Gebre Meskel (Ge'ez: ገብረ መስቀል, gäbrä mäsqäl, "Dienaar van die Kruis"), ook bekend as Gabra Masqal, was in die 6de eeu koning van die Koninkryk Aksoem. Hy was die seun van Kaleb van Aksoem en die broer van Israel. Sy bewind word veral gekenmerk deur die komposisie van gesange deur die Ethiopiese heilige Jared.

Agtergrond Volgens een bron het Gebre Meskel tydens die bewind van sy vader 'n hoë administratiewe pos in die Sjewa-streek beklee.

Volgens die meeste Aksoemitiese koningslyste was Gebre Meskel sy vader se opvolger. Volgens sommige lyste het hy 14 jaar lank regeer. Carlo Conti Rossini haal 'n lys aan waarvolgens hy 40 jaar lank regeer het. 'n Paar lyste plaas Gebre Meskel ná sy brer Israel, wat agt maande lank koning was.

Geen muntstukke is nog ontdek met Gebre Meskel se naam op nie.

Die meeste koningslyste noem Kostantinos as Gebre Meskel se opvolger.

Bestyging van die troon Volgens verskeie bronne het 'n stryd om die troon begin ná die einde van die bewind van Kaleb, wat óf dood is óf geabdikeer het, na gelang van die lys. Een bron beweer Gebre Meskel was die regmatige erfgenaam van die troon omdat hy die oudste seun was, maar die troon is deur sy broer Beta Israel geroof. Nadat priesters Kaleb gevra het wie hy wil hê hom moet opvolg en hy gesê het Gebre Meskel, het Israel dood neergeval. Volgens 'n ander bron was Israel die regmatige opvolger en is dit sy broer wat die troon geroof het. Dit het tot 'n langdurige konflik gelei.

Hagiografiese bronne meen Gebre Meskel was Kaleb se enigste seun en ignoreer Israel heeltemal.

Bewind thumb|220px|Jared sing vir Gebre Meskel (skildery uit omstreeks 15de eeu).

Volgens Ethiopiese bronne was Gebre Meskel se bewind vreedsaam. Buite Ethiopië was gebeure egter minder vreedsaam. Suid-Arabië, wat deur Kaleb verower is, is waarskynlik tydens Gebre Meskel se bewind verloor en die Perse het die gebied omstreeks 575 geannekseer. Sommige kronieke beweer hy het in die sewende jaar van sy bewind na Jerusalem gereis en daarna 'n paleis in Samaria gebou.

Die Aksoemitiese komponis en heilige Jared het na bewering tydens Gebre Meskel se bewind liedere geskryf.

Volgens mondelinge tradisie het Gebre Meskel gesterf toe hy na die oostelike Tigrai-streek is om oorlog te voer.

Bouprojekte Volgens 'n teks getiteld Gedle Asfé het Gebre Meskel die Sint Maria-kerk in Jeha gebou. 'n Ander teks, Gedle Aregawi, lui die klooster van Debre Damo is tydens sy bewind gebou. Gebre Meskel kry ook die krediet dat hy 'n paleis gebou het langs die een van sy vader.

Sommige bronne beweer hy is in die Oromia-streek begrawe. Daar is egter ook 'n graf in die Tigrai-streek wat bekend is as die "Graf van Gabra Masqal", wat uit omstreeks 599 dateer.

Verwysings

Bronne

Skakels

Kategorie:Konings van Aksoem