duimnael|Lugfoto van die Liambezimeer in 2019 Die Liambezimeer is ‘n nie-standhoudende meer in die noordooste van Namibië wat erg ly onder klimaatskommelinge.

Ligging Die meer is in die Caprivistrook by 17° 56′ suid, 14° 22′ oos en op 930 m bo seespieël, amper op die grens met Botswana, langs die D3507-pad en 60 km suid van Katima Mulilo. Hierdie rivierbedding is deel van die rivierstelsel gevorm deur die Kwandorivier, Linyantirivier, Choberivier en die Zambezirivier.

tot 1980 Die Liambezi was tot ±1985 ‘n groot vlak tropiese meer van soms tot 10 000 ha tussen die Linyanti- en die Choberivier. Grootwildjagter Frederick Courtney Selous het in 1879 al geskryf van ‘n groot meer met mense wat woon op eilande in die meer. Maar in 1942 was die meer slegs 10 ha groot. Tien jaar later was dit ‘n 3 000 ha groot en in 1958 na ‘n buitengewone vloed het die meer 10 000 ha beslaan met ‘n diepte van 3 tot selfs 5 m. Tot 1980 was die invloei uit die Kwando en Linyanto genoeg om te vergoed vir die besonder hoë verdampingsyfer en het die watervlak op peil gebly. Die meer was toe besonder ryk aan vis en het gewemel van die voëls (veral pelikane), seekoeie, krokodille en otters. Tot ‘n 1000 kg vis is per dag deur die bestaansvissers geoes. Veral na die vloede van 1957, 1958 en 1962 het die visserybedryf geblom. Jare lank was dit die vernaamste voedselbron vir baie Capriviane.

na 1980 Sedertdien het die lae reënval in Angola en Zambië tot gevolg gehad dat daar geen invloei in die meer was nie. Boonop het die jag op en uitwissing van seekoeie in die Linyantirivier die rivier se lope so laat toegroei dat dit die invloei belemmer het. Daarmee saam gaan die hoë verdamping van die min water wat nog oorgebly het. Na 5 jaar was daar teen Mei 1985 slegs ‘n droë moddervlakte oor met periodieke stofstorms. Ondergronds het vure in die veengrond deur spontane ontbranding ontstaan en ‘n gevaar gevorm vir mens en dier. Dit is eers in Desember 1987 deur goeie reën geblus. Ook was dit die einde van ‘n inkomste vir die bestaansvissers en het mense in die kontrei begin honger ly.

na 2007 Sedert 2007 ontvang die meer weer vloedwater uit die Choberivier. In April 2009 was daar ‘n reuse vloed gevolg deur vloede in 2010 en 2011. Die visserybedryf het so herstel dat in 2012 ‘n 2.7 miljoen kilo vis gevang is. Sedert 2016 is die meer weer droog.

Bibliografie http://earthobservatory.org.nasa.gov/images/50225/bukolo-channel-and-lake-liambezi Grobler, Manie en Jannie Ferreira: Liambezi – sal dié meer ooit weer vol loop? In: Custos. Tydskrif oor ons Natuur en Nasionale Parke. Deel 19, nr. 6, September 1990. ISSN 0379-9921 https://investigations.namibian.com.na/lake-liambezi-livng-on-borrowed-time/ https://www.researchgate.net/figure/Map-of-Lake-Liambezi-Namibia-showing-the-floodplains-and-rivers-that-feed-it_fig1_286409470 https://the-eis.com/elibrary/search/24639

Kategorie:Mere in Namibië