Die Sweedse Rugbyunie (Sweeds: Svenska Rugbyförbundet, afgekort “SRF”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Swede beheer. Die beheerliggaam is in 1932 onder die naam Stockholms Rugbyförbund gestig en in Gotenburg gesetel. Sedert 1988 verteenwoordig dit Swede by Wêreldrugby en sedert 1958 ook by Rugby Europa (“RE”).
Geskiedenis Die SRF is in 1932 as die Stockholms Rugbyförbund gestig en het in 1988 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangesluit. Daarbenewens het die Sweedse beheerliggaam in 1958 by die kontinentale beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa) aangesluit.
Taak Die Sweedse Rugbyunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Swede se nasionale seniormansrugbyspan, vroue en jeug. Die SRF hou ook toesig oor sewesrugby in Swede en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Sweedse Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die Sweedse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Swede. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Swede oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.
Verwysings
Eksterne skakels Amptelike webwerf van die Sweedse Rugbyunie
Kategorie:Rugby in Swede Kategorie:Rugbybeheerliggaam Kategorie:Wêreldrugby