde leier van Athene geword. Hy het feitlik ononderbroke regeer tot sy dood in 429 v.C..

Eerste Peloponnesiese oorlog

duimnael|250px|"Phidias toon die fries van die Parthenon aan Perikles, Aspasia, Alkibiades en vriende", deur Sir Lawrence Alma-Tadema, 1868, Birmingham Museum & Kunsgalery