Taxi Driver is 'n Amerikaanse sielkundige neo-noir-dramarolprent van 1976 wat deur Martin Scorsese geregisseer en deur Paul Schrader geskryf is. Dit speel af in 'n moreel vervallende New York ná die Viëtnam-oorlog. Die hoofrol word vertolk deur Robert de Niro as die taxidrywer Travis Bickle, wie se geestestoestand agteruitgaan terwyl hy snags in die stad werk. Ander akteurs is Jodie Foster, Cybill Shepherd, Harvey Keitel, Peter Boyle en Albert Brooks (in sy eerste filmrol).

Die musiek is voltooi 'n paar uur voor die musikant Bernard Herrmann se dood en die prent is aan hom opgedra. Dit is op 8 Februarie 1976 deur Columbia Pictures uitgereik en het groot lof ontvang, maar was omstrede oor die grafiese geweld aan die einde en die rol van die 12-jarige Jodie Foster as 'n kinderprostituut. Die prent het verskeie pryse gewen, insluitend die Palme d'Or op die Cannes-rolprentfees van 1976. Dit is ook op die 49ste Oscar-toekenningsaand benoem vir vier Oscars, onder andere vir beste prent, beste akteur (De Niro) en beste vroulike byspeler (Foster).

Hoewel Taxi Driver verder omstrede was omdat dit John Hinckley jr. se sluipmoordpoging op president Ronald Reagan in 1981 geïnspireer het, het die fliek gewild gebly. Dit word beskou as een van die beste rolprente wat nog gemaak is, asook een van die kultureel belangrikste en inspirerendste flieks van sy tyd. In 2022 het Sight & Sound dit die 29ste beste prent van sy dekade en volgens regisseurs die 12de beste fliek van alle tye genoem, saam met Barry Lyndon. In 1994 is die prent deur die Amerikaanse Library of Congress as "kultureel, histories en esteties" belangrik aangewys en is dit gekies om in die nasionale rolprentregister bewaar te word.

Storielyn

Die Viëtnam-veteraan Travis Bickle aanvaar 'n werk as 'n nagtaxidrywer in New York om sy chroniese slapeloosheid en eensaamheid te bekamp. Hy besoek gereeld rolprentteaters vir volwassenes en hou 'n dagboek waarin hy bewustelik aforismes (pittige sêgoed) insluit, soos: "Jy is net so gesond as wat jy voel". Hy raak gewalg deur die misdadigheid en stedelike agteruitgang wat hy sien en droom daarvan "om die uitskot van die strate af te kry".

Travis raak behep met Betsy, 'n veldtogwerker vir senator en presidentskandidaat Charles Palantine. Travis gaan in die veldtogkantoor in waar sy werk en vra haar vir koffie. Sy stem in, en sê ja vir 'n tweede afspraak met hom. Hy neem haar na 'n teater vir wolwassenes en sy storm uit. Hy probeer vrede maak, maar misluk.

Hy beleef 'n eksistensiële krisis en sien verskeie dade van prostitusie in die stad, waarna hy 'n ander taxidrywer, Wizard, in sy vertroue neem oor sy gewelddadige gedagtes. Wizard maak dit egter af as niks en verseker hom hy sal oukei wees. Om van sy frustrasie ontslae te raak volg hy 'n streng oefenprogram. Hy maak kontak met 'n wapenhandelaar op die swartmark, Easy Andy, en koop vier handwapens. Tuis oefen hy om sy wapens uit te pluk. Hy begin Palantine se byeenkomste bywoon om te kyk hoe goed sy sekuriteit is. Een nag skiet Travis 'n man dood wat 'n vriend se kafee probeer beroof.

Op sy ritte deur die stad kom Travis gereeld die 12-jarige kinderprostituut Iris teen. Hy oorreed haar koppelaar en mishandelende minnaar, Sport, dat hy van haar dienste wil gebruik maak. Hy ontmoet Iris alleen en probeer haar oorreed om nie meer 'n prostituut te wees nie.

thumb|200px|links|'n Toneel uit die einde van Taxi Driver. Travis knip kort daarna sy hare in 'n mohawkhaarstyl en woon 'n openbare byeenkoms van Palantine by, waar hy beplan om hom dood te skiet. Veiligheidsmanne sien hom egter sy hand in sy sak steek en jaag hom. Travis maak dit veilig huis toe.

Dié aand ry Travis na die bordeel waar Iris werk om Sport te vermoor. Hy skiet Sport en 'n kliënt van Iris. Travis word verskeie kere geskiet, maar slaag daarin om die twee mans te vermoor. Travis wil daarna selfmoord pleeg, maar het nie patrone oor nie. Hy sak swaar gewond op 'n rusbank neer langs 'n huilende Iris, net toe die polisie daar aankom. Hy maak of hy homself met sy bebloede vinger skiet.

Travis verval in 'n koma weens sy beserings, maar word deur die pers as 'n held uitgebeeld en word nie vir die moorde vervolg nie. Hy kry 'n brief van Iris se ouers in Pittsburgh waarin hulle hom bedank en sê Iris is veilig en gaan nou skool toe.

Nadat hy herstel het, gaan Travis terug werk toe en Betsy haal sy taxi. Sy sê sy het sy verhaal in die koerante gevolg. Travis laai haar by die huis af, maar wil nie haar geld vat nie. Hy ry met 'n glimlag weg. Hy raak ontsteld toe hy iets in sy truspieëltjie sien, maar hou aan ry die nag in.

Rolverdeling

Robert de Niro as Travis Bickle Jodie Foster as Iris Steensma Cybill Shepherd as Betsy Harvey Keitel as Matthew "Sport" Higgins Albert Brooks as Tom Leonard Harris as senator Charles Palantine Peter Boyle as "Wizard" Harry Northup as Doughboy

Die regisseur, Martin Scorsese, speel twee kameerolle: een keer op die agtergrond tydens Betsy se eerste verskyning, en daarna as 'n passasier in Travis se taxi wat sy ontroue vrou wil vermoor. Diahnne Abbott, wat later in die werklike lewe De Niro se vrou sou word, speel die rol van 'n werker in 'n rolprentteater vir volwassenes wat Travis afjak toe hy by haar probeer aanlê.

Produksie Ontwikkeling thumb|links|180px|Scorsese in 1995. thumb|links|180px|Schrader in 2009. Scorsese het gesê dit was die regisseur Brian de Palma wat hom aan die skrywer Paul Schrader voorgestel het. Taxi Driver het ontstaan uit Scorsese se gevoel dat rolprente soos drome of dwelmmymeringe is. Hy het probeer om in die kyker die gevoel te ontlok dat hy hom in 'n onsekere toestand tussen slaap en wakker wees bevind.

Scorsese noem Alfred Hitchcock se The Wrong Man (1956) en Jack Hazan se A Bigger Splash (1973) as inspirasies vir sy kamerawerk in die fliek. Scorsese het ook vertel Jef Costello ('n eensame huurmoordenaar), wat deur Alain Delon in Le Samouraï vertolk word, het die skepping van Travis Bickle geïnspireer. Alain Delon is in werklikheid die rol van Bickle aangebied, asook baie ander.

Toe Schrader die draaiboek geskryf het, het hy inspirasie geput uit die dagboeke van Arthur Bremer, wat die presidentskandidaat George Wallace in 1972 geskiet het, asook uit die Harry Chapin-liedjie "Taxi", wat gaan oor 'n eksmeisie wat in 'n taxi klim. Vir die einde van die prent, waar Bickle 'n mediaheld word, is Schrader geïnspireer deur Sara Jane Moore se sluipmoordpoging op president Gerald Ford, waarvoor sy op die voorblad van Newsweek verskyn het.

Schrader het ook homself as inspirasie gebruik. In 'n onderhoud in 1981 vertel hy van sy ondervinding met chroniese slapeloosheid in New York, wat daartoe gelei het dat hy pornografiese boekwinkels en rolprentteaters besoek het omdat hulle heelnag oopbly. Ná 'n egskeiding en einde van 'n verhouding het hy 'n paar weke lank in sy motor gebly.

Nadat hy vir 'n maagsweer in die hospitaal was, het Schrader die draaiboek vir Taxi Driver in "minder as twee weke" geskryf. Hy sê: "Die eerste konsep was miskien 60 bladsye lank en ek het onmiddellik met die tweede konsep begin, en dit het minder as twee weke geduur." Hy sê verder: "Ek het besef ek het in weke met niemand gepraat nie en dit is toe dat die idee van die taxi by my opgekom het. Dit is wat ek was: hierdie persoon in 'n ysterkis, 'n doodskis, wat in die stad rondswerf, maar blykbaar alleen."

Schrader het besluit om Bickle 'n Viëtam-veteraan te maak omdat dit gelyk het of die nasionale trauma van die oorlog goed ingepas het by Bickle se paranoïese psigose, en dit het sy ondervindings ná die oorlog intenser en dreigender gemaak."Travis gave punks a hair of aggression." Toronto Star February 12, 2005: H02

In Scorsese on Scorsese noem Scorsese die godsdienstige simboliek in die verhaal, en vergelyk hy Bickle met 'n heilige wat beide sy liggaam en gees van swakheid wil reinig. Bickle probeer aan die einde van die prent selfmoord pleeg as 'n huldeblyk aan die beginsel van die samoerai se "dood met eer".

Dustin Hoffman is die rol van Travis Bickle aangebied, maar het dit van die hand gewys omdat hy gedink het Scorsese is "gek". Al Pacino en Jeff Bridges is ook vir die rol oorweeg.

Verfilming thumb|180px|Shepherd in 1970. Scorsese het die prent met 'n begroting van $1,9 miljoen gemaak. Verskeie akteurs het kleiner salarisse aanvaar om die projek moontlik te maak. De Niro en Cybill Shepherd het elk $35 000 gekry en Scorsese $65 000. Altesaam $200 000 van die begroting is aan die akteurs betaal.

Taxi Driver is in 1975 geskiet tydens 'n hittegolf en 'n sanitasiestaking. Die prent het probleme van die Motion Picture Association of America (MPAA) gekry weens die geweld daarin. Scorsese het die kleure van die finale skietery dowwer gemaak, wat die prent 'n R-gradering kon laat kry. Om die atmosferiese tonele in Bickle se taxi te skiet het die klanktegnici in die bagasiebak geklim terwyl Scorsese en sy kinematograaf, Michael Chapman, op die agterste vloer sou sit om die beskikbare lig te gebruik om te skiet. Chapman het erken die verfilmingstyl is baie deur die Franse new wave-filmmaker Jean-Luc Godard en sy kinematograaf, Raoul Coutard, beïnvloed omdat die span nie die tyd of geld ghad het om "tradisionele dinge" te doen nie.

Toe Bickle besluit om senator Palantine te vermoor knip hy sy hare in 'n mohawkstyl. Dit is voorgestel deur die akteur Victor Magnotta, 'n vriend van Scorsese wat 'n klein rol as 'n veiligheidsagent gehad en in Viënam diens gedoen het. Hy het vir Scorsese vertel as jy iemand in Saigon met 'n mohawkhaarstyl gesien het, sou jy nie naby hom gekom het nie. Dit het gewoonlik beteken hulle sou 'n sekere veiligheidsdienssituasie binnegaan. Hulle was reg om te moor."

Die tonele is geskiet in Manhattan se West Side, in 'n tyd toe New York op die punt van bankrotskap was. Volgens die vervaardiger Michael Phillips was die hele West Side in 'n gehawende toestand. Daar was ry op ry onbewoonbaar verklaarde geboue en ons het dit gebruik om ons rolprentstelle te bou. Ons het nie geweet ons dokumenteer wat gelyk het soos die doodsnikke van New York nie."

Die finale skiettoneel is in 'n werklike woonstel geskiet en dit het drie maande geduur om dit voor te berei. Die produksiespan moes gate in die plafon maak om dit te kan skiet.

Musiek thumb|180px|Herrmann kort voor sy dood. Bernard Herrmann het voorheen gesorg vir die musiek van Brian de Palma se Obsession (1976), en De Palma het Herrmann aan Scorsese voorgestel. Herrmann se musiek vir Taxi Driver was sy laaste klankbaan voordat hy op 24 Desember 1975 dood is, 'n paar uur nadat hy die musiek vir die klankbaan klaar opgeneem het. Die fliek is aan hom opgedra.

Scorsese, wat Herrmann lank bewonder het, wou spesifiek hê hy moes die musiek behartig; Herrmann was sy "eerste en enigste keuse". Scorsese het gedink Herrmann se musiek was van groot belang vir die sukses van die prent: "Dit het deurentyd die sielkundige basis verskaf." Die album The Silver Tongued Devil and I deur Kris Kristofferson is in die prent gebruik, ná Alice Doesn't Live Here Anymore (1974), waarin Kristofferson 'n byrol vertolk het.

Omstredenheid Jodie Foster se rol Sommige resensente was bekommerd oor die 12-jarige Foster se teenwoordigheid tydens die finale skiettoneel. Foster het gesê sy was teenwoordig tydens die opstel van die toneel en die spesiale effekte; die hele proses is stap vir stap aan haar verduidelik en gedemonstreer. Volgens haar was sy gefassineer deur die voorbereidings agter die skerms. Voordat sy die rol gekry het, het Foster ook 'n sielkundige toets afgelê om te verseker haar rol sou haar nie sielkundige skade berokken nie.