Csaba Deseő (gebore 15 Februarie 1939) is ’n Hongaarse jazzviolis wat in Boedapest gebore is.
Sy moeder was ’n vioolonderwyseres. Deseő het op tienjarige ouderdom begin viool speel, sy musiekopleiding aan die Béla Bartók-konservatorium in Boedapest voortgesit en in 1961 sy diploma verwerf. Hy het tot 1967 in musiekskole klasgegee, waarna hy lid geword het van die Hongaarse Nasionale Filharmoniese Orkes, waar hy tot 1999 gespeel het. Gedurende die tyd toe János Ferencsik en later Kobayashi Ken-Ichiro hoofmusiekdirekteurs van die orkes was, het hy ontelbare konserte in Hongarye en in baie lande wêreldwyd gespeel – van Japan tot die Verenigde State. Hy het saam met kunstenaars soos Antal Doráti, sir Georg Solti, Leonard Bernstein, Claudio Abbado, Lorin Maazel, Riccardo Muti, Lamberto Gardelli, Giuseppe Patanè, Christoph von Dohnányi, Ádám Fischer, Yehudi Menuhin, David Oistrach en Mstislav Rostropovich opgetree.
Sy loopbaan het in 1963 momentum gekry toe hy saam met sy eerste groep by die legendariese Dália-klub in Boedapest verskyn het. Vanaf 1964 het hulle gereeld konserte gegee en was hulle dikwels op Hongaarse Radio en Televisie te hoor en te sien. Csaba Deseő se eerste buitelandse optrede was in 1966 in Bled, Joego-Slawië, waar hy saam met János Gonda se Qualiton-ensemble gespeel het. In dieselfde jaar het hy met sy eie groep by die Praagse Internasionale Jazzfees opgetree en saam met die kitaarspeler Andor Kovács se kombinasie by die Warskou Jazz Jamboree. Sy eerste album onder sy eie naam, Four String Tschaba, is in 1975 deur MPS Records in Wes-Duitsland uitgereik. Op dié album het Deseő sowel viool as altviool gespeel; sy medewerkers was Duitse, Britse en Sweedse musikante. Sedertdien het hy vier LP’s en ses CD’s saam met Hongaarse en buitelandse musikante opgeneem.
In 1975 het hy die beroemde Zagrebse vibrafonis Boško Petrović ontmoet, met wie hy gereeld tot 2011 saamgespeel het. Hy tree ook as gasster in Duitsland op, waar hy gewoonlik as solis saam met die groep van Walter Kurowski verskyn.
Sedert 1980 het Deseő groepe met verskillende samestellings gelei. Sy belangrikste medewerkers was die pianis László Gárdony, die vibrafonis Richard Kruza, die kitaarspeler Andor Kovács, die baskitaarspeler Béla Lattmann en die tromspeler Imre Kőszegi. Sedert 1990 werk hy hoofsaaklik saam met musikante soos die trio van die kitaarspeler István Gyárfás en die pianis Gábor Cseke. Hy is ’n gereelde gaskunstenaar by konserte van die Benkó Dixieland Band en die Budapest Ragtime Band.
Oor die afgelope dekades het hy ook saam met internasionale sterre soos Jean-Luc Ponty, John Lewis, Jiggs Whigham, Martin Drew, Duško Gojković, Tony Lakatos, Gábor Szabó, Tommy Vig en vele ander gespeel.
Csaba Deseo is ’n gereelde bydraer tot die gespesialiseerde Hongaarse musiektydskrif GRAMOFON – Klassiek en Jazz.
Diskografie
FOUR STRING TSCHABA (1975) MPS (Wes-Duitsland) ULTRAVIOLA (1977) Hungaroton BLUE STRING (1984) Hungaroton HOT CLUB BUDAPEST “Felhők” saam met Andor Kovács (1985) Hungaroton THE SWINGING VIOLIN saam met Boško Petrović (1993) Jazzette – Zagreb MAGIC VIOLIN (1995) Pannon Jazz SOMETHING NEW, SOMETHING OLD (1997) Pannon Jazz KEEP COOL (2000) Pannon Jazz FUNKY VIOLIN (versamelalbum) (2001) Hungaroton TALE saam met die István Gyárfás Trio (2003) Drum Art Records
Verwysings
Kategorie:Jazz Kategorie:Hongaarse violiste