21 is 'n Amerikaanse dramarolprent van 2008 wat deur Robert Luketic geregisseer is. Dit is geïnspireer deur die verhaal van die "MIT Blackjack Team" soos vertel in Bringing Down the House, die topverkoperboek van 2003 deur Ben Mezrich. Die hoofakteurs is Jim Sturgess, Kevin Spacey, Laurence Fishburne en Kate Bosworth. Die prent het gemengde resensies gekry, maar was 'n sukses by die loket. In die eerste en tweede naweek ná sy uitreiking was dit die nommer-een-prent in die VSA en Kanada.

Rolverdeling

Jim Sturgess as Ben Campbell Kate Bosworth as Jill Taylor Kevin Spacey as Micky Rosa Laurence Fishburne as Cole Williams Aaron Yoo as Choi Liza Lapira as Kianna Jacob Pitts as Fisher Josh Gad as Miles Sam Golzari as Cam Jack McGee as Terry Helen Carey as Ellen Campbell, Ben se ma Jack Gilpin as Bob Phillips

Storielyn

Ben Campbell, ’n wiskundestudent aan die Massachusetts-instituut vir Tegnologie (MIT), word by Harvard se Mediese Skool aanvaar, maar kan nie die $300 000 klasgeld bekostig nie. Hy doen aansoek vir 'n gesogte beurs, wat die volle koste sal dek. Hy het egter strawwe kompetisie en die direkteur sê vir hom dat die beurs slegs toegeken sal word aan die student wat hom die meeste beïndruk.

Terug by MIT nooi professor Micky Rosa Ben om by die MIT-blackjackspan aan te sluit, wat bestaan uit medestudente Choi, Fisher, Jill en Kianna. Deur kaarte te tel en geheime seine te gee verhoog hulle hulle kans om in casino’s te wen. Oor naweke word die span na Las Vegas gevlieg en Ben begin sy luukselewe as ’n hoërolspeler geniet. Cole Williams, die hoof van sekuriteit by Planet Hollywood, begin die span egter dopgehou en op Ben fokus.

Tydens die volgende reis na Vegas versuim Ben om van die tafel weg te stap toe ’n sein gegee word, wat veroorsaak dat hy $200 000 verloor. Micky word kwaad, verlaat die span en eis dat Ben die $200 000 terugbetaal. Ben en drie van die studente besluit dat hulle sonder Micky sal voortgaan om blackjack te speel, maar hulle word gevang deur Williams, wat deur Micky ingelig is. Williams slaan Ben en waarsku hom om nie terug te keer nie. Hy onthul ook sy eie persoonlike geskiedenis met Micky, eens ’n suksesvolle kaartteller wat Williams sy werk laat verloor het nadat hy meer as ’n miljoen dollar in een aand by sy casino gewen het terwyl hy by sy pa se begrafnis was.

Boonop word al die geld wat Ben gemaak het uit sy koshuiskamer gesteel. Met die vermoede dat Micky daarvoor verantwoordelik is, beraadslaag Ben met sy spanmaats en hulle oorreed Micky om ’n laaste reis na Las Vegas te onderneem voordat die casino’s gesigherkenningsagteware installeer. Die span trek vermommings aan en keer terug na Planet Hollywood, waar hulle $640 000 wen voordat Williams hulle opmerk.

Micky vlug met die sak skyfies, maar besef hy is gefnuik toe hy ontdek die sak is vol sjokolademuntstukke. Daar word onthul dat Ben en Williams ’n ooreenkoms aangegaan het om Micky na Vegas te lok sodat Williams hom kon vang.

Ben se jarelange vriende (met wie hy 'n rusie gehad, maar weer versoen het), Miles en Cam, blyk ook baie goed te wees met kaarttelling, en werk saam met Choi en Kianna tydens Micky se gevangeneming; gevolglik maak die span baie geld. Die rolprent eindig met Ben wat die verhaal aan die verstomde en oorweldigde beursdirekteur vertel.

Ontvangs Loket In sy openingsnaweek het 21 altesaam $24 105 943 in die VSA en Kanada gemaak en was dit die gewildste prent by die loket. Dit was ook in sy tweede naweek nommer een. Die prent het eindelik wêreldwyd $157 802 470 gemaak, met 'n begroting van $35 miljoen.

Resensies Op Rotten Tomatoes was 36% van 172 resensies positief, en het die prent 'n gemiddelde telling van 5,2/10 gekry. Die webtuiste se konsensus lui: "21 kon ’n fassinerende studie gewees het as dit nie die ware verhaal waarop dit geskoei is, met alledaagse melodrama vervang het nie." Op Metacritic het die prent 'n gemiddelde telling van 48 uit 100 gekry, gebaseer op 29 resensies, wat dui op 'n "gemengde of gemiddelde" ontvangs.

Joe Leydon van die tydskrif Variety was positief oor die akteurs en noem dit 'n "glad afgewerkte pakket wat behoort byval te vind by enigiemand wat al ooit daarvan gedroom het om groot te wen". Hy het egter gevoel 'n bekender rolverdeling kon dalk meegebring het dat dit beter by die loket gevaar het. Desson Thomson van The Washington Post het geskryf: "Die storie is dalk op ware gebeure gegrond, maar die grootste deel voel uit en uit vals."

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente