Elizabetha “Libbie” Magdalena Janse van Rensburg (gebore op 28 September 1994) is ’n Suid-Afrikaanse internasionale vrouerugby- en sewesrugbyspeler. Sy het aan die Olimpiese Somerspele 2024 in Parys, asook die vrouerugbywêreldbekertoernooie in 2021 en 2025 deelgeneem.
Rugbyloopbaan Janse van Rensburg het in 2021 haar debuut vir die Springbok-vrouerugbyspan gemaak. In ’n toetswedstryd teen Namibië het sy twee drieë gedruk en 14 doelskoppe aangeteken vir 38 individuelle punte – ’n nuwe toetsrekord in dié tyd vir die Springbok-vroue.
In 2022 is sy gekies vir die Vrouerugbywêreldbeker 2021-span. In Suid-Afrika se tweede wedstryd teen Fidji is hulle in die 79ste minuut ’n strafskop toegeken, Janse van Rensburg het geskop en Suid-Afrika het met 17–14 voorgeloop. Fidji het die herbegin behou en ’n drie gedruk om die wedstryd te wen.
In 2023 is Janse van Rensburg as deel van die eerste professionele vrouespan in Suid-Afrika, die Bulls Daisies, aangewys. Sy was die adjunkkaptein tydens hul oorwinning in die Vrouepremierliga 2023.
In April 2023 is aangekondig dat Janse van Rensburg by die sewesrugbyspan sou aansluit voor Wêreldrugby se Sewesuitdagerreeks. Suid-Afrika het dié reeks gewen en promosie na die SVNS verseker, met Janse van Rensburg wat die wendrie in die eindstryd teen België aangeteken het.
Janse van Rensburg het in WXV 2 vir die vrouerugbyspan gespeel, waar sy die voorste drieëmaker en voorste puntemaker was, terwyl Suid-Afrika derde geëindig het. Sy het by die sewesrugbyspan aangesluit vir die Doebai Vrouesewes 2023, waar sy ’n besering opgedoen het.
In 2024 is Janse van Rensburg aangewys as Suid-Afrikaanse Rugbyunie se Vrouerugbyspeler van die jaar 2023. Ná haar herstel het Janse van Rensburg by die span aangesluit vir die sewesrugbyreeks 2024 in Spanje. Sy was ’n lid van die Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan wat aan die Olimpiese Somerspele 2024 in Parys deelgeneem het.
Op 9 Augustus 2025 is sy in Springbok-vrouespan vir die Vrouerugbywêreldbeker 2025 ingesluit.
Verwysings
Eksterne skakels Libbie Janse van Rensburg by Springbok-vroue Libbie Janse van Rensburg by Springbok-vrouesewes (geargiveer) Libbie Janse van Rensburg by Bulls Daisies
Kategorie:Alumni van die Universiteit Pretoria Kategorie:Lewende mense Kategorie:Geboortes in 1994 Kategorie:Olimpiese sewesrugbyspelers Kategorie:Springbokvrouerugbyspelers