Contrast was ‘n Suid-Afrikaanse literêre tydskrif.

Hierdie kwartaalblad is sedert Desember 1960 in Kaapstad uitgegee deur The South African Literary Journal Ltd. met finansiële steun van verskeie instellings, o.a. die Oppenheimer Trust en die Fitzpatrick Trust. Die blad is begin op inisiatief van Sydney Clouts. Jack Cope was vir ‘n 20 jaar die redakteur. Ander redakteurs was Philip Segal van 1962 tot 1963 en Nancy Baines van 1965 tot 1966.

Veral gedigte, kortverhale, resensies, essays, tekeninge, foto’s, houtsneë, litografieë, draaiboeke en artikels oor drama en teater is gepubliseer. Ongeveer ‘n kwart van die inhoud was in Afrikaans en het ‘n platform geskep vir jong skrywers in Afrikaans.

Onder die groot aantal Afrikaanse skrywers wat oor die jare heen bydraes tot Contrast gelewer het, is bekende name soos Uys Krige, Freda Linde, David Kramer, Adam Small, Ingrid Jonker, Hennie Aucamp, Daniël Hugo, Jan Rabie, Etienne Leroux, Louis Esterhuizen, Petra Müller en Breyten Breytenbach. Onder die bydraes in Engels kom werk voor van Guy Butler, Athol Fugard, Nadine Gordimer en Alan Paton.

In 1990 is die tydskrif vervang met die blad New Contrast.

Bibliografie https://esat.sun.ac.za/index.php/Contrast www.newcontrast.net

Kategorie:Suid-Afrikaanse tydskrifte