Winston Wiremu Reid (gebore 3 Julie 1988) is ’n Deens-Nieu-Seelandse voormalige sokkerspeler wat as ’n verdediger gespeel het.

Winston Reid het op 17-jarige ouderdom ’n jeugkontrak met die Deense klub SUB Sønderborg onderteken, voordat hy voortgegaan het om jeugsokker vir die Superliga-klub FC Midtjylland te speel. Hy was een van die eerste spelers wat aan FC Midtjylland se sokkerakademie gegradueer het. Hy het saam met onder andere spanmaats Jesper Weinkouff, Christian Sivebæk en Simon Kjær deur die akademie gekom. Terwyl Winston Reid deur die sokkerakademie gegaan het, het hy die klub se onder-19-span gehelp om hul eerste Deense o/19-kampioenskap in 2005 te wen. Daardie selfde jaar het hy sy debuut in die Deense eersteliga gemaak – op daardie tydstip was Reid net 17 jaar oud. Hy het altesaam 99 keer vir FC Midtjylland uitgedraf en het 4 doele vir die klub aangeteken.

In 2010 het hy oorgeskakel na West Ham United in die Engelse Premierliga. Hy het ook vir die MLS-klub Sporting Kansas City en die Londense klub Brentford gespeel.

Reid is in Auckland, Nieu-Seeland, gebore, en albei sy ouers het Māori-afkoms. Hy het op tienjarige ouderdom saam met sy ma en Deense stiefpa van Nieu-Seeland na Denemarke verhuis en het in 2006 Deense burgerskap verkry.

Hy het sy debuut vir die Deense nasionale o/19-span in Februarie 2007 gemaak, maar nadat hy Denemarke in 15 jeuginternasionale wedstryde verteenwoordig het, het Reid in Maart 2010 besluit om sy geboorteland, Nieu-Seeland, te verteenwoordig. Daarna is hy opgeneem in die span vir die Wêreldbekertoernooi in 2010 in Suid-Afrika. Hy het die volle wedstryd gespeel in die span se eerste optrede op 15 Junie 2010, en het ’n groot invloed gehad toe Nieu-Seeland hul heel eerste punt ooit in ’n Wêreldbeker-eindronde verwerf het teen Slowakye – hy het die 1-1 doel met ’n kopskoot in oortyd aangeteken.

Verwysings

Kategorie:Deense sokkerspelers Kategorie:Nieu-Seelandse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1988 Kategorie:Lewende mense