thumb|220px|Kʼinich Janaab Pakal. Kʼinich Janaab Pakal (ook bekend as Pakal of Pakal die Grote; 24 Maart 603 - 29 Augustus 683) was ajaw (koning) van die Maja-stadstaat Palenque gedurende die Laat Klassieke tydperk van die pre-Columbiese Meso-Amerikaanse chronologie. Hy het in Julie 615 die troon bestyg en tot sy dood regeer. Pakal het 68 jaar lank geheers en was die monarg met die vyfde langste bevestigde bewind van enige soewereine monarg in die geskiedenis, die langste ter wêreld vir meer as ’n millennium,Skidmore 2010, bl. 7. en die tweede langste van enige monarg in die geskiedenis van die Amerikas.
Gedurende sy lang bewind was Pakal verantwoordelik vir die oprigting of uitbreiding van sommige van Palenque se noemenswaardigste inskripsies en monumentale argitektuur wat bewaar gebly het.Martin & Grube 2008, bl. 162–168.
Hy is moontlik die bekendste in populêre kultuur vir sy uitbeelding op die gekerfde deksel van sy sarkofaag, wat die onderwerp geword het van skynargeologiese spekulasies.
Naam Pakal se volle naam, Kʼinich Janaab Pakal (“Stralende Mielieblom (?) Skild”Skidmore 2010, bl. 71–73.), word in klassieke Majaans weergegee as KʼINICH-JANA B-PAKAL-la, KʼINICH-JANA B-pa-ka-la, of KʼINICH-ja-na-bi-pa-ka-la.Martin & Grube 2008, bl. 162. Voordat sy naam betroubaar uit bestaande Maja-inskripsies ontsyfer is, was Pakal bekend onder verskeie byname en benaderde benamings, insluitend Sonskild en 8 Ahau.
In moderne bronne word Pakal se naam soms ook met ’n bewindsnommer aangevul om hom te onderskei van ander heersers met dieselfde naam. Wanneer die naam "Pakal I" gebruik word, dien dit om hom te onderskei van twee latere bekende opvolgers in die Amerikaanse heerskappy, Kʼinich Janaab Pakal II (regeer omstreeks 742) en Janaab Pakal III, die laaste bekende heerser van Palenque (regeer omstreeks 799).Skidmore 2010, bl. 56–57, 71–73, 83, 91.
Vroeë lewe thumb|190px|Kʼinich Janaab Pakal se portret toe hy die troon bestyg het. thumb|190px|Gemonteerde begrafnisjuwele van Pakal.
Kʼinich Janaab Pakal was ’n inboorling van Palenque. Hy is in Maart 603 gebore as die seun van lady Sak Kʼukʼ van die regerende Palenque-dinastie en haar man, Kʼan Moʼ Hix. Hy is in 'n besonder onstuimige tydperk in Palenque se geskiedenis gebore. Die stadstaat is slegs vier jaar tevore deur die magtige Majastaat Calakmul geplunder, en nog ’n katastrofiese aanval is tydens Pakal se vroeë kinderjare in 611 gelei deur die ajaw van Calakmul, Rolslang.
Die sterftes die daaropvolgende jaar van sowel die regerende Palenque-ajaw, Ajen Yohl Mat, as sy erfgenaam, Janahb Pakal (Pakal se oupa en naamgenoot aan moederskant) het ’n opvolgingskrisis ontketen; uiteindelik het Pakal in Julie 615 op 12-jarige ouderdom die heerskappy van Palenque aanvaar ná ’n tussentydse regentskap deur sy moeder, lady Sak Kʼukʼ.Martin & Grube 2008, bl. 162–165.
Bewind Pakal het Palenque se mag in die westelike deel van die Majastate uitgebrei en ’n bouprogram in sy hoofstad begin wat van die beste kuns en argitektuur van die Majabeskawing opgelewer het. In Maart 626 is hy getroud met Ix Tzʼakbu Ajaw, ’n afstammeling van die voormalige regerende Toktahn-dinastie uit Palenque se satellietnedersetting Uxteʼkʼuh. Hulle was lank getroud en het minstens twee seuns, Kan Bahlam (gebore 635) en Kʼan Joy Chitam (gebore 644), gehad – en waarskynlik ’n derde, Tiwol Chan Mat (gebore 648).
thumb|240px|links|Die Paleis van Palenque. thumb|links|240px|Die Tempel van die Inskripsies. In 647, op die ouderdom van 44, het Pakal sy eerste bouprojek begin, naamlik die tempel wat vandag El Olvidado genoem word (Spaans vir “Die Vergete Een”) weens sy afstand van Lakamhaʼ. Van al Pakal se bouprojekte is die Paleis van Palenque moontlik die mees volmaakte. Die gebou het reeds bestaan, maar Pakal het dit aansienlik vergroot deur monumentale vertrekke bo-op die ou vlak by te voeg. Hy het daarna Gebou E opgerig, genaamd Sak Nuk Naah. Die oostelike hof van die paleis is ’n seremoniële gebied wat militêre oorwinnings gedenk. Huise B en C is in 661 gebou en Huis A in 668. Huis A is bedek met fresko’s van gevangenes wat in 662 gevange geneem is.
Pakal se vrou van 47 jaar het in November 672 gesterf. Agt jaar later het Pakal ook die dood van Tiwol Chan Mat (sy derde seun) beleef en oor sy begrafnisplegtigheid toesig gehou.
Dood en graf thumb|190px|die gekerfde deksel van Kʼinich Janaab Pakal I se sarkofaag.
Pakal self is in Augustus 683 op 80-jarige ouderdom oorlede nadat hy 68 jaar en 33 dae oor Palenque regeer het.Tiesler & Cucina 2004, p. 40. Hy is ná sy dood as een van die beskermgode van Palenque vergoddelik. Sy twee oorlewende seuns het albei uit eie reg ajaw geword.
Pakal is in 'n enorme sarkofaag begrawe in een van Palenque se trappiramiedstrukture, Bʼolon Yej Teʼ Naah ("die Huis van die Nege Skerpgemaakte Spiese"), nou bekend as die Tempel van die Inskripsies. Die groot, gekerfde klipdeksel van die sarkofaag is 'n unieke Klassieke Majakunswerk. Om die rande is 'n raam met kosmologiese tekens, byvoorbeeld vir die Son, Maan en 'n ster, asook die koppe van ses edelmanne met verskeie range.Schele & Mathews 1998, pp. 111–112. Die sentrale beeld is van 'n stamboom. Die koning self word in 'n spesifieke houding uitgebeeld wat op hergeboorte kan dui.Stuart & Stuart 2008, pp. 174–177
Skynargeologie Pakal se graf was sedert sy verskyning in Erich von Däniken se topverkoper van 1968, Chariots of the Gods?, die onderwerp van spekulasies oor antieke ruimtevaarders. Von Däniken het ’n tekening van die sarkofaagdeksel gereproduseer en Pakal se houding vergelyk met dié van ruimtevaarders in die 1960’s; hy het die uitbeeldings onder Pakal vir vuurpyle aangesien en die sarkofaagdeksel aangebied as moontlike bewys van ’n buiteaardse invloed op die antieke Maja.Finley, bl. 1Von Däniken, bl. 100–101. Só ’n interpretasie word bykans universeel deur Maja-argeoloë, epigrawe en kunshistorici verwerp, wat daarop wys dat Von Däniken se aanspraak uitsluitlik op visuele inspeksie berus en geen ag slaan op byvoorbeeld die breër argeologiese konteks nie.
Verwysings
Bronne
Skakels Mesoweb's description of the discovery of Pakal's tomb (via Archive.org)
Kategorie:Maja