1922 is 'n Amerikaanse grurolprent van 2017 wat deur Zak Hilditch geskryf en geregisseer is; dit is geskoei op Stephen King se novelle met dieselfde naam van 2010. Dit gaan oor 'n boer (Thomas Jane) wat met sy seun (Dylan Schmid) saamsweer en sy vrou (Molly Parker) vermoor. Albei word deur skuldgevoelens gery. Ander sterre is Kaitlyn Bernard, Bob Frazer, Brian d'Arcy James en Neal McDonough.

Die première was op 23 September 2017 op die Fantastic Fest in Austin, Texas, voordat Netflix dit op 20 Oktober uitgereik het. Die prent het positiewe resensies gekry.

Rolverdeling Thomas Jane as Wilfred "Wilf" Leland James Molly Parker as Arlette Christina Winters James Dylan Schmid as Henry "Hank" Freeman James Kaitlyn Bernard as Shannon Cotterie Bob Frazer as mnr. Lester Brian d'Arcy James as sheriff Jones Neal McDonough as Harlan "Harl" Cotterie

Storielyn

Dit is 1922 en Wilfred "Wilf" James is 'n boer wat saam met sy vrou, Arlette, en hulle 14-jarige seun, Henry, in Nebraska woon. Arlette erf nog grond van haar pa en wil hê die gesin moet hulle plaas verkoop en na Omaha verhuis. Toe Wilf beswaar maak, beplan sy om van hom te skei en Henry saam met haar te neem. Wilf oorreed Henry om hom te help om Arlette te vermoor, want Henry is verlief op 'n buurmeisie, Shannon Cotterie, en wil nie trek nie.

Wilf maak Arlette dronk en Henry bedek haar gesig terwyl Wilf haar keelaf sny. Hy gooi haar liggaam in 'n droë put, waar rotte daarop teer. Hulle word deur 'n prokureur besoek, wat nie hulle storie wil glo dat Arlette die huis in die nag verlaat het nie. Wilf en Henry maak 'n koei dood en gooi die dier in die put om Arlette se lyk te bedek en om 'n verskoning te hê om die put op te vul. Sheriff Jones ondersoek hulle huis, maar kry geen tekens van 'n msdaad ne.

Mettertyd raak Henry al hoe depressiewer en hy maak Shannon swanger. Haar ouers besluit om haar na 'n Katolieke instelling te stuur. Henry steel Wilf se voertuig en loop saam met Shannon weg.

Namata die winter vorder, drink Wilf al hoe meer en hy sien rotte oral. Die huis raak vervalle en 'n rot byt hom aan die hand. Die wond raak besmet en Wilf kry 'n visioen van sy vrou, omring deur die rotte wat haar lyk gevreet het. Sy vertel hom van Henry en Shannon se lot: Hulle het rowers geword en was bekend as die "Sweetheart Bandits". Tydens 'n rooftog word Shannon geskiet. Sy verloor die baba en sterf eindelik. Henry gaan lê langs haar en skiet homself.

Wilf word deur die sheriff op sy plaas aangetref en hy neem Wilf hospitaal toe, waar sy hand afgesit word. Daar word aan hom vertel 'n ongeïdentifiseerde vou se liggaam is langs die pad gekry, en die sheriff neem aan dit is Arlette s'n. Henry se liggaam word na sy pa teruggebring. Dit is, nes sy ma s'n, deur rotte gevreet. Nadat Wilf sy plaas vir goedkoop verkoop het, verhuis hy na Omaha en kry 'n werk, maar die rotte bly hom volg.

Agt jaar later, in 1930, skryf Wilf sy bekentenis. Teen die tyd dat hy klaar is, hardloop honderde rotte in sy kamer rond. Die lyke van Arlette, Henry en Shannon verskyn aan Wilf. Met dieselfde mes waarmee sy ma vermoor is in sy hand, sê Henry vir Wilf hy sal vinnig sterf.

Ontvangs 1922 het positiewe resensies gekry. Op Rotten Tomatoes was 91% van 44 resensies positief, met 'n gemiddelde telling van 6,9/10. Die webtuiste se konsensus lui: "Danksy die regisseur, Zak Hilditch, se geduldige storievertelling en die sterk spel van die hoofrolspeler, Thomas Jane, is 1922 een van die bevredigendste verwerkings van Stephen King se werk." Op Metacritic het die prent 'n telling van 70 uit 100 gekry gebaseer op 8 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" ontvangs.

John DeFore van The Hollywood Reporter skryf: "Die prent se skrikoomblikke is nie oordrewe nie en beeld eerder die protagonis se lyding as 'n stadige verrotting uit."

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente