duimnael|240px|'n Tydbal, geïnstalleer in 1833, bo die "Octagon Room" by die Royal Observatory, Greenwich, Londen

'n Tydbal bo-aan 'n paal op 'n toring is 'n verouderde seintoestel gebruik om die juiste tyd aan skepe bekend te maak, sodat die bemanning daarmee die korrekte lengtegraadligging van die skip kon bereken.

Metode ‘n Groot bal, van hout of metaal en in opvallende kleure geverf, is elke dag op 'n voorafbepaalde uur langs die paal na onder laat gly. Die tyd waarop die bal moes afsak word deur die nabysynde sterrewag aan die tydbal-toring deurgegee. Op die moment dat die bal in beweging kom, is die presies bepaalde uur, wêreldwyd gewoonlik 1 nm. Dan kyk alle seemanne of hul horlosies (die chronometers aan boord) reggestel is. Dit is belangrik omdat die presiese korrekte tyd op see destyds nodig was om die juiste lengtegraad waarop die skip vaar te bepaal. So kon 'n skip sy posisie op die groot oseane van die wêreld vasstel, omdat die skip deur winde en seestrome dikwels van sy voorgenome koers afgedryf is. Om die lengtegraad te bepaal was die sontyd by die tydbal nodig en nie die standaardtyd by daardie plek nie.

Geskiedenis Die uitvinder van die tydbal was Robert Wauchope van die Royal Navy. In 1829 is die eerste van hierdie apparate by Portsmouth opgerig. Vier jaar later kom daar een by die sterrewag in Greenwich. Hierdie een is nog in gebruik en die bal val ook elke dag om 1 nm. Wauchope se swaer, admiraal Patrick Campbell, het 'n leiersrol gespeel in die plaas van tydballe in die Kaapkolonie. In 1887 was daar tydballe in Kaapstad, Simonstad, Port Elizabeth, Port Alfred en Oos-Londen. Daar was een in Durban en selfs een in Pretoria. Slegs die een in Kaapstad het behoue gebly.

Kaapstad Die stad se eerste tydbal is in 1836 op 'n houtpaal by die sterrewag in Observatory opgerig. Weens ontwikkelinge in die hawe was die bal mettertyd nie meer goed sigbaar nie. Later was daar een teen Seinheuwel en in 1857 is die een by Simonstad gebou. In Dokweg in die Victoria & Alfred Waterfront by 33° 54′ 21″ suid, 18° 25′ 09″ oos staan die enigste oorblywende tydbal-toring in die land. Dit is in 1883 gebou, in 1895 verhoog tot 10.2 m en in 1904 verder verhoog om vir skepe in die baai sigbaar te bly. Die bal was 'n 10 m bo grondvlak en is vir 'n 3 m laat neerdaal. Aanvanklik is die bal handmatig laat sak totdat die proses in 1903 geëlektrifiseer is. Met die ingebruikneming van radioseine (en nog later GPS) het hierdie hele stelsel in 1934 in onbruik verval.

Sontyd Suid-Afrikaanse Standaardtyd bepaal dat die hele land 'n tyd het vasgestel volgens die 30º-oosterlengtelyn. Dit beteken dat die hele land 'n tyd het van 2 uur later as die Greenwich-tyd. Maar Kaapstad lê by nagenoeg 18° 25′ oos van Greenwich en is die sontyd vir Kaapstad slegs 1 uur 14 minute later as die tyd by Greenwich. Die tyd wat die destydse seemanne vir hul plekbepaling nodig gehad het, was sontyd. Daarvoor was sterrekundige waarnemings nodig en was die tybaltorings dus dikwels by of naby 'n sterrewag.

Seinkanon Die kanon op Seinheuwel gee met sy skoot om 12 uur elke middag ook die juiste tyd op die horlosie aan. Omdat klankgolwe baie langsamer beweeg as liggolwe is die tyd aangegee deur die tydbal baie meer akkuraat.

Monument Hierdie tydbal in Kaapstad is in 1982 tot gedenkwaardigheid verklaar. In 1997 is dit gerestoureer en is die bal nou van glasvestel. Teenswoordig is dit bloot 'n besienswaardigheid.

Lees ook Astrolabium Sekstant

Bronnelys artefacts.co.za/main/Buildings/bldgframes_mob.php?bldgid=19150 atlasobscura.com/places/time-ball-tower-cape-town-south-africa globaldigitalheritage.org/heritage-site/time-ball-tower Stewart, Roger: The Cape Odyssey 107. A selection of essays inspired by maps of the Cape. Tokai: Historical Media, 2016. van der Merwe, Karla: Tydbal-toring by die Waterfront tot sy volle glorie herstel. In: Die Burger, 14 November 2025

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Kaapstad