‘n Camphill-skool bied aan verstandelik- en fisiesgestremde mense ‘n plek om te leef en werk saam met hul begeleiers en hul families.
Suid-Afrika Daar is tans net oor die 100 sulke Camphill-gemeenskappe oor die wêreld. May Redman stig in 1952 die eerste skool van die aard in Suid-Afrika op ‘n deel van ‘n plaas wat voorheen ‘n lasaret in die Hemel-en-Aarde-vallei naby Hermanus gehuisves het. Vyf jaar later besoek dr. Karl König uit Groot-Brittanje die skool en word dit amptelik deel van die Camphill-beweging. In die 1960’s word sulke skole geopen in Port Elizabeth en Johannesburg, maar hulle is sedertdien gesluit en in 1964 is daar so ‘n skool aan die Weskus gevestig. In 1976 is twee aanliggende plase in die Hemel-en-Aarde-vallei by die skoolterrein ingesluit.
Aktiwiteite Die inwoners is daagliks betrokke by o.a. ‘n kwekery, ‘n bakkery of ‘n houtwerkbedryf en daar word geboer met beeste, varke, hoenders, groente, kruie en veldblomme. Die inrigting, geskoei op Christelike beginsels, maak baie gebruik van vrywilligers en terapeute uit Hermanus en direkte omgewing.
Agtergrond Die eerste Camphill-skool is in 1939 deur dr. Karl König (1902-1966), ‘n Oostenrykse geleerde, in Aberdeen, Skotland gestig. Dit was gevestig op die idees van dr. Rudolf Steiner (1861-1925) wat gelei het tot die Waldorf-pedagogiek.
Bibliografie camphill.org.za camphillschool.org.za farm.camphill-hermanus.og.za Mouton, Annalize: Camphill – a special place for special people. In: Village Life. Nr. 19, Augustus/September 2006. ISSN 1810-5580
Kategorie:Onderwys Kategorie:Skole in die Wes-Kaap