regs|duimnael|250px|Antoine Changuion
Jonkheer Antoine Nicolas Ernest Changuion, ook wel A.N.E. Changuion, (Den Haag, 15 Desember 1803 – Lörrach, 14 Oktober 1881)Geni: http://www.geni.com/people/Anthoine-Nicolas-Ernest-Changuion/6000000016347345835 was 'n opvoedkundige, taal- en letterkundige, politikus, redenaar, joernalis, taalstryder en belangrikste voorloper van die Nederlandse Beweging in Suid-Afrika.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Changuion,_Antoine_Nicolaas_Ernst
Die stamvader, Pierre Changuion, Hugenoot en boer, het tydens die bloedbad van Wassy (1562) op laasgenoemde dorpie gewoon, selfs nadat sy huis verniel is. Sommige van sy nasate het ook daar bly woon. Die Changuions is 'n ou familie, en lede van die familie het na die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 na die Duitssprekende lande en na Nederland verhuis.
Vroeë lewe Antoine Nicolas Ernest Changuion is op 15 Desember 1803 in 's-Gravenhage in Nederland gebore. Hy is afkomstig uit ’n Protestantse familie uit die Franse distrikte Champagne en Barrois wat tydens die geloofsvervolginge, wat die herroeping van die Edik van Nantes voorafgaan, vanaf 1685 hul te Amsterdam, Utrecht en Leiden vestig. Sy vader was Francois Daniel Changuion, ’n politikus en diplomaat wat onder andere die eerste Nederlandse gesant in die Verenigde State van Amerika was en in 1815 tot die Nederlandse adel verhef is met die preikaat van jonkheer, en sy moeder was Henrietta Wilhelmina Hartingh, die dogter van ’n gesiene Leidenaar, Nicolaas Hartingh, en Louise Ernestine Meyners. Hy het twee broers, Francois Daniel en Laurent Jonathan, en ’n suster, Louise Anne. Weens geldelike moeilikhede moet sy vader vanaf 1820 verhuis na Offenbach aan die Main in Duitsland onderwyl daar ’n geregtelike proses teen hom aan die gang is. Hier sal hy uiteindelik vir dertig jare vertoef. Die jong Antoine leer hier die Duitse taal en letterkunde ken en hy leer ook Frans en Engels. Hy en sy enigste suster vestig hulle later in Frankfort. Terwyl hy Grieks en Latyn bestudeer, verdien hy as tuisonderwyser in Engels en Frans genoeg geld om in hul onderhoud te voorsien. Hy berei hom sover vir die universiteit voor en word gevolglik op 6 Junie 1828 te Leiden as student in die lettere en godgeleerdheid ingeskryf.
Na Suid-Afrika In ’n brief van 21 Mei 1830 skryf die direkteure van die Zuid-Afrikaansche Athenaeum, wat in 1829 in Kaapstad opgerig is, aan die letterkundige fakulteit van Leiden om ’n professor in die klassieke en moderne tale, veral Nederlandse lettere, aan te beveel. Die Athenaeum word later die South African College en is vandag die Universiteit van Kaapstad en SACS. Nadat verskillende ander persone vergeefs gevra is, besluit Changuion om sy teologiese studie te laat vaar en die aanbod aan te neem. Deur tussenkoms van die Leidse fakulteit kry hy sy ontslag uit die verpligte militêre diens. Hy lê sy kandidaatseksamen in die klassieke lettere af en ontvang dan honoris causa sy doktorstitel (Philosophiae Theoreticae Magister et Litirarum Humaniorum Doctor) waarop hy teen die einde van 1831 na Kaapstad vertrek. Hier aanvaar hy sy betrekking as hoogleraar met ’n redevoering Over den heilzamen invloed eener doelmatige studie der oude talen. In Kaapstad trou hy op 25 September 1832 met Magdalena Elizabeth Faure en uit hierdie huwelik word ses seuns en drie dogters gebore. Een van die dogters, Susanna Magdalena, is later met J.W.G. van Oordt getroud en is die moeder van die bekende skrywer D’Arbez.
Die Taalstryder duimnael|A.N.E. Changuion se huis te 17 Strandstraat, Kaapstad, soos dit in Februarie 1850 gelyk het. Van 1833 af is hy verbonde aan die redaksie van Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift en hy speel ook ’n hoofrol by die stigting van ’n Maatschappij tot verbreding van Beschaving en Letterkunde in 1834. Hy is veral bekommerd oor die toenemende verengelsing aan die Kaap. Op verskeie geleenthede hou hy openbare lesings, soos die Vorlesung über Sprachstudium überhaupt und zunächst über das Studium der Deutschen Sprache in 1837. In 1840 hou hy sy Voorlezing tot aanprijzing van de beoefening der Nederduitsche Taal en Letterkunde in Zuid-Afrika voor die Maatschappij tot verbreding van Beschaving en Letterkunde, waardeur hy poog om die Nederlandse taal te promoveer. Sy hele belangstelling is teen 1840 toegespits op die taal en letterkundige toestand in die land en uit daardie jaar is ook sy voordrag Uit ware belangstelling in de Nederduitsche Taal en Letterkunde” en sy “Voorlezing over Niets, laasgenoemde ’n uiteensetting van die werk van verskeie Nederlandse taalgeleerdes.
Die Athenaeum gaan gebuk onder gebrek aan fondse en onderlinge geskille in die raad en veral die seggenskap van die regering wat op algehele verengelsing van die inrigting afstuur. Hy bedank dus in 1842 en rig sy eie Instituut op, wat in Strandstraat geleë is en ook ’n kosskool het wat daaraan verbind is. Kort hierna gee hy die voorlesing European Education adapted to the Wants of the Youths of this Colony. Hy word gou ’n sterk konkurrent vir die Athenaeum en die latere presidente Brand en Burgers, die predikante Naudé en Kotzé, die argivaris van die Kaapkolonie Leibbrandt, die staatsman H.J. Hofmeyr en dié se oom, die teoloog N.J. Hofmeyr, is van sy studente. Hier bied Changuion sterk weerstand teen die verengelsing onder sy beleid van Europeesche Opvoeding gewijzigd naar de behoefte van deze Kolonie, soos sy advertensie lui by die oprigting daarvan. Die Athenaeum egter wil uitsluitend Engels wees en skaf onmiddellik die dubbel-medium Engels en Hollands af na sy vertrek. Changuion besef die noodsaaklikheid om tweetalig te wees, en maak ook voorsiening vir Frans en Duits, maar dit is met die Hollandse taal waarmee hy hom die ywerigste bemoei. Hy skryf dan ook verskeie taalkundige werke as hulpmiddels vir sy onderrig, insluitende Geslachtwijzer der Nederduitsche Taal van 1842, First Book of Exercises for the use of the Dutch classes in the Government Schools and in the mission and other schools receiving aid from the Colonial Treasury in 1843 en in 1844 verskyn die werk waarmee hy bekendheid verwerf in Europa, naamlik De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld, zijnde een handleiding tot de kennis dier taal, naar de plaatselijke behoefte van het land gewijzigd. Agterin die grammatika plaas hy ’n Proeve van Kaapsch Taaleigen maar ook dwarsdeur die boek vestig hy die aandag op ’n groot aantal eienaardighede van die Kaapse spraak. Dit was naamlik Changuion se oortuiging dat Nederlands se ondergang aan die Kaap slegs uitgestel kon word, maar nie verhoed kon word nie. Die Proeve was dus ’n poging om algemeen gebruikte taaleienaardighede binne Nederlands te aanvaar en die taal sodoende te sterk deur dit nader te bring aan die spreektaal. Hierdie poging word egter grootliks misverstaan en J. Suasso de Lima beskuldig hom daarvan dat hy Nederlands wil verengels, terwyl hy ook sterk teenstand van ander oorde kry. Hierna wy Changuion hom aan die skryf van sy eerste reeks Elements of Translation in easy lessons wat in 1846 verskyn en sy Wijsgeerig en Godsdienstig Leesboek. In 1848 verskyn sy Ontwerp van een Groot Nederlandsch Woordenboek.
Changuion was as taalkundige en as kerkman sy tyd vooruit en was te modern en te liberaal in sy sienswyse vir die smaak van die ortodokse metodistiese predikante aan die Kaap. Hy help in 1842 vir C.W. Stegmann met die vertaling van ’s Christens Reize naar de eeuwigheid en vertaal in 1845 ’n Handleiding voor Christenen deur Andrew Reed. Toe hy meen dat die kerk die vrye ondersoek van die Bybel aan bande wil lê, wat niks anders was as hul vrees vir die opkomende Hollandse liberalisme nie, skryf hy in De Kerkbode van 1849 tot 1851 ’n reeks artikels onder die titel Een is uw meester, namelijk Christus. Hierdie toetrede tot die teologie plaas hom in botsing met diegene aan die Kaap wat die liberalisme in die godsdiens probeer teenwerk en wat in 1847 voorstel om ’n Teologiese Kweekskool op Stellenbosch op te rig. Changuion verset hom teen die oprigting in agt briewe aan De Zuid-Afrikaan, later in 1853 afsonderlik uitgegee onder die titel Bezwaren tegen het oprigten eener Theologische Kweekschool in deze volkplanting. Ook by die Sinode van 1857, wat hy as ouderling afgevaardigde van die Kaapse gemeente bywoon, kry hy nie veel ondersteuning vir sy standpunte nie. Twee van sy oud-leerlinge (N.J. Hofmeyr, toe predikant te Calvinia, en J.H. Neethling, predikant te Prins Albert) publiseer Bezwaar tegen bezwaren of dr. A.N.E. Changuion weerlegd. Die kweekskool word in 1859 geopen en daarmee is sy invloed binne die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika tot ’n einde. Niemand kon hom egter oortuig dat sy rigting verkeerd is nie en in 1860 publiseer hy nog ’n reeks van sewe briewe in De Zuid-Afrikaan, Over de aard en de strekking der bewegingen in de Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika, waarin hy die liberalisme verdedig. In sy begrip behoort die wetenskaplike ondersoek van die Bybel nie aan bande gelê te word deur ’n ortodoksie nie en kan die resultate van so ’n ondersoek geen nadelige gevolge hê nie.
Politikus Op die gebied van die politiek, nog ’n glibberige pad, hou Changuion hom vanaf 1849 ook druk besig. Hy is instrumenteel daarin dat die planne om van die Kaap ’n strafkolonie vir misdadigers te maak, in 1849 misluk. Die Britse regering stuur naamlik in 1849 die skip Neptune met ’n aantal veroordeeldes aan boord na Kaapstad, met die voorneme om die veroordeeldes in ’n strafkolonie te vestig. Die inwoners weier egter om enige samewerking aan die regering te gee terwyl die skip in die hawe vasgemeer is en in Februarie 1850 gee die regering die stryd gewonne en verlaat die Neptune Tafelbaai. In 1853 skryf hy ’n tweetalige pamflet van aktuele belang destyds, wat in druk uitkom enige maande na die Ordonnansie vir die nuwe Konstitusie in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit is getiteld A cathechism of the constitution ordinance, followed by hints on the most essential requisites of our future members of Parliament. Kort begrip van de Constitutie Ordonnantie, waarin hy in die populêre vorm van vraag en antwoord die nodige inligting en voorligting aan stemgeregtigdes gee. Sy hoofartikels in De Zuid-Afrikaan dateer van ongeveer 1854 en sy medewerking hou hy vir sowat elf jaar vol. Hierin bekamp hy onder andere die Britse naturelle-politiek en die wetsontwerp om die Romeins-Hollandse reg met die Engelse erfreg te vervang.
Wetenskaplike skryfwerk Hy sit bo en behalwe bogenoemde bedrywighede nog steeds sy wetenskaplike werk ook voort. Uit die Frans vertaal hy ’n Geschiedenis der Fransche Protestantsche Vlugtelingen in 1854 en uit die Hollands The Pastor of Vliethuizen in 1861. Naas hierdie vertaalwerk skryf hy oorspronklike taalkundige werke soos die Beginselen der Cijferkunst in 1857 en die bekende Elements of Dutch Grammar in 1860, wat lang jare op skole in gebruik was. Dit gaan egter al hoe slegter met sy Instituut. Die ouers betaal sleg, maar die groot rede is dat hy nie meer die volle vertroue van die gemeenskap geniet nie vanweë sy godsdienstige liberalisme en uitgesproke Hollandse geestesinhoud. Die Instituut sluit in 1860 en hierna wy hy hom nog ’n tyd lank aan die voorbereiding van kandidate in sekere openbare eksamens van die Raad van Eksaminators en hy hou nog in 1862 ’n Voorlezing ter aanprijzing van een bazaar ten behoeve der dagscholen in verband met de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in de Kaapstad. Hy gee ook steeds privaat lesse. In September 1861 is hy betrokke by die inwyding van die Graaff-Reinet Athenaeum wat onderrig in Hollands sou bevorder.
Terug na Europa