Die Sint-Stanislaus- en Sint-Ladislauskatedraal in Vilnius (Litaus: Vilniaus šv. vyskupo Stanislovo ir šv. Vladislovo arkikatedra bazilika, Pools: Bazylika Archikatedralna św. Stanisława i św. Władysława w Wilnie, kort Vilniaus katedra) is die Rooms-Katolieke katedraal van die aartsbisdom Vilnius, die hoofstad van Litaue, en die belangrikste plek van aanbidding vir Rooms-Katolieke gelowiges in die land. Aan die katedraal is in 1985 die eretitel Basilica minor verleen. Die katedraal bevind hom in die historiese stadskern van Vilnius wat in 1994 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys is.

Die katedraal is aan die voet van die burgheuwel van die grootvorstelike paleis, die Gediminas-burg, in die historiese stadskern van Vilnius geleë en staan dus op historiese grond: hier was 'n vroeë nedersetting geleë en die kerkgebou is dus nou verweef met die Litause geskiedenis. Dit is ook hier waar die grootvorste van Litaue gekroon en beduidende Litause persoonlikhede ter ruste gelê is.

Die basiliek gaan in sy huidige vorm terug op 'n ontwerp in die klassisistiese styl deur Laurynas Gucevičius en is in 1801 voltooi. Sy kloktoring (of campanile) is net soos by talle ander Baltiese kerke as 'n vrystaande struktuur uitgevoer.

Die katedraalkerk is aan die heilige biskop Stanislaus van Krakau en die heilige Ladislaus I, koning van Hongarye, gewy, twee beduidende steunpilare van die Rooms-Katolieke Kerk in die 11de eeuse oostelike Sentraal-Europa.

Geskiedenis Middeleeue duimnael|Die Kasimir-kapel met die sarkofaag van Sint Kasimir, beskermheilige van Litaue Die Sint-Stanislauskatedraal word algemeen as die eerste Christelike kerk op Litause bodem beskou. Die eerste kerkgebou het waarskynlik reeds gedurende die regeringstydperk van koning Mindaugas in die 13de eeu ontstaan. Mindaugas het die Christelike geloof in 1251 veral uit politieke oorwegings aangeneem en 'n heidense heiligdom deur 'n klein Gotiese kerk met drie skepe en 'n koor laat vervang. Oorblyfsels van hierdie vroeë kerkgebou is in die laat 20ste eeu onder die huidige katedraal ontdek.

Ná Mindaugas se afsterwe in 1263 het die inheemse geloof weer die opperhand gekry, en aan die voet van die kasteelberg het weer 'n heidense tempel ontstaan. Heidense tempel aan die voet van die Gediminas-berg Die kerstening van Litaue het eers in die laat 14de eeu plaasgevind toe grootvors Jogaila hom laat doop het sodat hy as Poolse koning bekroon kon word. Jogaila het sy vasbeslotenheid om die nuwe geloof aan te neem in 1387 met die bou van 'n nuwe kerk bevestig. Hierdie sakrale gebou is reeds in die volgende jaar ter geleentheid van Jogaila se troonbestyging in Pole deur aartsbiskop Bodzanta uit Gnesen as die setel van die biskop van Vilnius gewy. Saam met die bou van die katedraal is 'n teologiese skool gestig, die eerste en – tot en met die stigting van die plaaslike Jesuïete-kollege – ook die beduidendste van sy soort in Litaue.

Jogaila se kerk is in 1419 deur 'n brand vernietig. Sy neef, grootvors Vytautas, het 'n nuwe saalkerk in die Gotiese styl laat oprig wat met sy mure nog steeds die katedraal se binneruimte oorheers. In die loop van die 15de en 16de eeu is aan weerskante van die kerk kapelle bygevoeg.

Vroeë moderne tydperk duimnael|links|Die hoofaltaar Brandrampe in die 16de en 17de eeu het daartoe gelei dat die kerkgebou volgens die heersende boustyle herstel is – sodoende is Renaissance- (1534–1557, deur die Italiaanse argitek Bernardino Zanobia de Gianotti) en Barok-elemente (1612–1632, deur die Italiaanse boumeester Constantino Tencalla) bygevoeg en tegelykertyd (1624–1636) het ook die Kasimir-kapel ontstaan. Die oorlog met Moskou tussen 1654 en 1657 het verdere skade berokken so dat tussen 1666 en 1676 omvangryke herstelwerk in die binneruimte gedoen moes word. Die Kasimir-kapel se versierings is teen die einde van die 17de eeu aangebring. In 1769 is een van die twee kerktorings wat tydens die herstelwerk in die Barok-styl by die portaal opgerig is, deur 'n bliksemslag getref. Ná sy ineenstorting, wat sewe menselewens geëis en ook groot skade by die kerkgebou berokken het, moes die katedraal gesluit word.

duimnael|Die kloktoring Die huidige Klassisistiese voorkoms van die katedraal gaan terug op 'n projek van die Litause argitek Laurynas Stuoka-Gucevičius wat vanaf 1783 uitgevoer is. Stuoka-Gucevičius, wat sterk deur die Klassisistiese boustyl van die Franse rewolusionêre tydperk beïnvloed is, is in 1798 oorlede toe die boubedrywighede nog aan die gang was, tog is die projek in 1801 onder leiding van die argitek Michael Schulz voltooi.

Vanweë die inlywing van Litaue in die Russiese Tsareryk 1795–1798 is die bisdom Vilnius egter ontbind en by die aartsbisdom Mogiljov ingelyf. Die geestelike werk van plaaslike biskoppe is deur die Russiese owerheid belemmer, en met die sluiting van die Universiteit van Vilnius het die bisdom ook sy geestelike opleidingsentrum kwytgeraak. Toe die Kasimir-kerk ná die Pools-Litause Opstand in 1831 in 'n Ortodokse kerk omgeskep is, is die Rokoko-standbeelde van Litause grootvorste, heiliges en apostels in die nisse van die katedraal se buitemure verplaas.

20ste eeu Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is die kerk deur Duitse soldate geplunder, en ná die oorlog het sowel die Poolse asook die Litause Katolieke gemeentes van Vilnius aanspraak op die katedraal gemaak. Toe die Vilnius-gebied uiteindelik aan Pole oorhandig is, is alle misse in die katedraal vanaf 1923 uitsluitlik in Pools gehou. In 1925 het die Sint-Stanislauskatedraal die amptelike setel van die nuwe aartsbisdom Vilnius geword, terwyl die westelike gebiede van die voormalige bisdom Vilnius, wat Litaus gebly het, in die nuwe bisdom Kaišiadorys verenig is.

In 1931 is krake in die katedraal se mure ontdek en vanaf die volgende jaar is omvangryke herstelwerk uitgevoer wat eers in 1939 voltooi was. Onder die Kasimir-kapel is 'n nuwe kript aangelê.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is die katedraal as gevolg van die Sowjet-owerheid se ateïstiese beleid in 1949 gesluit. Aanvanklik is oorweeg om dit tot 'n motorwerkswinkel om te skep. Tomasz Torbus en Barbara Warning: Baltische Staaten. Estland • Lettland • Litauen • Kaliningrad. München: Nelles 2009, bl. 56 Terwyl die kerkgebou vir drie jaar leeggestaan het, is verskeie kere ingebreek en kunswerke gesteel. Vanaf 1953 is die katedraal tot 'n kunsgalery omgebou wat in 1956 ingewy is. Die sterflike oorskot van Sint Kasimir is reeds in 1953 na die Pieter-en-Paulus-kerk oorgeplaas.

In 1989 is die katedraal weer aan die Rooms-Katolieke Kerk oorhandig en met 'n mis op 5 Februarie 1989 deur biskop Julijonas Steponavičius (1911–1991) feestelik heringewy. Marianna Butenschön: Estland, Lettland, Litauen. Das Baltikum auf dem langen Weg in die Freiheit. München: R. Piper 1992, bl. 242 Op 3 Maart 1989, een dag voor sy naamdag, is die sterflike oorskot van Sint Kasimir met 'n plegtige prosessie weer na die Kasimir-kapel teruggeplaas. Die derde belangrike gebeurtenis in 1989 was die kersfeesmis in die katedraal wat – ná taai onderhandelinge met die Staatskomitee vir Televisie en Radio (Gosteleradio) in Moskou – deur die openbare Duitse uitsaaier Südwestfunk Baden-Baden in samewerking met die Litause uitsaaikorporasie LRT regstreeks na Duitsland, Switserland, Oostenryk, die Verenigde State en Japan uitgesaai is. Butenschön (1992), bl. 250–51

Pous Johannes Paulus II het sy apostoliese reis deur Litaue in 1993 in die Katedraal van Vilnius begin en by Sint Kasimir se sarkofaag gebid. www.piligrimukelias.lt: Pilgrim Route of John Paul II in Lithuania. Besoek op 13 Februarie 2019

Argitektuur duimnael|'n Nagaansig van die katedraal Die katedraal se huidige argitektoniese voorkoms word oorheers deur Stuoka-Gucevičius se klassisistiese ontwerp, alhoewel die binneruimte sy oorsprong in die 15de eeuse Gotiese saalkerk met drie skepe het. Stuoka-Gucevičius het die katedraal se uiterlike voorkoms by antieke voorbeelde aangepas: 'n trigliewe-fries word volgens die Doriese orde deur drie magtige gladde suile gedra, terwyl die portaal deur 'n magtige geweldriehoek afgesluit word.

Die reliëf in die geweldriehoek beeld Noag se dankoffer ná die ark-redding uit. Die drie beeldhouwerke op die gewel is tussen 1786 en 1792 deur die beeldhouer Karol Jelski geskep en beeld Sint Stanislaus (die beskermheilige van Pole, links), Sint Kasimir (die beskermheilige van Litaue, regs) en Sint Helena (middel, met 'n groot kruis in haar hand) uit. Hulle is deur Michael Schulz op die gewel geplaas en vanweë hul reusagtige afmetings eintlik buite alle proporsie. Die figure is in 1950 deur die Sowjet-bewindhebbers verwyder. Ná lang debatvoering is die kunswerke in 1997 teruggeplaas.

Aan die katedraal se linkerkant is 'n sakristie bygevoeg wat dieselfde barokstyl-voorkoms het as die Kasimir-kapel – sodoende het die katedraal uiteindelik die simmetriese vorm gekry wat in die oorspronklike klassisistiese ontwerp beplan was. Daarnaas is die grafkapelle uit die 16de en 17de eeu van eenderse buitemure voorsien, hul vensters aan die onderkant vergroot en van 'n reeks Doriese suile voorsien.

Binneruimte duimnael|Die katedraal se binneruimte Die klassisistiese styl is ook in die binneruimte behou. Die pilare, wat oorspronklik deel uitgemaak het van die 15de eeuse Gotiese kerk, is net soos die gewelwe van klassisistiese elemente voorsien. Die hoogaltaar is by die Doriese orde van die buitekant aangepas – sy fries word deur swart marmersuile gedra en 'n geweldriehoek is daaroor aangebring sodat dit aan 'n tempelfront herinner.

Die skildery in die middel oor die altaar is in 1797 deur Pranciškus Smuglevičius (Pools: Franciszek Smuglewicz) geskep en beeld die marteldood van Sint Stanislaus uit. Die tabernakel op die 18de eeuse altaar is 'n waardevolle kunswerk uit die ateljee van Matthias Walbaum, 'n Augsburgse goudsmid, en is tussen 1623 en 1625 geskep. Die reliëfs op die deure beeld die "Laaste Nagmaal" en die "Preek in die Olyftuin" uit. Die krusifiks op die altaar word deur die standbeelde van Sint Stanislaus en Sint Kasimir ingeraam.

In die vroeë 16de eeu is regs van die hoofaltaar die sogenaamde "biskopskapel" aangebou. Dit het sy naam te danke aan die feit dat Vilnius se biskoppe later onder sy vloer ter ruste gelê is. Oor die tabernakel, waarin vandag die allerheiligste bewaar word (die kapel se amptelike naam is dan ook "Kapel van die Allerheiligste"), hang 'n skildery van Gonzaga Nuñez wat in 1877 geskep is.

Die syskepe se mure is met sestien skilderye versier wat deur Constantino Villani geskep is en uit die tweede helfte van die 18de eeu dateer. Tonele uit die Nuwe Testament aan die noordelike kant kontrasteer met tonele uit die Ou Testament aan die suidekant. Die skilderye aan die altaar se kant ("Die voeding van die vyfduisend" en "Die offer van Melgisedek", 1785) is net soos die skildery ("Petrus doop die soldaat in die gevangenis", 1801) en die uitbeeldings van apostels tussen pilare in die middelskip (1785) deur Franciszek Smuglewicz geskep.

Kloktoring duimnael|'n Gedenksteen op die Katedraalplein herinner aan die "Baltiese Pad" van 1989 Die vrystaande kloktoring was oorspronklik 'n ronde verdedigingstoring uit die tweede helfte van die 14de eeu wat deel uitgemaak het van die Grootvorstepaleis se Laer Kasteel. Sy mure was vier meter dik. Die skietluike aan die buitekant is nog steeds sigbaar. Die toring se fondamente is intussen 1,2 meter diep in die grond. Daar word aangeneem dat die toring reeds in die 15de eeu as kloktoring gedien het en met 'n aghoekige verdieping in die Gotiese styl verhoog is.