200px Adam Mickiewicz
Pools-Litause digter en essayis
Handtekening 180px
Literêre stroming Romantiek
Beduidende werke 160px Pan TadeuszDziadyOda do młodościRomantycznośćSonety krymskieReduta Ordona
Musea Musée Adam Mickiewicz Parys, Frankryk Adam Mickiewicz-museum Warskou, Pole Adam Mickiewicz-museum Vilnius, Litaue Adam Bernard Mickiewicz [mi:ts'kjɛvi:tʃ], * 24 Desember 1798 in Zaosie, Russiese Ryk (tans Belarus); † 26 November 1855 in Konstantinopel, word as die nasionale digter van Pole beskou. Hy was die grondlegger en beduidendste verteenwoordiger van die Poolse Romantiese beweging.
As digter, kolomskrywer, politieke aktivis en visioenêr het Mickiewicz een van die invloedrykste persoonlikhede van die Poolse en Europese vryheidstryd in die 19de eeu geword. Hy het vanaf 1824, die jaar toe hy na Rusland verban is, die grootste deel van sy lewe as balling in die buiteland deurgebring, waarvan 22 jaar in Frankryk.
Biografie Vroeë lewe en politieke aktiwiteite duimnael|links|Die Mickiewicz-gesin se Poraj-wapen duimnael|links|Poezye Adama Mickiewicza, boekdeel I. Gedruk in Vilnius, 1822 Adam Mickiewicz is op die landgoed van sy oom in die dorp Zaosie as die tweede van vyf seuns van Mikołaj en Barbara Mickiewicz (née Majewska) gebore. Zaosie is naby Nowogródek, sowat 100 kilometer suid van Vilnius, in 'n Litaus-Belarussiese streek van die destydse Russiese Tsareryk geleë. Sy vader Mikołaj Mickiewicz, 'n advokaat, het tot die szlachta, die adellike klas van die Pools-Litause Gemenebes, behoort en die erflike Poraj-wapen gevoer. As gevolg van die Poolse Delinge het Pole-Litaue op daardie tydstip reeds nie meer as selfstandige staat bestaan nie.
Min is bekend oor Adam se jeug. Mikołaj Mickiewicz het sy seuns in die gees van die Verligting en sy progressiewe gedagtes as patriotte opgevoed. Adam Mickiewicz is daarnaas reeds as kind deur die sprokies en legendes asook die leef- en denkwêreld van die eenvoudige landelike bevolking beïnvloed wat in sy latere literêre werk weerspieël sou word – net soos die omgewing van sy geboortedorp met sy woude, weivelde en akkers, die geheimsinnige kasteel bo-oor die dorp, en die Świteź-meer wat later die toneel van twee ballades sou word.Bonifacy Miązek (red.): Adam Mickiewicz. Leben und Werk. Frankfurt am Main: Peter Lang/Europäischer Verlag der Wissenschaften 1998, bl. 9 In 1801 het die gesin na die stad Nowogródek verhuis.
Adam het vanaf 1807 by die Dominikaanse kloosterskool in Nowogródek skoolgegaan. Die onderrigmedium was Pools en sy skoolvakke het onder meer Latyn, Frans, Russies, Godsdiens, Wiskunde en Aardrykskunde ingesluit. Adam het later self les gegee om geld te verdien. Op 13-jarige ouderdom het hy sy eerste gedig geskryf – met 'n brand in sy geboortedorp, waarin sy pa ernstig beseer is, as onderwerp. Mikołaj Mickiewicz is net ses maande daarna oorlede. Sy ontydige afsterwe het die gesin in armoede gestort.www.zeit.de: Zeitläufe – Das Vaterland heißt Freiheit. In: Die Zeit, nommer 48, 24 November 2005
Mickiewicz het op 12 September 1815 in Vilnius aangekom om aan die keiserlike universiteit te studeer. Hy kon in die huis van sy naamgenoot pastoor Józef Mickiewicz intrek wat arm studente ondersteun het. Die vier jaar wat hy in Vilnius deurgebring het, het sy persoonlikheid en werk tot 'n groot mate beïnvloed. Ná die eerste studiejaar met kursusse in natuurkunde, skeikunde, algebra, Latyn en Grieks het Adam die graad van 'n kandidaat in wysbegeerte behaal. In die volgende jaar het hy lesings in literatuur en kuns gevolg. Naas die klassieke antieke tale, poësie en retoriek het hy groot belang in algemene en ook die geskiedenis van Pole en Litaue gestel en dit later tot 'n belangrike onderwerp in sy gedigte gemaak.
duimnael|Adam Mickiewicz-huis en -museum in Nowogródek, tans Novogrudok in Belarus duimnael|Die bouvalle van die kasteel in Novogrudok In 1817 het hy saam met Thom Zam en ander vriende 'n geheime organisasie gestig, die Genootskap van Filomate, wat hom vir die onafhanklikheid van die Russiese Ryk beywer het. Ná die verwerwing van sy akademiese graad het hy tussen 1819 en 1823 as onderwyser by 'n skool in Kaunas gewerk. Aanvanklik het hy belanggestel in Voltaire, een van die beduidendste filosowe van die Franse Verligting, tog het die werke van Friedrich Schiller en Lord Byron, twee belangrike Romantiese skrywers, hom met nog meer bewondering gevul.
In die herfs van 1823 is Mickiewicz in verband met sy politieke aktiwiteite (sy lidmaatskap in die Genootskap van Filomate) in hegtenis geneem en tydelik saam met 'n groep vriende ses maande lank in 'n Basilianer-klooster vlakby die Aušra-poort geïnterneer. Die toestande waaronder die jong mans in Vilnius aangehou is, was draaglik in vergelyking met plattelandse tronke – en die wagters omkoopbaar. Sodoende was die Filomate in staat om snags in Mickiewicz se ruim tronksel te vergader en oor godsdiens, politiek en die toekoms van die land te debatteer.Tomas Venclova: Vilnius. Eine Stadt in Europa. Frankfurt am Main: Suhrkamp 2006, bl. 140 In die volgende jaar is Mickiewicz na Sentraal-Rusland verban. In Vilnius had hy al twee klein digbundels gepubliseer wat deur die Slawiese publiek positief ontvang is.
By sy aankoms in Sint Petersburg is hy deur die leidende literêre kringe verwelkom en het hier sowel vir sy goeie maniere en sy buitengewone improvisasietalent gewild geraak. Die besoek wat hy in 1825 aan die Krim-skiereiland gebring het, het hom tot 'n versameling sonnette geïnspireer (Sonety krymskie – "Die Krim-sonette"), gekenmerk deur hulle elegante ritme en ryk Oosterse invloede. Die sonette Bakczysaraj ("Die storm") en "Die graf van gravin Potocka" word as die beste gedigte in hierdie versameling beskou. Net twee jaar vroeër het ook die Russiese digtervors Aleksander Poesjkin tot die Krim-skiereiland aangetrokke gevoel en daaroor in sy werk "Die fontein van Baktsjisaraj" geskryf.
In 1828 het Mickiewicz se Konrad Wallenrod verskyn, 'n verhalende gedig waarin hy die veldslae beskryf wat tussen die Duitse Ridderorde en heidense Litause magte gelewer is. Die werk bevat subtiele verwysings na die vyandskap wat oor 'n lang tydperk tussen Pole en Russe geheers het, tog het Mickiewicz daarin geslaag om aan die Russiese sensuur te ontduik sodat die gedig gepubliseer kon word, saam met 'n leuse wat aan Niccolò Machiavelli ontleen is: "Dovete adunque sapere come sono duo generazioni da combattere — bisogna essere volpe e leone" ("Jy hoef te weet dat daar twee maniere van veg is – jy moet 'n vos en 'n leeu wees").
Reise na die buiteland duimnael|Adam Mickiewicz in 1828. Portret deur Walenty Wańkowicz Ná 'n vyfjarige ballingskap in Rusland is die digter toegelaat om na die buiteland te reis. Mickiewicz het al in die geheim besluit om nie meer na Rusland of sy geboorteland terug te keer solank dit onder Russiese heerskappy sou staan nie. Hy het vervolgens na Weimar in Duitsland gegaan waar hy kennis met Johann Wolfgang von Goethe gemaak het. Mickiewicz het ter geleentheid van Goethe se 80ste verjaardag op 28 September 1829 'n besoek aan die Duitse digtervors gemaak wat hom hartlik ontvang en as "die grootste digter van sy generasie" beskryf het.François-Xavier Coquin: Un regard sur Mickiewicz, in: Mickiewicz, la France et l’Europe, Travaux publiés par l’Institut d’études slaves, Collège de France, Parys 2005, bl. 29 Mickiewicz het verder deur Duitsland gereis, op pad Italië toe, en oor die Splügen-bergpas na Milaan, Venesië en Florence getoer om hom uiteindelik in Rome te vestig.
duimnael|links|Viale Adamo Mickievicz in Rome In Rome het hy die derde deel van sy gedig Dziady ("Aand van die Voorvaders", Litaus Vėlinės) voltooi wat na die voorouerverering verwys soos dit vroeër deur Slawiese en Baltiese volke beoefen is, asook Pan Tadeusz, sy langste gedig wat ook as sy meesterwerk beskou word. Die laasgenoemde werk gee 'n indruk van Litaue op die vooraand van Napoléon Bonaparte se militêre ekspedisie na Rusland in 1812. In hierdie "landelike idille", soos die slawis Aleksander Brückner dit genoem het, beskryf Mickiewicz die landgoedere van Poolse magnate met hulle ietwat onstuimige maar steeds egte gasvryheid. Hulle word geportretteer op 'n tydstip toe die doodsklok van hul nasionalisme skynbaar al lui, aldus Brückner, en sodoende het die gedig iets melancholies en ook iets van 'n lyksang, ten spyte van die liefdesverhaal wat die hoofgebeurtenis vorm.Vergelyk Aleksander Brückner: Die Romantik der Emigrationslitteratur. In: Geschichte der polnischen Litteratur. Band 1 von Litteraturen des Ostens in Einzeldarstellungen. Berlyn: C.F. Amelangs 1901, bl. 358
Mickiewicz het vervolgens oor Litaue geskryf wat hy sy "Vaderland" genoem het (hierby het hy na sy geboorteland, die voormalige Groothertogdom Litaue verwys). As 'n balling wat huis toe verlang gee hy 'n beskrywing van "Litause" hemele en "Litause" woude en wolke, asook van die vreemde geluide wat in die ongerepte oerwoude van 'n land gehoor kan word waar bome as heilig geag is.
Lewe in Parys In 1832 het Mickiewicz Rome verlaat om hom in Parys te vestig, tog is sy lewe in die Franse hoofstad 'n tyd lank deur armoede en ongelukkigheid geteister. Op 22 Julie 1834 het hy met Celina Szymanowska, die dogter van die komponis en konsertpianis Maria Agata Szymanowska, getrou. Uit die huwelik is ses kinders gebore, tog was dit steeds oorskadu deur finansiële moeilikhede (Adam het nie oor 'n vaste bron van inkomste beskik nie) en Celina se psigiese probleme. Nadat sy vrou geestesiek geraak het, het huwelikstwis net soos Celina se siekte die aanleiding vir 'n mislukte selfmoordpoging gegee – op 17 of 18 Desember 1838 het Adam Mickiewicz by 'n venster uit gespring.
Nadat hy in 1839 as professor vir Latynse letterkunde in Lausanne, Switserland aangestel is, is in die volgende jaar die nuut ingestelde leerstoel vir Slawiese tale en letterkunde by die Paryse Collège de France aan Mickiewicz toegeken. Hier het hy saam met ander demokratiesgesindes soos die geskiedkundiges Jules Michelet en Edgar Quinet in opposisie tot die Franse Julie-monargie gestaan.
Hy sou hierdie leerstoel egter net vir sowat drie jaar beklee. Mickiewicz het sedert 1841 veral onder die invloed van die Poolse Messiaanse filosoof Andrzej Towiański (1799–1878) en sy aanhangers gestaan, een van sowat honderd radikale politieke sektes wat destyds in Frankryk aktief was, en Mickiewicz se lesings het geleidelik in 'n mengsel van religie en politiek ontaard sodat hy selfs deur die Franse regering gesensureer is.
duimnael|links|Die tydelike graf van Adam Mickiewicz in 'n kript onderaan sy woonstel in Konstantinopel (die gebou huisves tans die Adam Mickiewicz-museum)
Hy is uiteindelik daarvan beskuldig dat hy sy akademiese posisie vir politieke aktiwiteite sou misbruik – 'n verwyt wat sy akademiese loopbaan beëindig het. Op 28 Mei 1844 het hy sy laaste klas gegee. Sy siel was op hierdie tydstip in 'n toenemende mate deur religieuse mistisisme verdonker. 'n Bloemlesing uit sy lesings is in vier boekdele gepubliseer. Alhoewel hulle relevante kritiese uitsprake behels, bly die filologiese gedeelte volgens huidige standaarde onbevredigend – Mickiewicz was immers 'n pionier op die gebied van vergelykende Slawiese literatuurgeskiedenis wat nog nie op enige wetenskaplike bron kon steun nie.Miązek (1998), bl. 65 Sy kennis van Slawiese letterkunde was tot Poolse en Russiese literatuur beperk, waarby hy met die laasgenoemde slegs tot by die periode omstreeks 1830 vertroud was. Dit was dan ook eerder sy vurige retoriek en die manier waarop hy die kultuurgeskiedenis en gedagtewêreld van Oos-Europa aan sy gehore verduidelik het wat van Mickiewicz se lesings 'n trekpleister vir Poolse emigrante, Russe en ander Slawe, maar ook baie Franssprekende Parysenaars gemaak het.
duimnael|Mickiewicz se sarkofaag in 'n kript van die Wawel-katedraal in Krakow