Makemake (kleinplaneetnommer 136472) is 'n dwergplaneet wat in die Kuipergordel, anderkant die wentelbaan van Neptunus, om die Son wentel. Met sy deursnee van 60% van Pluto s'n, is dit die vierde grootste dwergplaneet en trans-Neptunus-voorwerp in die Sonnestelsel. Makemake is op 31 Maart 2005 deur 'n sterrekundige span onder leiding van Michael Brown ontdek, en dié ontdekking het daartoe bygedra dat Pluto in 2006 as 'n dwergplaneet herklassifiseer is.
Die dwergplaneet is genoem na die mitologiese god Makemake, wat in die geloof van die Rapa Nui (die inwoners van Paaseiland) die god van die mensdom en vrugbaarheid is. (Die naam word as vier lettergrepe uitgespreek, met die klem op die a's, dus
Makemake se oppervlak is soortgelyk aan dié van Pluto: Dit is hoogs weerkaatsend en word hoofsaaklik deur bevrore metaan bedek. Dit is rooibruin gevlek deur toliene. Dit het sover bekend een natuurlike satelliet, wat nog nie 'n naam het nie.
Dié maan se wentelbaan dui daarop dat Makemake se rotasie 'n groot ashelling het en dus waarskynlik uiteenlopende seisoene ondervind. Makemake toon bewyse van geochemiese aktiwiteit en kriovulkanisme, en dus glo wetenskaplikes dit het 'n oseaan van vloeibare water onder sy oppervlak. Gasagtige metaan is om Makemake bespeur, maar dit is onduidelik of dit in die atmosfeer voorkom en of dit uitgassing is.
Geen hoëresolusiefoto's van Makemake se oppervlak bestaan nie, want dit is nog nie van naby deur 'n ruimtetuig besoek nie. Die dwergplaneet is so ver van die Aarde af dat dit soos 'n steragtige ligpunt lyk, al word dit deur 'n teleskoop beskou. Wetenskaplikes het die wens uitgespreek om Makemake met 'n ruimtetuig te besoek om dit te verken vanweë sy geologiese aktiwiteit en moontlike oseaan onder die oppervlak.
Geskiedenis Ontdekking Makemake is in 2005 ontdek deur 'n span Amerikaanse sterrekundiges bestaande uit Michael E. Brown, Chad Trujillo en David Rabinowitz tydens hulle soektog na groot voorwerpe anderkant die wentelbaan van Neptunus. Die ontdekkingsbeelde van Makemake is op 31 Maart 2005 geneem, maar Brown het die voorwerp eers op 3 April 2005 raakgesien tydens sy ondersoek van die beelde en dit as buitengewoon helder geïdentifiseer.
thumb|links|Makemake is ontdek op beelde wat geneem is deur die Samuel Oschin-teleskoop van 1,22 meter by die Palomar-sterrewag (op die foto). Verskeie maande voor Makemake se ontdekking het Brown en sy span die buitengewoon groot trans-Neptunus-voorwerpe en ontdek, wat vermoedelik minstens so groot soos die destydse negende planeet, Pluto, was. Terwyl hulle verdere waarnemings vir albei voorwerpe beplan het, het die span oorspronklik beoog om die aankondiging van Makemake tot 'n tyd ná die beplande aankondiging van Eris in Oktober 2005 uit te stel. Dié plan is egter verydel toe 'n span onder leiding van José Luis Ortiz Moreno by die Sierra Nevada-sterrewag in Spanje hulle eie ontdekking van Haumea op 27 Julie 2005 aankondig.
Brown het besef sy span se waarnemingslogboeke met die posisies van Haumea, Eris en Makemake is onbedoeld geopenbaar en deur 'n rekenaar by Ortiz se instelling geraadpleeg. Uit vrees dat sy span se ontdekkings van Eris en Makemake op soortgelyke wyse in die wiele gery sou word, het Brown op 29 Julie 2005 hulle ontdekking aangekondig.
Die aankondiging van dié Plutogrootte voorwerpe het 'n wydverspreide debat ontketen oor wat as 'n planeet beskou moet word, en dit het die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) aangespoor om 'n nuwe definisie van die begrip "planeet" te skep. So is Pluto in Augustus 2006 as 'n dwergplaneet herklassifiseer.
Naam en simbool Dié dwergplaneet is genoem na Makemake, die skepper van die mensdom en god van vrugbaarheid in die mites van die Rapa Nui-volk, wat inheems aan Paaseiland is. Dit het die kleinplaneetnommer 136472, wat op 7 September 2005 deur die Kleinplaneetsentrum (MPC) toegeken is nadat die voorwerp se wentelbaan goed bepaal is. Voordat Makemake sy naam gekry het, was dit bekend onder sy voorlopige naam, , wat deur die MPC toegeken is toe die ontdekking daarvan aangekondig is.
Die naam "Makemake" behou die verband met Paasfees, net voor die dwergplaneet ontdek is, en kom die IAU se reël na dat voorwerpe in die klassieke Kuipergordel na skeppergode genoem moet word. Die naam is in Julie 2008 deur die IAU goedgekeur en aangekondig.
'n Simbool vir Makemake is in Januarie 2022 by Unicode gevoeg as U+1F77C. Die gebruik van planetêre simbole in wetenskaplike publikasies word deur die IAU ontmoedig, en daarom word Makemake se simbool meestal deur astroloë gebruik. Dit is deur Denis Moskowitz en John T. Whelan ontwerp en stel 'n tradisionele rotstekening van Makemake se gesig voor, gestileer om soos die letter "M" te lyk. Die simbool word ook soms gebruik.
Wentelbaan en klassifikasie thumb|links|280px|Makemake se skuins wentelbaan (grys) om die Son, met die buiteplanete ook aangedui. Die vertikale grys strepe by Makemake se wentelbaan toon sy posisies bo en onder die sonnebaan.
Makemake wentel anderkant Neptunus om die Son op 'n gemiddelde afstand van 45,5 astronomiese eenhede (AE). Dit voltooi een omwenteling elke 307 jaar. Met 'n baaneksentrisiteit van 0,16 volg Makemake 'n matig elliptiese baan. Dit kom so naby as 38,2 AE aan die Son (perihelium) en gaan so ver as 52,8 AE van die Son af (afelium). Die dwergplaneet het 'n betreklik hoë baanhelling van 29° ten opsigte van die sonnebaan.
Makemake is tans naby sy afelium, die verste punt van sy wentelbaan. Dit was in November 2025 sowat 52,7 AE van die Son af en sal sy afelium in Mei 2033 bereik. Dit is tans ver bokant die sonnebaan geleë en sal ook by afelium daar bly. Makemake sal die sonnebaan in 2103 kruis en sal sy perihelium in 2186 sowat 26° onder die sonnebaan bereik. Simulasies toon Makemake se wentelbaan is oor 'n tydskaal van miljarde jare stabiel en sal waarskynlik nie noemenswaardig verander gedurende die oorblywende bestaan van die Sonnestelsel nie.
Makemake deel sy wenteleienskappe met talle klein ysvoorwerpe anderkant Neptunus in die Kuipergordel. Makemake spesifiek behoort tot die klassieke Kuipergordel, die "dinamies warm" populasie (wat niks met temperatuur te doen het nie, maar met die dinamika van sy wentelbaan, wat kwaai versteur is; Makemake is baie ysig). Die voorwerpe in die klassieke gordel het groot baanhellings (i > 5°), relatief lae eksentrisiteite (e < 0,2) en is nie in 'n baanresonansie met Neptunus nie. Makemake is die grootste lid van die klassieke gordel, maar beslaan net 'n klein deel van die totale massa van die gordel (sowat 3,8% van die klasssieke gordel se massa).
Daar word vermoed die klassieke Kuipergordel is vroeg in die Sonnestelsel se geskiedenis deur Neptunus se swaartekrag verstrooi; daarom word Makemake soms 'n "verstrooide voorwerp" genoem.
Makemake is die eerste voorwerp wat vermoedelik 'n dwergplaneet is wat 'n naam gekry het en die vierde voorwerp wat as 'n dwergplaneet geklassifiseer is (ná , Pluto en Eris) nadat dié kategorie in 2006 gevestig is. Makemake is meer spesifiek 'n plutoïed: die subkategorie van dwergplanete anderkant Neptunus.
Grootte, vorm en massa thumb|upright=2|'n Vergelyking van die groottes, albedo's en kleure van verskeie groot trans-Neptunus-voorwerpe met 'n deursnee van meer as 700 km. Makemake word in die boonste ry, tweede van regs, getoon. Die donker gekleurde boë dui die onsekerhede in die voorwerp se grootte aan.
Makemake is 'n byna bolvormige voorwerp met 'n gemiddelde deursnee van sowat 1 430 km, wat sowat 60% () van Pluto s'n is, of 11% () van die Aarde s'n. Dit maak Makemake die vierde grootste bekende dwergplaneet en trans-Neptunus-voorwerp in die Sonnestelsel, ná Pluto, Eris en Haumea. Waarnemings van 'n sterokkultasie in 2011 het getoon Makemake is effens afgeplat by sy pole, met 'n boonste grens vir sy pooldeursnee van ongeveer 1 420 km. Omdat net die bedekkende voorwerp se skadu tydens 'n sterokkultase waargeneem word, is die presiese afplatting en helling van Makemake se pole ten opsigte van die Aarde se siglyn nie bekend nie.
Makemake het 'n massa van tussen ongeveer en , 'n waarde wat bepaal is uit die wentelperiode en afstand van sy maan. Dit maak Makemake weer eens die vierde swaarste bekende dwergplaneet en trans-Neptuns-voorwerp in die Sonnestelsel, ná Eris, Pluto en Haumea.
Makemake se massa is ongeveer 3,7% van dié van ons Maan (of 0,045% van die Aarde s'n). Gegewe Makemake se massa en gemiddelde deursnee, is sy gemiddelde oppervlakswaartekrag sowat 0,35 m/s2 (ongeveer 3,6% van dié van die Aarde). Sy ontsnappingsnelheid is sowat 0,71 m/s2.
Rotasie Die dwergplaneet se rotasieperiode is onseker; metings van 2025 dui op óf 11,4 óf 22,8 uur. Dié metings is verkry deur veranderings in Makemake se helderheid oor tyd te monitor en dit as 'n ligkurwe voor te stel. Makemake toon baie min variasie in helderheid (0,03 magnitudes), vermoedelik as gevolg van geringe variasies in albedo oor sy oppervlak, wat dit vir teleskope moeilik maak om sy ligkurwe en rotasieperiode te meet.
Dit is onduidelik of Makemake se helderheid een of twee keer per rotasie 'n maksimum bereik; daarom is dit onseker of die rotasieperiode 11,4 uur of dubbel dié waarde, naamlik 22,8 uur, is.
Makemake se ashelling is nog nie gemeet nie, hoewel dit geredelik aanvaar kan word dat dit in lyn is met die pool van sy maan se wentelbaan. In daardie geval sou Makemake 'n groot ashelling van tussen 46° en 78° ten opsigte van sy wentelbaan om die Son hê (of 63°-87° ten opsigte van die sonnebaan).Dié groot ashelling, tesame met sy eksentriese wentelbaan, kan groot seisoenale veranderinge in Makemake se oppervlaktemperatuur en terrein veroorsaak, soortgelyk aan dit wat op Pluto waargeneem word.
Geologie Oppervlaksamestelling en kleur thumb|upright=2|Die naby-infrarooi spektrum van Makemake, soos gemeet deur die James Webb-ruimteteleskoop. Die absorpsiekenmerke van metaan () by 1-2 um is baie opvallend, wat aandui dat dit baie volop op Makemake se oppervlak voorkom. Ander chemiese verbindinge wat op Makemake waargeneem is, sluit etaan (), asetileen (), gedeuterieerde metaan () en moontlik etileen () in. thumb|upright=1.25|'n Kunstenaar se voorstelling van Makemake wat sy eenvormige, ligbruin oppervlak en die afwesigheid van 'n beduidende atmosfeer uitbeeld.
Vanweë Makena se groot afstand van die Son af het sy oppervlak 'n uiters lae temperatuur van 30-40 K ( tot ), koud genoeg dat sommige vlugtige stowwe, soos metaan, as vaste ys kan voorkom. Astronomiese spektroskopie het getoon Makemake se oppervlak word oorheers deur bevrore metaan, met kleiner hoeveelhede koolwaterstowwe, insluitend etaan, etileen, asetileen en verskeie hoëmassa-alkane soos propaan. In sigbare lig lyk Makemake se oppervlak baie helder en weerkaatsend, met 'n geometriese albedo van 82% (weerkaatsender as Pluto), wat daarop dui dat die metaan onlangs afgeset is.
Die langketting-koolwaterstowwe op Makemake se oppervlak ontstaan deur die bestraling van metaan deur ultraviolet-sonlig en kosmiese strale, wat die metaan afbreek en fotochemiese reaksies veroorsaak. Hierdie fotochemiese reaksies kan opeenvolgend plaasvind: Metaan word in etaan omgeskakel, dan in etileen, daarna in asetileen, ensovoorts, totdat 'n donker, rooierige mengsel van komplekse koolwaterstowwe, bekend as toliene, agterbly. Hierdie toliene gee aan Makemake sy rooibruin kleur. Makemake is minder rooi as Pluto, maar ietwat rooier as Eris; die kleurverskil kan te wyte wees aan verskillende konsentrasies toliene op die dwergplanete. Hoewel toliene Makemake se oppervlak behoort te verdonker, bly die dwergplaneet helder omdat vars metaan-ys die toliene bedek.