Die Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie (Engels: Chinese Taipei Rugby Football Union, afgekort CTRFU; Chinees: 中華民國橄欖球協會) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in die Republiek China beheer. Die beheerliggaam is in 1946 gestig en in Taipei gesetel. Sedert 1988 verteenwoordig dit die Republiek China by Wêreldrugby en sedert 1968 ook by Asië Rugby (AR).

Geskiedenis Die Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie is in 1946 onder die naam Rugbyvoetbalunie van die Republiek China (Rugby Football Union of the Republic of China, RFUROC; 中华民国橄榄球协会) in die Republiek China gestig en het ná die einde van die Chinese Burgeroorlog in 1949 na die eiland Taiwan ontwyk. In 1988 het dit ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die CTRFU in 1968 ’n stigterslid van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR). Aangesien die wêreldbeheerliggaam volgens die “Een-China-beleid” slegs een verteenwoordiger van China erken, het die beheerliggaam in die 1990’s weggedoen met die naamdeel “Republiek China” en sy huidige naam aangeneem om die politieke aartsvyand se aansluiting by die Internasionale Rugbyvoetbalraad moontlik te maak.

Taak Die Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Taiwan se nasionale seniormansrugbyspan (Chinese Taipei), vroue en jeug. Die CTRFU hou ook toesig oor sewesrugby in die Republiek China en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Taiwannese Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die CTRFU ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in die Republiek China. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik die Republiek China oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Taiwan Sevens is die Taiwannese sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in die Republiek China is die Taiwannese Rugbyliga, waaraan vier klubspanne deelneem. Die meeste spelers van die Taiwannese nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Japan aktief.

Kenteken Die Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie se kenteken toon ’n rugbybal wat ook aan die buitelyn van die eiland Taiwan herinner met die Engelse belettering Chinese Taipei daarop en die Chinese naam 中華民國橄欖球協會 daarbo.

Verwysings

Eksterne skakels Die Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie se amptelike tuisblad

Kategorie:Rugby in die Republiek China Kategorie:Rugbybeheerliggaam Kategorie:Wêreldrugby