Johannes Brahms (7 Mei 1833 – 3 April 1897) was 'n Duitse komponis en pianis en een van die voorste musikante van die Romantiese periode. Hy is in Hamburg gebore, maar het 'n groot deel van sy professionele lewe in Wene in Oostenryk deurgebring, waar hy die leidende figuur van die Oostenrykse musiektoneel was. Brahms word vandag as een van die vooraanstaande Europese komponiste van die tweede helfte van die 19de eeu beskou.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Brahms was reeds in sy eie leeftyd 'n gewilde en invloedryke musikant en komponis. Hy het komposisies vir klavier, kamerorkeste, simfonie-orkeste, kore en solo-sangers geskep. Hy was 'n bedrewe pianis en het dikwels die eerste opvoering van sy eie werke gegee. Hy het ook saam met die vooraanstaande opvoerders van sy tyd gewerk, soos die pianis Clara Schumann en vioolspeler Josef Joachim. Baie van sy werke vorm vandag steeds die hoofbestanddeel van konsertrepertoriums. Talle werke is egter vandag verlore: Brahms was 'n perfeksionis wat baie van sy komposisies vernietig het en geweier het om ander te publiseer.

links|40px|SpeelKomposisiesSonata in F-mineur, 1ste bewegingSpeelIntermezzo Opus 76. Nr. 7SpeelConcerto in A-mineur, Opus 102Speel Probleme? Sien Mediahulp.

Dit is kenmerkend van Brahms se komposisies dat hulle tradisioneel dog innoverend is. Sy musiek is gewortel in die strukture en komposisietegnieke van die barok- en klassieke meesters. Verder was Brahms self 'n meester van kontrapunt, 'n komplekse metode van komposisie wat die verhouding tussen twee of meer stemme uit 'n ander oogpunt as harmonie benader.

Hy het gepoog om die "reinheid" van die tradisionele komposisiestrukture te eer deur hulle tot 'n romantiese vorm te ontwikkel en het in die proses nuwe benaderings tot harmonie en melodie geskep. Alhoewel baie van sy tydgenote sy musiek as té akademies beskou het, is sy bydraes en vakmanskap sedertdien deur verskeie komponiste bewonder, soos die progressiewe komponis Arnold Schoenberg (1874–1951) en die konserwatiewe komponis Edward Elgar (1857–1934).

Benewens sy talle liedjies (waarvan sy Wiegelied moontlik die bekendste is) het Brahms vier simfonieë, vier concerto's, 'n requiem, klavier- en kamermusiek gekomponeer.

Sien ook Oeuvre van Johannes Brahms

Verwysings

Eksterne skakels

Petrucci Music Library – 'n Versameling bladmusiek logoslibrary.org – 'n Versameling opnames van sy komposisies

Kategorie:Duitse komponiste Kategorie:Geboortes in 1833 Kategorie:Sterftes in 1897