Die Vandaalse Ryk (Latyn: Regnum Vandalum) of Koninkryk van die Vandale en Alane (Regnum Vandalorum et Alanorum) was 'n konfederasie van barbaarse koninkryke wat onder Geiserik (of Genserik), 'n Vandaalse krygsheer, gestig is. Dit het 99 jaar lank oor dele van Noord-Afrika en die streek om die Middellandse See geheers, van 435-534 n.C.
thumb|links|220px|Die ryk (pers) in die 470's. links|thumb|220px|Uitsig van die Straat van Gibraltar na Noord-Afrika waar die Vandale Afrika binngekom het. In 429 n.C. het 'n geraamde 80 000 Vandale met hulle bote van Hispania na Noord-Afrika gekom. Hulle het ooswaarts getrek en die kusstreke van wat vandag Tunisië en Algerië is, verower. In 435 het die Wes-Romeinse Ryk, wat Noord-Afrika toe beheer het, die Vandale toegelaat om hulle in die provinsies Numidia en Mauretania te vestig toe dit duidelik word die Vandale kan nie militêr verslaan word nie. In 439 het die Vandale opnuut ooswaarts opgeruk en Kartago, wat toe die belangrikste stad in Noord-Afrika was, ingeneem. Daarna het hulle die Romeinsbeheerde eilande Majorka, Sisilië, Sardinië en Korsika in die westelike Middellandse See verower.
In die 460's het die Romeine twee onsuksesvolle ekspedisies op see uitgevoer in 'n poging om die Vandale te verslaan en die belangrike Noord-Afrika terug te wen. Hoewel die Vandale hoofsaaklik onthou word vir die plundering van Rome in 455 en die vervolging van Niceense Christene ten gunste van Arianisme, het hulle ook die voortdurende oprigting van opvoedkundige instellings in hulle ryk gesteun.
Volgens die historikus Richard Miles het Noord-Afrika "baie van die innoverendste skrywers en wetenskaplikes van die laat Latynsprekende Wes-Romeinse Ryk opgelewer.
Die Vandaalse Ryk het in 534 tot 'n einde gekom, toe dit in die Vandaalse Oorlog deur die Bisantynse generaal Belisarius oorwin en by die Oos-Romeinse Ryk ingelyf is. Die oorlewende vandale is óf in die inheemse Afrika-bevolkings opgeneem óf het onder die Bisantynse gebiede versprei.
Geskiedenis Stigting Die Vandale, onder hulle nuwe koning Geiserik (ook bekend as Genserik), het in 429 na Afrika gekom en hulle verowering van Romeinse Afrika begin. Hoewel hulle getalle onbekend is, raam Peter Heather hulle kon ’n leër van ongeveer 15 000 tot 20 000 byeenbring, gebaseer op Procopius se bewering dat die Vandale en Alane 80 000 getel het toe hulle na Noord-Afrika migreer het.Procopius, Oorloë 3.5.18–19 in Volgens Procopius het die Vandale op versoek van Bonifacius, die militêre heerser van die streek, na Afrika gekom.<ref>Procopius, Oorloë 3.5.23–24 in </ref> Daar is egter voorgestel dat die Vandale ook op soek na veiligheid was, want hulle is in 422 deur ’n Romeinse leër aangeval en kon nie daarin slaag om ’n verdrag met hulle te sluit nie. Terwyl hulle ooswaarts aan die Afrika-kus gevorder het, het die Vandale die ommuurde stad Hippo Regius in 430 beleër. Ná 14 maande het honger en siekte beide die stad se inwoners en die Vandale buite die mure geteister. Die stad het uiteindelik geval, en die Vandale het dit hulle eerste hoofstad gemaak.
Vrede is in 435 tussen die Romeine en die Vandale gesluit. Volgens die vredesverdrag het die Vandale beheer oor die kusstreek van Numidië en dele van Mauretanië gekry. Geiserik het egter die verdrag in 439 verbreek toe hy die provinsie Africa Proconsularis binneval en Kartago beleër. Die stad is sonder ’n geveg ingeneem; die Vandale het dit binnegegaan terwyl die meeste inwoners die wedrenne by die hippodroom bygewoon het. Geiserik het dit sy hoofstad gemaak en homself die koning van die Vandale en Alane genoem. Deur Sisilië, Sardinië, Korsika, Malta en die Baleariese Eilande te verower, het hy sy koninkryk tot ’n magtige staat uitgebou.
Averil Cameron meen die nuwe Vandaalse bewind was moontlik nie onwelkom onder die bevolking van Noord-Afrika nie, aangesien die vorige grondbesitters oor die algemeen ongewild was.
Die indruk wat bronne soos Victor van Vita, Possidius, Quodvultdeus en Fulgentius van Ruspe gee, is dat die Vandaalse oorname van Kartago en Noord-Afrika tot wydverspreide verwoesting gelei het. Onlangse argeologiese ondersoeke het egter hierdie bewering bevraagteken. Hoewel Kartago se odeon vernietig is, het die straatrooster dieselfde gebly en is sommige openbare geboue opgeknap. Nuwe nywerheidsentrums het in dié tyd op dorpe ontstaan.
Toe die Vandale Sisilië in 440 plunder, was die Wes-Romeinse Ryk te besig met oorlog in Gallië om te reageer. Theodosius II, keiser van die Oos-Romeinse Ryk, het in 441 ’n ekspedisie teen die Vandale gestuur; dit het egter slegs tot Sisilië gevorder. Die Wes-Romeinse Ryk onder Valentinianus III het in 442 vrede met die Vandale gesluit. Kragtens die verdrag het die Vandale Byzacena, Tripolitanië en die oostelike helfte van Numidië gekry, en is hulle beheer oor Africa Proconsularis bevestig, terwyl die Vandaalse Ryk die eerste barbaarse land was wat amptelik as ’n onafhanklike ryk in voormalige Romeinse gebied erken is. Die ryk het Wes-Numidië en die twee Mauretaniese provinsies tot 455 behou.
Die graanhandel Historici beskou die verowering van Noord-Afrika deur die Vandale en Alane as die “doodskoot” en “die grootste enkele slag” vir die Wes-Romeinse Ryk in sy stryd om oorlewing. Voor die Vandale was Noord-Afrika welvarend en vreedsaam, het dit slegs ’n klein persentasie van die Romeinse Ryk se militêre magte vereis en was dit ’n belangrike bron van belasting vir die hele ryk en van graan vir die stad Rome. Die geleerde Josephus het in die 1ste eeu n.C. gesê Noord-Afrika het Rome agt maande van die jaar gevoed, terwyl die graan vir die ander vier maande uit Egipte gekom het.Rickman, G.E. (1980), “The Grain Trade under the Roman Empire,” Memoirs of the American Academy in Rome, Vol 36, The Seaborne Commerce of Ancient Rome, p. 264. Afgelaai van JSTOR; Heather, pp. 275–276.
Die Romeinse behoefte aan graan uit Noord-Afrika het moontlik teen die 5de eeu afgeneem omdat die bevolking van die stad Rome gedaal het en die aantal Romeinse soldate verminder is. Die verdrag van 442 tussen Rome en die Vandale blyk te verseker het dat graanverskepings voortduur.Linn, pp. 298–299, 317–321 Dié verdrag is egter nie eintlik nagekom nie en dit was vir die Romeine beangrik om Noord-Afrika te herower en hulle beheer oor graan uit die Vandaalse Ryk te herwin.
Plundering van Rome thumb|300px|Die Plundering van Rome, Karl Briullov, 1833-'36.
Gedurende die volgende 35 jaar het Geiserik die kuslyne van die Oos- en Wes-Romeinse Ryk met ’n groot vloot geplunder. Vandaalse aktiwiteit in die Middellandse See was so omvangryk dat die see se naam in Oudengels Wendelsæ was (dus "Vandaalse See").
Ná die dood van Attila die Hun kon die Romeine egter weer aandag aan die Vandale skenk wat beheer oor van die rykste lande van hulle voormalige ryk gehad het.
In ’n poging om die Vandale binne die raamwerk van die Romeinse Ryk te bring, het Valentinianus III sy dogter se hand in die huwelik aan Geiserik se seun aangebied. Voordat hierdie verdrag egter uitgevoer kon word, het politiek weer ’n deurslaggewende rol in Rome se misstappe gespeel. Petronius Maximus het Valentinianus III vermoor en die Westerse troon opgeëis. Petronius het toe Valentinianus III se weduwee, keiserin Licinia Eudoxia, gedwing om met hom te trou.Ralph W. Mathisen, Petronius Maximus (17 March – 22 May 455)
Diplomasie tussen die twee faksies het verbrokkel, en in 455, ná ’n brief van Licinia Eudoxia wat Geiserik se seun smeek om haar te red, het die Vandale Rome ingeneem. Hulle het met ontelbare waardevolle besittings vertrek. Eudoxia en haar dogter Eudocia is na Noord-Afrika weggevoer.
Later jare 300px|thumb|Kaart van die operasies van die Vandaalse Oorlog.
Die Vandaalse plundering van Rome, seerowery in die Middellandse See en die Romeinse behoefte om beheer oor die graanhandel te herwin, het die vernietiging van die Vandaalse Koninkryk ’n prioriteit vir die Romeinse Ryk gemaak. Die Wes-Romeinse keiser Majorianus het in die somer van 458 begin om ’n offensief te organiseer. ’n Seemag wat van Cartagena in Hispania af ontplooi is, sou Mauretanië inneem en dan na Kartago marsjeer, terwyl ’n gelyktydige aanval, onder bevel van Marcellinus, Sisilië sou herower. Die keiser het sy vloot in 460 bymekaargemaak, maar Geiserik het van die naderende aanval te hore gekom en ’n "verskroeideaardebeleid in Mauretanië toegepas – hy het die land afgebrand en die putte vergiftig voor die beplande keiserlike offensief”. Boonop het Geiserik sy eie vloot teen Majorianus se mag gelei en die Romeine by Cartagena verslaan.
In 468 het beide die Wes- en Oos-Romeinse Ryk weer probeer om Afrika te verower met die “mees ambisieuse veldtog wat ooit teen die Vandaalse Ryk geloods is”. Primêre bronne dui aan die vloot het 1 113 skepe getel en 100 000 man vervoer, maar hierdie syfer word deur moderne historici verwerp; Heather stel 30 000 troepe voor en 50 000 soldate en matrose saam, gebaseer op 16 000 Romeinse soldate wat in 532 op 500 skepe vervoer is. Andy Merrills en Richard Miles voer aan dat die operasie ongetwyfeld omvangryk was en “bewondering verdien vir sy logistieke briljantheid.” Met ’n seegeveg by Kaap Bon, Tunisië, het die Vandale die westelike vloot en ’n deel van die oostelike vloot vernietig deur die gebruik van vuurskepe. Ná die aanval het die Vandale probeer om die Peloponnesos binne te val, maar is met swaar verliese deur die Maniote van die Griekse Maniskiereiland teruggedryf. As vergelding het die Vandale 500 gyselaars op die Griekse eiland Zakynthos geneem, hulle in stukke gekap en die stukke oorboord gegooi op pad terug na Kartago.
thumb|220px|links|Die ligging van Kartago, die Vandaalse hoofstad. In die 470’s het die Romeine hulle beleid van oorlog teen die Vandale laat vaar. Die Westerse Germaanse generaal Ricimer het ’n verdrag met die Vandale gesluit, en in 476 kon Geiserik ’n “ewigdurende vrede” met Konstantinopel sluit. Betrekkinge tussen die twee state het ’n skyn van normaliteit aangeneem. Van 477 af het die Vandale hulle eie munte begin slaan, hoewel dit tot lae denominasies in brons en silwer beperk was. Die keiserlike geld van hoë denominasies is nie vervang nie.
Geiserik is op 25 Januarie 477 oorlede, op 88 jaar. Volgens die erfopvolgingswet wat hy afgekondig het, moes die oudste manlike lid van die koninklike huis hom opvolg. Hy is dus opgevolg deur sy seun, Hunerik (477-'84), wat aanvanklik Niceense Christene geduld het uit vrees vir Konstantinopel, maar ná 482 die Manicheërs en Niceense Christene begin vervolg het.Catholic Encyclopedia 1913, “Vandals”. Hy het ook baie mededingende lede van die Vandaalse dinastie laat vermoor.Roman Emperor Zeno: The Perils of Power Politics in Fifth-century Constantinople, Peter Crawford, 2019, p. 221 Die inheemse Berbers van Noord-Afrika, wat tydens Geiserik se bewind in toom gehou is, het kort ná sy dood en Hunerik se streng godsdienstige wette begin rebelleer en invalle teen die Vandale geloods. Die Vandale het vinnig grondgebied in die hedendaagse weste van Algerië verloor, en teen die einde van Hunerik se bewind het hy heeltemal beheer oor die Aurèsgebergte verloor en dit aan koning Masties afgestaan, wat die Koninkryk van die Aurès in 483-'84 gevestig het.
Gunthamund (484-'96), sy neef en opvolger, het interne vrede met die Niceense Christene nagestreef en die vervolging weer gestaak. In die buiteland het Vandaalse mag sedert Geiserik se dood afgeneem; Gunthamund het groot dele van Sisilië verloor en moes toenemende druk van die inheemse Berbers weerstaan, wat alles voor die voet geplunder het.
Gunthamund se opvolger, Thrasamund (496-523), was ’n godsdienstige fanatikus en was die Niceense Christene vyandiggesind, maar hy het hom beperk tot bloedlose vervolgings. In 510 het die Frexense Berberstam onder koning Guenfan ’n deel van die gebied suid van Thugga ingeneem en 'n koninkryk gevestig, wat die Vandale verder uit die binneland verdryf het.