Die Holland-Afrika Lyn (HAL) was ‘n Nederlandse skeepsredery wat ‘n passasiers- en vragvervoerdiens tussen hawens in Noord- en Wes-Europa en ‘n groot aantal hawens aan die ooskus en weskus van Afrika bedryf het.

Geskiedenis Ná die Eerste Wêreldoorlog is ‘n maatskappy gevorm wat ‘n direkte skeepsverbinding tussen Nederland en Suid-Afrika gevorm het. Die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Stoomvaart Maatschappij (later bekend as die Vereenigde Nederlandsche Scheepvaartmaatschappij) begin in 1919 met drie tweedehandse vragskepe van 5 000 ton elk. Reeds in 1921-22 plaas die firma twee splinternuwe skepe van 6 000 ton elk, die Springfontein en die Klipfontein vir passasiers- en vragvervoer, op die roete. Sedert 1924 werk dit nou saam met die Holland-Oos-Afrika Lyn en in 1932 smelt hulle saam onder die naam Holland-Afrika Lijn. In 1934-35 word die skepe Bloemfontein en Jagersfontein (elk van 10 000 ton) en die Boschfontein (7 100 ton) by die vloot gevoeg. Daarna volg ander “fonteinskepe”. Die HAL was nou verbonde tot die Nederlandse historiese kulturele en sake-aanwesigheid in Suid-Afrika. Met die opkoms van passasiersvervoer per vliegtuig was daar in die laat 1960’s nog slegs behoefte aan vragskepe. In 1970 smelt die HAL saam met ander skeepvaartmaatskappye en vorm Nedlloyd. Van 1919 tot 1970 was die kantoor van die HAL in Kaapstad op die hoek van Waterkant- en Laer-Burgstraat.

Roete Op elke reis is nie by alle hawens aangemeer nie. In Europa was die roete via Hamburg, Bremen, Amsterdam, Rotterdam, Antwerpen, Duinkerken, Southampton en Dover. Die skepe na Oos-Afrika het via die Middellandse See by die volgende hawens verbygegaan: Barcelona in Spanje, Marseille in Frankryk, Genua in Italië, Port Said, (dan deur die Suezkanaal) en Suez in Egipte, Port Soedan aan die Rooisee, Aden in Jemen, Mombasa in Kenia, verskeie hawens in Tanzanië (Dar-es-Salaam, Tanga, Mtwara, Zanzibar, Pemba, Mikindani, Lindi), daarna die hawens in Mosambiek (Beira, Mocambique, Ibo, Nacala, Lourenço Marques) na Durban. Die weskusroete het gegaan oor die Kanariese Eilande met die hawens by Las Palmas en Tenerife, Kaapstad, Mosselbaai, Port Elizabeth, Oos-Londen tot by Durban.

Skepe Die bekende “fonteinskepe” was die Elandsfontein, Springfontein, Klipfontein, Oranjefontein, Jagersfontein, Randfontein, Rietfontein, Boschfontein en die Bloemfontein.

Lees ook Klipfontein (skip) Norddeutscher Lloyd Union-Castle-Redery Woermann-lyn

Bibliografie https://www.benjidog.co.uk/TheShipsList/NZASM.php

Kategorie:Vervoer Kategorie:Rederye