The Queen's Gambit is 'n Amerikaanse grootworddrama-minireeks vir televisie van 2020 wat geskoei is op die roman met dieselfde naam van 1983 deur Walter Tevis. Die titel verwys na die koningingambiet, 'n opening in skaak. Die reeks is geskryf en geregisseer deur Scott Frank; hy het dit geskep saam met Allan Scott, wat die regte op die boek besit. Dit begin in die middel 1950's en duur tot in die 1960's.
Die storie gaan oor Beth Harmon, 'n fiktiewe Amerikaanse skaakwonderkind wat die leer na die bopunt van die skaakwêreld klim terwyl sy sukkel met 'n afhanklikheid van alkohol en dwelms.
Netflix het The Queen's Gambit op 23 Oktober 2020 uitgereik. Ná vier weke het dit Netflix se mees gekykte minireeks en die stromingsdiens se topprogram in 63 lande geword.
Die minireeks het goeie resensies gekry, veral vir Taylor-Joy se toneelspel, die kinematografie en die produksiewaardes. Dit het ook lof van die skaakgemeenskap gekry vir die dikwels akkurate uitbeelding van ingewikkelde skaakskuiwe, en data dui daarop dat dit die publiek se belangstelling in die spel vergroot het.
Die minireeks het 11 Emmys gewen en was die eerste program op 'n stromingsdiens wat die kategorie vir 'n uitmuntende beperkte of antologiereeks gewen het.
Dit het ook twee Golden Globes gewen: vir beste minireeks of televisieprent en vir beste aktrise in 'n minireeks of televisieprent vir Taylor-Joy. Sy het ook 'n Screen Actors Guild Award gewen.
Storielyn
The Queen's Gambit gaan oor 'n weeskind en skaakwonderkind, Beth Harmon, tydens haar strewe om 'n topskaakpseler te word terwyl sy sukkel met emosionele probleme en alkohol- en dwelmmisbruik. Die titel van die minireeks verwys na die skaakopening die koningingambiet (the queen's gambit). Die verhaal speel in die 1950's en '60's af.
Die negejarige Beth verloor in die 1950's haar ma in 'n motorongeluk in Lexington, Kentucky. Sy word na 'n kinderhuis geneem, waar die skool se opsigter, mnr. Shaibel, haar leer skaak speel. Soos destyds die gebruik was, deel die kinderhuis elke dag kalmeerpille aan die kinders uit om "hulle gemoedstoestand te balanseer", en Beth word daaraan verslaaf. Sy word gou 'n goeie skaakspeler danksy haar visualisasievermoëns. 'n Paar jaar later word Beth deur die kinderlose Alma en Allston Wheatley aangeneem.
Terwyl sy by haar nuwe huis aanpas, skryf Beth vir 'n skaaktoernooi in en wen, al het sy geen ondervinding in mededingende skaak nie. Alma help haar om vir ander skaaktoernooie in te skryf. Beth raak met verskeie skaakspelers bevriend.
Terwyl Beth die leer van sukses in die skaakwêreld klim, begin sy die finansiële voordele daarvan geniet, en haar alkohol- en dwelmprobleem vererger. Met die hulp van haar beste vriendin, Jolene, wat saam met haar in die kinderhuis grootgeword het, berei sy voor vir 'n groot internasionale skaaktoernooi teen die wêreld se beste spelers in Moskou.
Hoofakteurs
Anya Taylor-Joy as Beth Harmon Isla Johnston as die negejarige Beth Annabeth Kelly as die vyfjarige Beth Bill Camp as William Shaibel, die kinderhuis se opsigter Moses Ingram as Jolene, 'n opstandige tiener, wat Beth se beste vriendin in die kinderhuis word Chloe Pirrie as Alice Harmon, Beth se oorlede ma Marielle Heller as Alma Wheatley, Beth se aanneemma Harry Melling as Harry Beltik, Kentucky se staatskampioen, vir wie Beth in haar eerste toernooi verslaan Jacob Fortune-Lloyd as D.L. Townes, 'n skaakspeler en joernalis met wie Beth bevriend raak Marcin Dorociński as Wasili Borgof, die Sowjetunie se wêreldkampioen en Beth se grootste uitdaging
Ontvangs Op Rotten Tomatoes het The Queen's Gambit 'n goedkeuringsyfer van 96%, gebaseer op 104 resensies, met 'n gemiddelde punt van 8/10. Die webtuiste beskryf die reeks as 'n "absolute wenner". Op Metacritic het dit 'n punt van 79 uit 100 gekry, gebaseer op 28 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" ontvangs.
In 'n rubriek waarin sy sê "baie lewens sou anders gewees het as ons The Queen's Gambit 50 jaar gelede gehad het", skryf die kultuurresensent Mary McNamara: "Ek was so mal oor The Queen's Gambit dat ek die laaste episode drie keer gekyk het." Darren Franich van Entertainment Weekly gee die reeks 'n B en beskryf die hoofaktrise so: "Taylor-Joy blink uit in die stil oomblikke, met haar oë wat nouer word terwyl sy haar teenstander opsom en haar hele liggaam wat woedende deperaatheid uitstraal wanneer die noodlot teen haar draai." Variety se Caroline Framke sê: "The Queen's Gambit kry dit reg om die spel en spelers te verpersoonlik danksy slim storievertelling en die hoofaktrise, Anya Taylor-Joy, is so magneties dat wanneer sy in die kameralens staar, haar harde kyk dreig om daardeur te sny."
Resensente bespreek ook dikwels die reeks se prominente tema van middelmisbruik. Matt Miller van Esquire sê dit is 'n "taamlik skrikwekkende uitbeelding van die stres van mededingende skaak in die 1960's." Bethonie Butler van The Washington Post prys die reeks, maar kritiseer die uitbeelding van Jolene, die enigste swart karakter, en sê "[haar] agtergrond en karakterontwikkeling is so beperk dat dit lyk of sy net bestaan om Beth se lewe makliker te maak".
Reaksie van die skaakgemeenskap Die minireeks het lof van die skaakgemeenskap gekry vir sy realistiese uitbeelding van die spel en spelers. In 'n onderhoud met die tydskrif Vanity Fair het die vrouegrootmeester, Jennifer Shahade, gesê die reeks beeld skaak "heeltemal reg" uit. In 'n artikel in The Times het die Britse skaakkampioen David Howell gesê die skaaktonele is "goed gechoreografeer en realisties", terwyl die Britse vroueskaakkampioen, Jovanka Houska, gesê het: "Ek dink dit is 'n fantastiese televisiereeks ... dit dra die emosie van skaak baie goed oor." Volgens Houska kon sy aansluiting vind by Beth as een van net 'n paar vroue in 'n toernooi. Sy het gesê seksisme was erger op "stokperdjievlak", veral vir jong meisies
Judit Polgár, die eerste vrou wat vir 'n wêreldtitel gespeel het, sê die manlike skaakspelers in die reeks word as "te gaaf" uitgebeeld, terwyl die skaakstromer Andrea Botez ook gevoel het die reeks "versag" die seksisme in die skaakwêreld. Die heersende wêreldkampioen, Magnus Carlsen, gee die reeks 5 uit 6 sterre, maar voel die spoed waarmee Beth haar vermoëns ontwikkel het, is 'n "bietjie onrealisties".
Hofsaak In die laaste episode van die minireeks word genoem die wêreldvrouekampioen, Nona Gaprindasjwili, "het nooit teen mans te staan gekom nie", terwyl Gaprindasjwili in die werklike lewe teen baie mans gespeel het, onder andere teen topgrootmeesters. Sy het gesê dit is 'n skande dat waninligting oor iemand se suksesse versprei word.
Sy het Netflix in September 2021 vir $5 miljoen gedagvaar vir karakterskending en geëis dat die betrokke sin uitgesny word. Die saak is in September 2022 geskik volgens onbekende terme.
Belangstelling in skaak In November 2020 het The Washington Post berig die Covid-19-pandemie het reeds die publiek se belangstelling in skaak laat toeneem, "maar die gewildheid van The Queen's Gambit het dit laat ontplof". The New York Times het die belangstelling in skaak vergelyk met die "soortgelyke skaakmanie" nadat Bobby Fischer in 1972 vir Boris Spasski geklop en die wêreldkampioen geword het. Volgens The Guardian is die grootmeester Maurice Ashley oorval deur boodskappe van mense – hoofsaaklik vroue – wat deur die reeks geesdriftig gemaak is: "Die waansin daaromheen is mal".
Die Amerikaanse maatskappy Goliath Games het gesê hulle verkope van skaakstelle het met 1 000% toegeneem danksy die reeks, terwyl skaakboekverkope volgens die bemarkingsfirma NPD Group met 600% toegeneem het. Chess.com het berig 'n paar miljoen nuwe gebruikers het sedert die uitreiking van die reeks by hulle aangesluit, onder andere meer vroue as voor die reeks.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse televisiereekse