Die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging was die eerste politieke party onder die Nederlandssprekende bevolking van die Kaapkolonie.
Agtergrond Die regering in Kaapstad het geld nodig gehad vir die aanleg van die spoorlyn na die diamantvelde en om die Negende Grensoorlog (van die Kaapse grensoorloë) teen Gaika en Galeka te voer. Daarom besluit die kabinet onder Gordon Sprigg in Junie 1878 om ‘n aksynsbelasting op die stook van brandewyn te hef. Laat die vorige jaar het die wingerdboere juis die KWV gestig om die bedryf te reguleer in die aanhoudende swak ekonomiese toestande. Die regering maak die fout om die vereniging nie oor die besluite te raadpleeg nie. Die boere was ontstoke en het hulle verskeie openbare protesvergaderings gehou. Onze Jan Hofmeyr, die redakteur van De Zuid-Afrikaan het as leier na vore getree. Die proteste is ook gesteun deur Di Patriot.
Party Dit lei tot ‘n samehorigheidsgevoel, die ontwikkeling van ‘n politieke bewussyn en die stigting van ‘n politieke party om te waak oor die belange van die boere. Die grondwet van die nuwe party, die Boerebeskermingsvereniging, is op ‘n publieke byeenkoms van boere op 12 Augustus 1878 te Stellenbosch goedgekeur. Duidelik was die doelstellings: die beskerming van die belange van al die boere, die erkenning van Nederlands as taal in die parlement, die stryd teen die al groter wordende Engelse invloed, die behoorlike registrasie van kiesers, die stel van die juiste persone as kandidate in verkiesings, en dat daar ernstig gewaak sal word teen knoeiery in verkiesings. Die hoofkantoor sou in Kaapstad wees en daar is beoog om jaarliks ‘n kongres te hou.Met die formele stigting op 31 Oktober was daar reeds verskeie takke oor die hele land, tot in Alexandria en Humansdorp. Na die 1878-verkiesing het die party 9 uit die 21 senaatsetels beset en na die verkiesing van die volgende was die helfte van die lede van die laerhuis lid van die nuwe party. Hofmeyr self is as die verteenwoordiger vir Stellenbosch verkies. Die party bewerkstellig die val van die Sprigg-kabinet. In die nuwe kabinet onder Thomas Scanlen word Hofmeyr as minister aangestel. Op 24 Mei 1883 besluit die party op Richmond in die Karoo om met die Afrikanerbond saam te smelt. Die Afrikanerbond het op daardie stadium 116 takke en 5800 lede gehad en die Boerebeskermingsvereniging bring ‘n verdere 2000 lede en 18 takke.
Ander leiersfigure Willem Petrus de Villiers (*Paarl, 10 Januarie 1843 - †Stellenbosch, 10 April 1908), predikant in die NG-kerk, parlementslid vir Beaufort-Wes Daniël Petrus van den Heever (*Boesmansfontien, distrik Colesberg, 18 Januarie 1838 - †Venterstad, 4 September 1903), boer, groot kampvegter vir die behoud van Nederlands, lid van die Kaapse parlement
Bibliografie Böeseken, A.J.: Die Nuusbode. Kaapstad: Nasou, 1966 (Anna Böeseken) Kruger, D.W. (red.): Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Nasou, 1966 Muller, C.F.J. (red.): Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Pretoria: Academica,1973.
Kategorie:Voormalige politieke partye in Suid-Afrika