Op die plaas Danskraal in KwaZulu-Natal is Die Gelofte vir die eerste keer deur die Voortrekkers in 1838 afgelê.
Ligging Die plek is 4,8 km noordoos van Ladysmith by nagenoeg 28° 31′ 32″ suid en 29° 47′ oos. Tans is dit ‘n rangeerwerf en herstelwerkplaas vir spoorwegrytuie en dit is ook die punt waar die spoorlyne vanaf Gauteng en die Vrystaat bymekaarkom. Dit is sedert 1925 geëlektrifiseer. Aanvanklik het die spoorweghalte bekendgestaan as O.F.S. Junction en later as Daimana. Sedert 1938 staan dit bekend as Danskraal.
Gelofte Hierdie is die punt waar die Voortrekkerkommando in Desember 1838 ‘n week voor die Slag van Bloedrivier kamp opgeslaan het. Hier is vir die eerste keer die gelofte onder leiding van Sarel Cilliers uitgespreek wat gelei het tot die gedenkdag Dingaansdag en later bekend as Geloftedag.
Naam Die plaas het sy naam vermoedelik te danke daaraan dat die Zoeloekaptein Motowaan sy impi’s vir die Beestehaalkommando op 22 Januarie 1840 hier as dank met seremoniële danse vermaak het.
Slagveldroete Hierdie plek is deel van die bekende Historiese slagveldroete van KwaZulu-Natal. Dit is egter op privaat eiendom en sonder 'n gids kan die presiese punt nie bereik word.
Bibliografie Nienaber, P.J.: Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek, deel 1. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Instituut vir Taal, Lettere en Kuns, 1972.
Kategorie:Slag van Bloedrivier Kategorie:KwaZulu-Natal