Die Lombard Bank was die eerste bank in Suid-Afrika.
Teen die einde van die VOC se bestaan het dit met die maatskappy finansieel nie goed gegaan nie. Die VOC stuur in 1792 twee van sy hoë amptenare, Simon Hendrik Frijkenius en Sebastiaan Cornelis Nederburgh na de Kaap met die opdrag om die firma se uitgawes te verminder en die inkomste te vermeerder. Om te besuinig is besluit om geen verdere boupojekte aan te pak, baie van die slawe in besit van die Kompanjie te verkoop, om daadwerklik teen smokkelhandel op te tree, agterstallige belasting in te vorder en sekere nuwe belastings te hef.
Om veral die boere te help is die Lombard Bank, ook bekend as die Bank van Leening, in Maart 1793 gestig om krediet te verskaf met die leners se grond, huis en ander bates as sekuriteit. Soos die behoefte aan krediet toegeneem het, is nog meer papiergeld in omloop gebring. So is gehoop om die handel tussen die koloniste aan te moedig en meer belasting ingevorder kon word. Die gevolg was egter dat die waarde van die ryksdaalder verder gedaal het. Aan die einde van die VOC se bewind was daar note ter waarde van 1291276 ryksdaalders in omloop waarvan die waardevermindering in 1794-5 tot soms amper 50% beloop het. Die hoeveelheid geld wat die bank beskikbaar gestel het, was nie voldoende om aan die behoeftes van die inwoners te voldoen nie. Boonop was die administrasie van die bank swak. Toe Du Pré Alexander, graaf van Caledon die beheer aan die Kaap oorneem, het hy die sake van die bank deeglik laat ondersoek en volg in 1808 'n ingrypende reorganisasie. Die gevolg hiervan was dat die plaaslike ekonomie op 'n gesonde grondslag geplaas is. Die bank is in 1842 gesluit.
Bibliografie Pretorius, Fransjohan (red.): Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, 2012. ISBN 978-0-624-05466-5
Kategorie:Suid-Afrikaanse banke