Wolfie Kodesh OLS (6 April 1918 – 18 Oktober 2002) was 'n Suid-Afrikaanse joernalis, vakbondorganiseerder en anti-apartheidsaktivis. Hy was 'n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die African National Congress (ANC). Kodesh het onder meer bekendheid verwerf omdat hy Nelson Mandela in 1961 in sy woonstel gehuisves en gehelp het terwyl Mandela ondergronds geleef het.

Vroeë lewe Kodesh is in die Transvaalse myndorp Benoni gebore. Sy grootouers aan vaderskant het hulle in Suid-Afrika gevestig nadat hulle van die pogroms in Oos-Europa gevlug het. Sy moeder, Fanny Shapiro, was afkomstig uit die East End van Londen. Sy vader het 'n onderneming met perdehuurkoetse bedryf, maar die onderneming het tydens die Groot Depressie van die 1930's in duie gestort.

Nadat sy ouers geskei het, het Kodesh, sy tweelingsuster en sy broer na Kaapstad verhuis om by hul moeder aan te sluit. Die gesin het in Woodstock gewoon, waar sy moeder 'n winkel bedryf het. Volgens South African History Online het sy blootstelling aan armoede en aan die gemengde gemeenskappe van Woodstock en Distrik Ses tot die ontwikkeling van sy nierassige politieke uitkyk bygedra.

Kodesh se politieke betrokkenheid het gedurende die 1930's begin. Sy suster het as tikster vir Moses Kotane, die algemene sekretaris van die destydse Kommunistiese Party van Suid-Afrika, gewerk. Kodesh het in 1938 by die party betrokke geraak en eksemplare van die linkse koerant The Guardian verkoop.

Militêre diens en politieke loopbaan Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Kodesh in die Suid-Afrikaanse magte gedien en aan veldtogte in Noord-Afrika en Italië deelgeneem.Mandela, Nelson. Long Walk to Freedom. Londen: Abacus, 2013, bl. 401. Ná die oorlog het hy in 1947 voltyds vir die Kommunistiese Party begin werk. Hy het ook vir die Guardian geskryf en verslag gedoen oor die swak lewensomstandighede in Kaapstad se armer woonbuurte.

Hy was voorts betrokke by die Non-European Railway Workers Union. Nadat die Kommunistiese Party in 1950 ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme verbied is, is Kodesh self aan beperkings onderwerp. 'n Verbanningsbevel wat hom opgelê is, het hom onder meer verhinder om sy werk as joernalis voort te sit.

Nadat die Guardian verbied is, is dit onder die naam New Age heruitgegee. Kodesh het as joernalis gewerk en was een van die direkteure van die nuwe publikasie. Die regering het New Age in 1962 gesluit.

Hulp aan Nelson Mandela Toe Mandela in 1961 ondergronds gegaan het, het hy byna agt weke lank in Kodesh se eenkamerwoonstel in Berea, Johannesburg, gewoon. Kodesh het Mandela tussen veilige huise vervoer, ontmoetings gereël en hom gehelp om kontak met Winnie Madikizela-Mandela te behou. Hy het ook as koerier vir boodskappe, verbode publikasies en wapens opgetree.

Aanhouding en ballingskap Kodesh is in 1963 in hegtenis geneem en ingevolge die destydse 90-dae-aanhoudingswet sonder verhoor in eensame opsluiting aangehou. Later dieselfde jaar het hy Suid-Afrika met 'n uitreispermit verlaat en hom in die Verenigde Koninkryk gevestig. duimnael|Herdenking aan van Wolfie Kodesh, Kaapstad. In ballingskap het hy vir die ANC gewerk. Hy het later in Lusaka en Luanda gewoon, waar hy verantwoordelik was vir die logistieke ondersteuning van ANC- en uMkhonto weSizwe-bedrywighede. Weens swak gesondheid het hy daarna na Londen verhuis en in die ANC se kantoor daar gewerk.

Terugkeer en latere lewe Ná die ontbanning van die ANC en ander bevrydingsorganisasies het Kodesh Suid-Afrika in 1990 kortliks besoek. Hy het in 1991 permanent na Kaapstad teruggekeer. Tussen 1992 en 1995 het hy mondelinge getuienisse en lewensverhale van voormalige politieke aktiviste versamel. Hierdie materiaal word in die Robbeneiland-Mayibuye-argief aan die Universiteit van Wes-Kaapland bewaar.

Kodesh is op 18 Oktober 2002 op 84-jarige ouderdom in Kaapstad oorlede. In 2014 is die silwer Orde van Luthuli postuum aan hom toegeken vir sy bydrae tot die stryd teen apartheid en vir 'n demokratiese Suid-Afrika.

Verwysings

Eksterne skakels Onderhoud met Wolfie Kodesh by die South African History Archive Onderhoudmateriaal in die O'Malley-argief

Kategorie:Geboortes in 1918 Kategorie:Sterftes in 2002 Kategorie:Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Suid-Afrikaanse joernaliste