3I/ATLAS, ook bekend as C/2025 N1 (ATLAS) en voorheen as A11pl3Z, is 'n interstellêre komeet wat op 1 Julie 2025 in Chili ontdek is terwyl dit na die Son op pad was. Toe was dit 4,5 AE (670 miljoen km) van die Son af en het dit teen 61 km/s beweeg. Dit volg 'n hiperboliese baan om die Son met 'n eksentrisiteit van 6,11. Dit is die derde interstellêre voorwerp wat deur die Sonnestelsel beweeg, ná 1I/ʻOumuamua en 2I/Borisov.

Die grootte van 3I/ATLAS se kern is onseker omdat dit 'n aktiewe komeet is wat deur weerkaatsende stof omring word. Ramings van die deursnee van die kern wissel van 0,8 tot 24 km, hoewel 'n kleiner kern waarskynliker is.

3I/ATLAS sal sy perihelium op 29 Oktober 2025 bereik, op 'n afstand van sowat 1,35 AE van die Son af (effens verder as die afstand tussen die Son en Aarde).

Geskiedenis Ontdekking thumb|220px|links|Ontdekkingsfoto's van 3I/ATLAS op 1 Julie 2025 van die Asteroid Terrestrial-impact Last Alert System (ATLAS). thumb|220px|links|Komeet 3I/ATLAS, voorheen bekend as A11pl3Z, soos op 2 Julie 2025 van Chili af geneem.

3I/ATLAS is op 1 Julie 2025 ontdek deur die Asteroid Terrestrial-impact Last Alert System (ATLAS), 'n opnameteleskoop in Chili wat deur Nasa befonds word. Met ’n skynbare magnitude van 18 het die nuut ontdekte voorwerp die binneste Sonnestelsel binnegekom teen ’n snelheid van 61 km/s met betrekking tot die Son, op ’n afstand van 3,52 AE van die Aarde af en 4,53 AE van die Son af.

Dit het met die grens van die sterrebeelde Slang en Boogskutter langs beweeg, naby die vlak van die Melkweg. Dit het die tydelike naam "A11pl3Z" gekry en die ontdekkingwaarnemings is ingedien by die Internasionale Sterrekundige Vereniging se Kleinplaneetsentrum (KPS).

Hierdie waarnemings het aanvanklik daarop gedui dat die voorwerp moontlik in ’n hoogs eksentrieke baan is wat naby die Aarde se wentelbaan sou kon kom, wat die KPS genoop het om dit op die lys van nabyaardevoorwerpe te plaas.

Opvolgwaarnemings van ander sterrewagte, wat beide professionele en amateursterrekundiges ingesluit het, het begin wys dat die voorwerp se baan nie naby die Aarde sou kom nie, maar in plaas daarvan interstellêr kon wees met ’n hiperboliese baan.

Voorontdekkingswaarnemings van 3I/ATLAS het sy interstellêre baan bevestig; dit sluit in waarnemings van 14-21 Junie 2025 en van 25-29 Junie 2025. Daar is vermoed dat die voorwerp nie vroeër ontdek is nie omdat dit voor die digte sterrevelde van die Melkweg se sentrum verbybeweeg het, waar dit moeilik waarneembaar sou wees.

Volgens aanvanklike waarnemings was dit onduidelik of die voorwerp ’n asteroïed of ’n komeet is. Verskeie sterrekundiges het geen komeetagtige kenmerke aan 3I/ATLAS waargeneem nie, maar waarnemings op 2 Julie 2025 deur verskeie teleskope het gewys dit het 'n klein koma en kort komeetstert van 3 boogsekondes in hoeklengte, wat aangedui het dit is ’n komeet. Op 2 Julie 2025 het die KPS die ontdekking van 3I/ATLAS aangekondig en dit die aanwysing "3I" gegee, wat beteken dit is die derde bevestigde interstellêre voorwerp in die Sonnestelsel. Dit het ook die naam van 'n nieperiodieke komeet, C/2025 N1 (ATLAS), gekry. Teen die tyd dat die ontdekking amptelik aangekondig is, het die KPS reeds 122 waarnemings van die komeet van 31 verskillende sterrewagte ingesamel.

Verdere waarnemings Waarnemings deur David Jewitt en Jane Luu op 2 Julie 2025 met die Nordiese Optiese Teleskoop het bevestig dat 3I/ATLAS beslis aktief is en 'n dynserige stert het. Miguel R. Alarcón en 'n span van die Instituto de Astrofísica de Canarias se tweelingteleskope van twee meter by die Teide-sterrewag het die komeet se aktiwiteit op dieselfde dag waargeneem; dit het 'n stert van minstens 25 000 km lank gehad. Die Faulkes-teleskoop-Noord in Hawaii het 3I/ATLAS se helderheid gemeet en dit het gewys die koma het 'n rooierige kleur, wat op stof dui, nes dié van die vorige interstellêre komeet, 2I/Borisov.

Onmiddellike navorsing deur verskeie teleskope kon nie die rotasieperiode vasstel nie en het gevind daar is min variasie in 3I/ATLAS se helderheid. Dit kan wees vanweë die koma se stof wat die roterende kern verberg.

Komeet se baan thumb|240px|Die hiperboliese baan van 3I/ATLAS (wit) deur die Sonnestelsel, met die posisie van die planete aangedui, soos op 3 Julie 2025.

3I/ATLAS volg 'n hiperboliese baan om die Son, met 'n hoë eksentrisiteit van sowat 6,13. Dit is die hoogste eksentrisiteit van die drie interstellêre voorwerpe tot dusver in die Sonnestelsel, veel groter as dié van 1I/ʻOumuamua (1,2) en 2I/Borisov (3,4). 3I/ATLAS sal sy perihelium, of naaste afstand van die Son af, op 29 Oktober 2025 bereik, op 'n afstand van sowat 1,356 AE (202,85 miljoen km). Dit sal dan teen sy hoogste snelheid van 68 km/s beweeg met betrekking tot die Son. Die komeet se baanhelling is 175° (retrograad en met 5° oorgehel) met betrekking tot die sonnebaan en lyk of dit uit die Melkweg se dun skyf kom.

Terwyl 3I/ATLAS nader aan sy perihelium kom, sal dit op 3 Oktober op 'n afstand van sowat 0,193 AE verby Mars beweeg. Ná sy perihelium sal dit op 19 Desember 2025 op 'n afstand van 1,80 AE verby die Aarde beweeg. Op 16 Maart 2026 sal dit 0,36 AE van Jupiter af verbybeweeg. Wanneer die komeet naby Mars kom, kan dit 'n skynbare magnitude van 11 van dié planeet af bereik, en Mars-wenteltuie sal dit dalk kan waarneem.

Met sy perihelium sal dit nie van die Aarde af sigbaar wees nie omdat die planeet en die komeet dan aan verskillende kante van die Son sal wees. 3I/ATLAS sal vroeg in Desember 2025 weer van die Aarde gesien kan word.

Verwysings

Skakels Komeet 3I/ATLAS: Veel voorkomende vrae by Nasa Interaktiewe baananimasie deur David Rankin, Catalina-lugopname Sterkaart deur Gianluca Masi, Virtuele Teleskoopprojek

Kategorie:Komete Kategorie:Interstellêre voorwerpe