Maatskappystrukture kan baie ingewikkeld wees. In hierdie artikel word 'n oorsig verskaf van kernbegrippe wat met sodanige sturkture in verband staan. Hierdie begrippe sluit in "houermaatskappy", "moedermaatskappy", "filiaal" en "mede-filiaal", met verwysing, onder andere, na Internasionale Finansiële Verslagdoeningstandaarde (IFRS) en die Maatskappywet van Suid-Afrika. Dit som die relevante rekeningkundige vereistes, maatskappyregtelike implikasies en praktiese oorwegings vir groepverslagdoening op.
Omskrywing van terminologie Moedermaatskappy 'n Entiteit wat een of meer ander entiteite (sy filiale) beheer, word 'n Moedermaatskappy genoem. "Moedermaatskappy" is 'n rekeningkundige en regsterm wat gebruik word wanneer 'n entiteit die bevoegdheid het om die relevante aktiwiteite van 'n ander entiteit te rig en die vermoë het om die opbrengste daarvan te beïnvloed. Dit kan ook 'n "houermaatskappy" of 'n "beheermaatskappy" genoem word.
Filiaal 'n Entiteit wat deur 'n ander entiteit (die moeder- of houermaatskappy) beheer word, word 'n filiaal genoem. Beheer ontstaan gewoonlik deur stemreg, die aanstelling van direksielede, kontraktuele reëlings of ander meganismes. Filiale is algemeen in moderne sakebedrywighede en die meeste multinasionale maatskappye struktureer hulle sake deur die skepping en aankoop van filiale. 'n Suid-Afrikaanse voorbeeld van moedermaatskappye is Naspers en Bidvest, terwyl Berkshire Hathaway en Walt Disney voorbeelde is van internasionale moedermaatskappye. Hierdie maatskappye het filale in 'n verskeidenheid van bedryfstakke. IBM, Xerox en Microsoft se filiale, daarenteen, fokus met sy filiale hoofsaaklik op die tegnologiesektor. In Suid-Afrika fokus Ou Mutual en Sanlam hoofsaaklik op die versekeringsbedryf.
Filiale is afsonderlike regsentiteite vir doeleindes van belasting, regulering en aanspreeklikheid. Om hierdie rede verskil hulle van afdelings ("divisies"), wat besighede is wat volledig by die moedermaatskappy geïntegreer is en nie regtens of andersins daarvan onderskei word nie. 'n Filiaal kan dus afsonderlik van sy moedermaatskappy dagvaar en gedagvaar word, en sy verpligtinge is normaalweg nie die verpligtinge van die moedermaatskappy nie. Krediteure van 'n insolvente filiaal kan egter moontlik 'n uitspraak teen die moedermaatskappy verkry indien hulle die korporatiewe sluier kan deurbreek en kan bewys dat die moeder- en filiaalmaatskappy bloot die alter ego's van mekaar is. Omdat eienaarskap van 'n filiaal gewoonlik verkry word deur die besit van 'n meerderheid van sy aandele, gee dit die moedermaatskappy die nodige stemreg om sy genomineerdes as direkteure van die filiaal te verkies en sodoende beheer uit te oefen. Daar is egter ook ander maniere waarop beheer verkry kan word (sien hieronder) en die presiese reëls oor watter mate van beheer nodig is en hoe dit verkry word, kan ingewikkeld wees. 'n Moedermaatskappy hoef nie noodwendig die groter of "magtiger" entiteit te wees nie. Dit is moontlik dat 'n moedermaatskappy kleiner as sy filiaal is. Omgekeerd kan die moedermaatskappy groter wees as sommige of al sy filiale (indien dit meer as een het), aangesien die verhouding slegs deur beheer bepaal word. Die moedermaatskappy en die filiaal hoef nie noodwendig op dieselfde plekke sake te doen of dieselfde bedrywighede te verrig nie. Dit is selfs moontlik dat hulle mededingers in dieselfde mark kan wees. Sulke situasies kom gereeld ná 'n vyandige oorname of 'n vrywillige samesmelting voor. Omdat die moedermaatskappy en die filiaal afsonderlike regsentiteite is, is dit ook heeltemal moontlik dat een van hulle by regsgedinge, bankrotskap, belastingversuim, strafregtelike vervolging of 'n ondersoek betrokke kan wees, terwyl die ander nie is nie.
Mede-filiaal 'n Filiaal wat deur dieselfde moedermaatskappy as een of meer ander filiale beheer word, is 'n mede-filiaal van daardie ander filiaal. Twee of meer filiale wat dieselfde moedermaatskappy het, sal dus as "mede-filiale" beskryf word.
"Groep", "konsolidasie" en "groepstate" 'n Filiaal kan self filiale hê, wat op hul beurt weer hul eie filiale kan hê. ''n Moedermaatskappy en sy filiale saam word "die groep" genoem. In rekeningkunde word vereis dat 'n groep jaarliks een stel finansiële state moet opstel asof dit 'n enkele maatskappy is. So 'n stel finansiële state is dan 'n konsolidasie van die finansiële state van die moedermaatskappy en sy filiale en dit word die "gekonsolideerde state" of ook die "groepstate" genoem. Omdat maatskappystukture kompleks kan wees, kan dit ook lei tot komplekse groepstate. 'n Voorbeeld van sodanige kompleksiteit is die volgende: mede-filiale en die moedermaatskappy dryf onderling handel en maak wins uit sodanige onderlinge transaksies. Omdat die groepstate die posisie moet reflekteer asof die groep 'n enkele maatskappy is, moet sodanige onderlinge winste natuurlik uitgeskakel word aangesien 'n enkele maatskappy natuurlik nie met homself kan handel dryf en wins maak nie. Maar as enige van die maatskappye in die groep ook aandeelhouers het wat nie deel is van die groep nie ("buite-aandeelhouers", "minderheidsaandeelhouers"), kan wins wel uit sodige transaksies met "buite-aandeelhouers" gemaak word, en moet die nodige aanpassings daarvoor ook aangebring word.
Beheer – die kernbegrip Die woord "beheer" kan verskillende betekenisse in verskillende kontekste hê, byvoorbeeld in verskillende areas van die Reg (korporatiewe reg, kompetisie wetgewing, wetgewing oor finansiële markte, ens.) en in Rekeningkunde. Byvoorbeeld, as Maatskappy A die meeste van Maatskappy B se aandele koop, kan dit moontlik wees dat die transaksie op sigself nie een van beheer daarstel nie, aangesien Maatskappy A reeds voor die aankoop van die aandele geag is om Maatskappy B te beheer ingevolge IFRS en dus reeds gekonsolideerde finansiële state gepubliseer het.
Beheer kan direk of indirek wees. Direkte beheer bestaan waar die moedermaatskappy direk beheer oor 'n filiaal uitoefen. Indirekte beheer ontstaan wanneer 'n filiaal van die moedermaatskappy self filiale het, welke filiale dan indirek deur die uiteindelike moedermaatskappy beheer word.
IFRS-benadering Beheer is die bepalende faktor om 'n belegging as 'n filiaal te klassifiseer en dus vereis dat gekonsolideerde state opgestel moet word. Ingevolge IFRS 10 – Gekonsolideerde Finansiële State (par. 7) beheer 'n belegger 'n beleggingnemer wanneer al drie die volgende elemente teenwoordig is:
Bevoegdheid oor die beleggingsnemner (bestaande regte wat die huidige vermoë gee om relevante aktiwiteite te rig); Blootstelling aan, of regte op, verskeie opbrengskategorieë uit die betrokkenheid by die beleggingnemer; Die vermoë om daardie bevoegdheid te gebruik om die opbrengste te beïnvloed.
Regsperspektief (Suid-Afrika) Die Maatskappywet 71 van 2008 gebruik die begrip beheer in die definisies van "filiaal" en "beheermaatskappy" (sien artikel 86 en verwante bepalings en regulasies). Beheer word gewoonlik deur aandeelhouding en stemreg bepaal, maar dit kan ook uit ander reëlings voortspruit.
Rekeningkundige implikasies IFRS 10 vereis dat 'n moedermaatskappy gekonsolideerde finansiële state opstel wat al sy filiale insluit, tensy dit aan spesifieke uitsonderings voldoen. Gekonsolideerde finansiële state stel die finansiële posisie en resultate van die moedermaatskappy en sy filiale voor as een ekonomiese entiteit.
Indien aan sekere vereistes voldoen word, hoef ‘n groep nie gekonsolideerde state op te stel nie. Hierdie vereistes sluit in
as dit 'n volfiliaal is of 'n gedeeltelik besitte filiaal van 'n ander entiteit is, en al die ander eienaars daarvan, insluitend dié wat andersins nie stemgeregtig is nie, geen beswaar daarteen het dat die moederentiteit nie gekonsolideerde finansiële state voorlê nie; die entiteit se skuld- of ekwiteitsinstrumente nie op 'n openbare mark verhandel word nie; die entiteit nie sy finansiële state by 'n regulerende owerheid hoef in te dien nie; enige van die moederenititeite in die groep finansiële state opstel wat vir openbare gebruik beskikbaar is en aan IFRS voldoen.
Verskeie alternatiewe tot konsolidasie van die finansiële state is ook moontlik. So byvoorbeeld laat IAS 27 'n moedermaatskappy toe om beleggings in filiale, geassosieerde ondernemings en gesamentlike ondernemings teen koste, ingevolge IFRS 9, of volgens die ekwiteitsmetode (ingevolge waarvan 'n gedeelte van die resultate van die geassiosieerde in die moedermaatskappy se state opgeneem word) te verantwoord.
Regs- en korporatiewe bestuursaspekte ingevolge Suid-Afrikaanse reg Die Maatskappywet (71 van 2008) reguleer die stigting van maatskappye, die pligte van direkteure, groepstrukture en transaksies tussen verwante partye, byvoorbeeld tussen maatskappye in dieselfde groep. Voorts bevat die Wet bepalings oor finansiële verslagdoening, ouditeure en openbaarmaking van verwante partye transaksies wat op groepmaatskappye van toepassing is.
Direkteure van moeder- en filiaalmaatskappye se pligte word ingevolge die Maatskappywet en die gemenereg gereël. Binne maatskappygroepe vereis aangeleenthede soos botsende belange, groepsfinansiering, waarborge en intragroep-oordragte noukeurige bestuur en toepaslike openbaarmaking. Terselfdertyd bevat die Maatskappywet en regulasies beskermingsmaatreëls en remedies aan minderheidsaandeelhouers.
Verslagdoening en openbaarmaking Gekonsolideerde finansiële state moet onder andere die volgende insluit:
'n Gekonsolideerde staat van finansiële posisie; 'n Staat van wins of verlies en ander omvattende inkomste; 'n Staat van veranderinge in ekwiteit; 'n Kontantvloeistaat; en Aantekeninge by die finansiële state.
Hierbenewens vereis IFRS 12 onder andere omvattende openbaarmaking van die volgende aspekte:
Wesenlike oordele en aannames by die bepaling van beheer; Die samestelling van die groep; Die aard van verhoudings met nie-gekonsolideerde gestruktureerde entiteite; Opgesomde finansiële inligting van wesenlike filiale; en Beperkings of verbintenisse wat die groep raak.
Verwante standaarde Daar is ook ander rekeningkundige standaarde wat in aanmerking geneem moet word in die geval van groepstrukture.
Afsonderlike finansiële state: IAS 27 – Afsonderlike Finansiële State IFRS Foundation, Londen (2026), IAS 27 skryf die openbaarmakingsvereistes voor van beleggings in filiale, gesamentlike ondernemings en geassosieerdes in gevalle waar afsonderlike finansiële state gepubliseer word, eerder as gekonsolideerde state.
IFRS 3 – Besigheidsamevoegings IFRS Foundation, Londen, 2026, IFRS 3 handel oor hoe 'n onderneming die bates en laste van 'n verkrygende onderneming moet waardeer, asook buitebelange en hoe om klandisiewaarde, indien enige, voortspruitend uit só 'n verkryging te hanteer. Dit dui ook aan wat in sulke omstandighede openbaar moet word.
IFRS 12 - Openbaarmaking van Belange in Ander Entiteite IFRS Foundation, Londen (2026), IFRS 12vereis uitgebreide openbaarmaking oor belange in filiale, geassosieerde ondernemings, gesamentlike reëlings en nie-gekonsolideerde gestruktureerde entiteite, insluitend die samestelling van die groep.
Sien ook IASB Konseptuele Raamwerk vir Finansiële Verslagdoening King V verslag SAICA se tegniese riglyne en interpretasies IFRS Interpretations Committee-besluite IFRS Foundation-personeeldokumente Suid-Afrikaanse regspraak en regsriglyne oor groepstrukture, direkteurspligte en beskerming van minderheidsaandeelhouers
Verwysings
Kategorie:Rekeningkunde