Dead Poets Society is 'n Amerikaanse grootworddramarolprent van 1989 wat deur Peter Weir geregisseer en deur Tom Schulman geskryf is.

thumb|links|160px|Robin Williams Die fliek, met Robin Williams in die hoofrol, speel in 1959 af in 'n fiktiewe elitekosskool, die Welton Academy, en gaan oor 'n Engelsonderwyser wat sy studente inspireer met sy klasgee in poësie.

Dead Poets Society is op 2 Junie 1989 in Amerika uitgereik. Dit was 'n kommersiële sukses en het groot lof ontvang. Dit het 'n begroting van $16,4 miljoenugehad en het wêreldwyd $235,9 miljoen geïn. Dit was die fliek met die vyfde grootste bruto wins in 1989.

Dit het verskeie benoemings ontvang, insluitende vir Oscar vir beste prent, beste regisseur en beste akteur (Williams). Dit het die Bafta vir beste rolprent gewen, asook 'n Franse César-prys en Italiaanse David di Donatello-prys vir beste buitelandse rolprent. Schulman het 'n Oscar gewen vir beste oorspronklike draaiboek.

Storielyn

In 1959 begin Todd Anderson studeer aan die topseunskool Welton Academy in Vermont. Saam met Todd in die koshuiskamer is een van Welton se topstudente, Neil Perry. Deur Neil ontmoet hy dié se vriende: Knox Overstreet, Richard Cameron, Steven Meeks, Gerard Pitts en Charlie Dalton.

Op die eerste dag van klas is die seuns verbaas oor die ongewone klasgeemetodes van hulle nuwe Engelsonderwyser, John Keating (Williams). Hy het ook aan Welton studeer en daarna Engelse letterkunde aan Cambridge. Hy moedig sy studente aan "om die dag te gryp" en verwys na die Latynse uitdrukking "carpe diem".

Keating laat die studente beurte maak om op sy tafel te staan om maniere te demonstreer om op 'n ander manier na die lewe te kyk, gee hulle opdrag om die inleiding in hulle poësieboeke uit te skeur wat aan hulle verduidelik hoe om 'n wiskundige formule te gebruik om poësie te takseer en nooi hulle om op hulle eie manier deur die voorhof te loop om individualisme aan te moedig. Keating se metodes trek die aandag van die streng skoolhoof, Gale Nolan.

Toe Neil uitvind Keating was lid van die nieamptelike Dead Poets Society toe hy 'n student aan Welton was, begin hy weer die klub. Hy en sy vriende sluip snags uit die koshuis na 'n grot, waar hulle gedigte voorlees. Keating se lesse en hulle betrokkenheid by die klub moedig hulle aan om hulle lewe selfstandig te lei.

Neil ontdek hy hou van toneelspeel en kry 'n rol in 'n plaaslike opvoering van 'n Midsomernagdroom, ondanks die teenstand van sy beheervraat van 'n pa, wat wil hê hy moet medies aan Harvard studeer. Keating help Todd om uit sy dop te kruip en sy potensiaal te besef, en dit laat hom spontaan 'n gedig voor die klas komponeer.

Charlie laat publiseer 'n artikel namens die klub in die skoolkoerant oor die toelating van meisies aan Welton. Nolan gee Charlie 'n pak slae en probeer hom dwing om te onthul wie nog in die Dead Poets Society is, maar Charlie weier. Nolan konfronteer ook vir Keating en raai hom aan om sy leerlinge af te raai om gesag te bevraagteken. Keating roskam die seuns en maan hulle dat 'n mens alle moontlike gevolge van jou dade moet oorweeg.

Op die vooraand van die toneelstuk se opening vind Neil se pa uit dat hy daarby betrokke is en hy eis dat Neil dadelik bedank. Keating raai Neil aan om sy liefde vir toneelspel aan sy pa te verduidelik. Nadat Neil in die toneelstuk opgetree het, haal sy pa hom uit Welton en skryf hom in 'n militêre skool in. Neil kry nie ondersteuning van sy ma nie en kan nie aan sy pa verduidelik hoe hy voel nie, en hy pleeg selfmoord met sy pa se vuurwapen.

Op versoek van Neil se ouers ondersoek Nolan sy dood. Tydens die ondersoek skuif Cameron die blaam op Keating af om te keer dat hy gestraf word vir sy lidmaatskap van die Dead Poets Society. Hy vertel ook vir Nolan wie die ander lede van die klub is. Charlie slaan Cameron met die vuis en word geskors. Elk van die seuns word na Nolan se kantoor ontbied en gedwing om 'n brief te onderteken wat Cameron se valse aantygings bevestig. Toe dit Todd se beurt is, onderteken hy teensinnig die brief onder druk van sy ouers, en Keating word afgedank.

Nolan, wat Engels gegee het voordat hy skoolhoof geword het, neem tydelik Keating se Engelsklas oor. Keating onderbeek die klas om sy persoonlike besittings te kom haal, en Todd beken dat hulle gedwing is om die brief te onderteken wat tot sy afdanking gelei het. Keating verseker Todd dat hy hom glo. Nolan dreig om Todd of enigiemand wat uit sy beurt uit praat te skors. Ondanks die dreigement klim Todd op sy lessenaar en sê: "O kaptein! My kaptein!". Die ander lede van die Dead Poets Society, buiten Cameron, en van die ander studente klim ook op hulle lessenaar. Aangeraak deur hulle steun, bedank Keating die seuns trots en vertrek.

Rolverdeling

Robin Williams as John Keating, die nuwe Engelsonderwyser Robert Sean Leonard as Neil Perry Ethan Hawke as Todd Anderson Josh Charles as Knox Overstreet Gale Hansen as Charlie Dalton Dylan Kussman as Richard Cameron Allelon Ruggiero as Steven Meeks James Waterston as Gerard Pitts Norman Lloyd as dr. Gale Nolan, skoolhoof Kurtwood Smith as Thomas Perry, Neil se dominerende pa Alexandra Powers as Chris Noel, 'n rasieleier in wie Knox belangstel

Ontvangs Die wêreldwye inkomste was na berig word $235 860 579. Dit was die prent met die vyfde grootste bruto wins van 1989, en die hoogste vir dramas.

Resensies Op Rotten Tomatoes het Dead Poets Society 'n goedkeuringsyfer van 85%, gebaseer op 65 resensies, en 'n gemiddelde punt van 7,2/10. Die webtuiste prys die toneelspel van Williams en die jong sterre. Op Metacritic het die fliek 'n punt van 79 uit 100, gebaseer op 15 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" ontvangs.

The Washington Post se resensent noem dit "soliede, goeie vermaak" en prys Williams se "lekker beheerste toneelspel". Vincent Canby van The New York Times prys ook Williams se "buitengewone toneelspel", maar skryf: "Dead Poets Society... gaan minder oor Keating as oor 'n handvol ontvanklike seuns."

Pauline Kael was nie gek na die prent nie, maar prys ook Williams se spel.Pauline Kael, Movie Love, pp. 153–157, herdruk van die resensie wat in The New Yorker van 26 Junie 1989 verskyn het. Roger Ebert het die fliek in sy resensie vir die Chicago Sun-Times twee uit vier sterre gegee. Hy het Williams gekritiseer omdat hy sy andersins geloofwaardig dramatiese spel soms afgewissel het met sy verhoogkomediantspel.

Prestasies Dead Poets Society het Oscar-benoemings ontvang vir beste prent, beste regisseur en beste akteur (Williams). Dit het die Bafta vir beste rolprent gewen, asook 'n César- en David di Donatello-prys vir beste buitelandse rolprent. Schulman het 'n Oscar gewen vir beste oorspronklike draaiboek.

Die prent was 52ste op die American Film Institute (AFI) se top-100 inspirerende prente van alle tye. Die sêding "Carpe diem. Gryp die dag, seuns. Maak julle lewens besonders" was die AFI se 95ste beste fliekaanhaling op sy lys "100 Years...100 Movie Quotes".

Nalatenskap Ná Robin Williams se dood in Augustus 2014 het aanhangers van sy werk op sosiale media hulde aan hom gebring met foto- en videonabootsings van die fliek se finale "O kaptein! My kaptein!"-toneel. Toe hulle van sy dood hoor, het baie onderwysers aanlyn lof aan hom gebring. Van hulle het selfs onthul hulle is geïnspireer om onderwysers te word deur die karakter mnr. Keating van Dead Poets Society.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente