Die Paraguaanse nasionale rugbyspan (Spaans: Selección de rugby de Paraguay) is die nasionale rugbyspan wat Paraguay in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Los Yacarés (Spaans vir: “die kaaimanne”), ontleen aan die Paraguaanse kaaiman (Caiman yacare). Rugby word in Paraguay geadministreer deur die Paraguaanse Rugbyunie (Unión de Rugby del Paraguay, URP) wat in 1971 gestig is. Paraguay word as die sewende beste rugbyspan in die Amerikas beskou (ná Argentinië, die Verenigde State, Kanada, Uruguay, Chili en Brasilië) en deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Paraguaanse rugbyspan is tans (Julie 2026) 31ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
Paraguay het in 1970 sy eerste toetswedstryd teen Brasilië gespeel. Die span het tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap nog geen titel ingepalm nie, drie keer tweede en drie keer in die derde plek geëindig. Paraguay kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Paraguay speel tradisioneel in gestreepte rooi en wit truie, donkerblou broeke en rooi sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Paraguay ontleen is.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Paraguay is die Paraguaanse Rugbyunie (Spaans: Unión de Rugby del Paraguay, URP). Die Paraguaanse Rugbyunie is in 1971 gestig en het in 1989 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Paraguaanse beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR).
Die hoogste rugbyliga in die land is die Campeonato Paraguayo de Rugby wat in 1971 gestig is en tans tussen nege spanne beslis word. In die verlede was die meeste spelers van die Paraguaanse nasionale span uit dié amateurliga afkomstig. Sedert 2020 draf die meeste Paraguaanse spelers egter uit vir die keurspan Yacaré wat aan die professionele Superrugby Amerikas deelneem. Hieraan neem ook spanne uit Argentinië, Brasilië, Chili en Uruguay deel. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Europa aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die Paraguaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Paraguay oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Paraguay Sevens is die Paraguaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby In die buurlande Argentinië en Brasilië het in die laat 19de eeu veral Britse emigrante rugby gespeel. Van daar is die spel na Paraguay geneem. In die aan natuurlike hulpbronne ryke land het veral Argentyne, Britte en Franse in die mynbou gewerk; hulle het rugby in Paraguay help vestig. In die 1930’s is die eerste gedokumenteerde rugbywedstryd in Paraguay tussen spelers van Cerro Porteño en Club Olimpia (dié land se twee grootste sokkerklubs) beslis. Daarna het die spel egter stadigaan ontwikkel. Eers in die laat 1960’s is die land se eerste amptelike rugbyklub, die Asunción Rugbyklub, deur twee Britte, twee Argentyne, een Nederlander en een Nieu-Seelander gestig. Chris Thau: The South American Scene in Nigel Starmer-Smith en Ian Robertson (redakteurs) The Whitbread Rugby World '89 (Lennard Books, 1988, ) bl. 52 Hulle het nieamptelike wedstryde in die hoofstad Asunción se Botaniese Tuin gespeel en vir nog wedstryde na Argentinië gereis. In 1970 is met die Universiteitsklub van Asunción (CURDA) ’n tweede rugbyklub in Asunción gestig. In die 1970’s en 1980’s is nog rugbyklubs gestig. Sedertdien is rugby in Paraguay veral deur afstammelinge van die Europese immigrante gespeel en ook daarna is dit veral deur die hoërklas beoefen.
Eerste Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe In 1970 het die Paraguane vir hul eerste toetswedstryd in Asunción Brasilië verwelkom. Een jaar later is die beheerliggaam Paraguaanse Rugbyunie (Spaans: Unión de Rugby del Paraguay, URP) gestig en in dieselfde jaar is die nasionale kampioenskap Campeonato Paraguayo de Rugby vir die eerste keer beslis. Eweneens het hulle vir die eerste keer aan die vastelandse Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem. Hulle het egter swak nederlae gely teen Uruguay, Chili en Argentinië, slegs teen Brasilië was die nederlaag minder duidelik. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 1973, 1975 en 1979 is die span telkens deur Argentinië, Brasilië, Chili en Uruguay geklop. Daarteenoor het Paraguay in 1977 sy eerste oorwinning oor Brasilië aangeteken en die vierde plek behaal.
Nadat die buurland Argentinië ’n verbod op alle sportiewe ontmoetings met Suid-Afrika geplaas het, is in 1980 die “skaduspan” Sudamérica XV (ook Jaguares Sudamericanos genoem) gestig. Hoewel die meeste van die spelers Argentyne was, het ook ’n aantal Paraguane vir die span uitgedraf. Die altesaam vyf betrokke beheerliggame het die span nie amptelik erken nie, maar in die geheim geduld. In 1980 het die Springbokke se eerste Suid-Amerikaanse toer in Asunción met ’n nieamptelike toetswedstryd teen die Paraguane afgeskop, wat die Suid-Afrikaners met 84–6 gewen het; vir die gashere was dit die eerste wedstryd teen ’n nie-Suid-Amerikaanse span. Gedurende die volgende vier jaar het die Sudamérica XV agt keer teen die Suid-Afrikaners gespeel, maar hulle kon slegs een wedstryd wen (op 3 April 1982 in Bloemfontein). Argentinië, die onoorwonne wenner van al die vorige vastelandse rugbykampioenskappe, het in 1981 nie aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem nie, waardeur die ander deelnemers die kans gehad het om dié toernooi vir die eerste keer ooit te wen. Die Paraguane het egter swak nederlae gely teen beide Uruguay en Chili, terwyl hulle Brasilië kon klop en sodoende die laaste plek vermy het.
Twee jaar later het Argentinië weer aan die toernooi deelgeneem en Paraguay kon slegs die vierde plek ná Argentinië, Uruguay en Chili beklee; in 1985 en 1987 het hulle dieselfde uitslag behaal. In 1985 het die Paraguane met ’n 9–9-gelykop teen Uruguay hul beste uitslag in dié tyd teen dié teenstander aangeteken. In dieselfde jaar het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Paraguay het geen uitnodiging ontvang nie.
Van die 1980’s af is die Paraguaanse rugby nie net sterk deur die buurland Argentinië beïnvloed nie, maar ook deur Frankryk, aangesien die Franse Rugbyfederasie met Jean-Pierre Juanchich ’n voltydse hoofafrigter vir die nasionale span beskikbaar gestel het. Juanchich was vroeër vir die Chileense nasionale span verantwoordelik en het daarna die leisels van beide Paraguay se junior- en seniorspan oorgeneem. In 1988 het die Paraguane met Frankryk tydens hulle Suid-Amerikaanse toer die eerste Europese span vir ’n nieamptelike toetswedstryd gehuisves en hulle is met 106–12 verslaan. In dieselfde jaar is hulle deur Suidwes-Afrika (nou Namibië) met 0–110 verneder; dié wedstryd is ook nie as ’n toetswedstryd geag nie. In Oktober 1988 was die URP in Asunción een van die vastelandse beheerliggaam CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR) se stigterslede; die ander was Argentinië, Brasilië, Chili en Uruguay. In April 1989 het dit ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad geword. Ná die Brasiliane se terugkeer na die toernooi het die Paraguane die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1989 slegs in die vyfde plek afgesluit. Aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering het Paraguay nie deelgeneem nie.
Aan die begin van die 1990’s het Paraguay beter vertoon in die vastelandse kampioenskap. Nadat die span in 1991 die vierde plek beklee het, het hulle in 1993 ná hulle eerste oorwinning oor Chili ooit die derde plek ná Argentinië en Uruguay behaal. Die laasgenoemde toernooi het gelyktydig as eerste kwalifiseringsrondte vir die Rugbywêreldbeker 1995 gedien. Die Paraguane het met hul uitslag egter nie die volgende rondte gehaal nie.
In 1995 het hulle weer die derde plek beklee. Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 1997 en 1998 het met die vierde plek teleurstellend vir Paraguay verloop. Tydens die tussen-in besliste Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering het Paraguay nederale teen beide Chili en Uruguay gely.
In die nuwe millennium Van 2000 af is die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap jaarliks beslis, maar die magsbalans op die vasteland het vir eers nie verander nie. Argentinië, Uruguay en Chili was onoorwinbare teenstanders, slegs teen Brasilië was die span suksesvol. Enkele dae voor die afskop van die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2000 het die beheerliggaam sy nasionale span onttrek en aangevoer dat hulle nie genoegsaam mededingend sou wees nie. Een jaar later het die Paraguane swak nederlae gely teen Uruguay, Chile en die Argentynse reserwespan. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2002 het die Yacarés hul ergste nederlaag in dié tyd gely: 0–152 teen Argentinië. Tydens die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering het die Paraguane Brasilië geklop, maar teen Chili verloor, waarmee hulle die volgende rondte misgeloop het.
Voor die afskop van die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2003 het Paraguay ’n kwalifiserende wedstryd teen Brasilië gewen, waarvolgens hulle in afdeling A kon aanbly. Nietemin is hulle ná nederlae teen al drie die deelnemers tydens die kampioenskap na afdeling B gerelegeer. Die Paraguane het dié afdeling in 2004 en 2005 in die eerste plek afgesluit. Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2005 was deels gelyktydig die tweede Rugbywêreldbeker 2007-kwalifiseringsrondte, waar Paraguay Brasilië geklop het, maar deur Chili verslaan is.
Daarna het hulle eers in 2008 weer aan die vastelandse kampioenskap deelgeneem en in die afdeling B tweede ná Brasilië geëindig, waarmee die span na die hoogste vlak van die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap gepromoveer is. Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2008 het ook gedien as die eerste Rugbywêreldbeker 2011-kwalifiseringsrondte, maar slegs Brasilië het met sy eerste groepplek die volgende rondte gehaal.
Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 2009, 2010 en 2011 het Paraguay telkens in die derde plek ná Uruguay, Chili en Brasilië afgesluit. Tydens dié toernooie het die na Paraguay gemigreerde Australiër Alex Sharman in vyf toetswedstryde vir sy nuwe tuisland gespeel. Vir die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2012 is die span weer in afdeling B gegroepeer, wat hulle onoorwonne in die eerste plek afgesluit het. Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2013 het Paraguay met ’n nederlaag teen Brasilië in die uitspeelwedstryd afgeskop, waarmee hulle in afdeling B aangebly het, wat hulle beklink het en gepromoveer is. Aangesien die uitspeelwedstryd gelyktydig deel was van die Rugbywêreldbeker 2015-kwalifisering, het die Paraguane dié toernooi misgeloop.
Verdere ontwikkeling