Adolescence is 'n Britse sielkundige misdaaddrama wat deur Jack Thorne en Stephen Graham vir Netflix geskep en deur Philip Barantini geregisseer is. Dit gaan oor 'n 13-jarige skoolseun, Jamie Miller (Owen Cooper), wat in hegtenis geneem word nadat 'n meisie in sy skool vermoor is. Elk van die episodes is aaneenlopend geskiet.

Die reeks het op 13 Maart 2025 op Netflix begin wys en het groot lof ingepalm vir die regie, skryfwerk en kinematografie, met spesiale vermelding van die atmosfeer en toneelspel.

Op 9 April 2025 het die webtuiste Deadline berig Netflix en Plan B Entertainment voer samesprekings oor 'n tweede seisoen.

Hoofkarakters Stephen Graham as Eddie Miller Ashley Walters as speurinspekteur Luke Bascombe Faye Marsay as speursersant Misha Frank Mark Stanley as Paul Barlow Christine Tremarco as Manda Miller Owen Cooper as Jamie Miller Amélie Pease as Lisa Miller Hannah Walters as mev. Bailey Jo Hartley as mev. Fenumore Fatima Bojang as Jade Kaine Davis as Ryan Kowalska Amari Bacchus as Adam Bascombe Erin Doherty as Briony Ariston Austin Haynes as Fredo

Storielyn

Die polisie voer 'n klopjag uit op 'n huis op 'n Engelse dorp en neem Jamie Miller, 'n 13-jarige skoolseun, in hegtenis vir die moord op sy klasmaat, Katie Leonard. Jamie word vir ondervraging by 'n polisiekantoor aangehou en daarna na 'n sekuriteitsentrum gestuur. 'n Ondersoek by Jamie se skool en onderhoude met 'n forensiese sielkundige ontbloot Jamie se sienings jeens vroue, wat verbind word met die manosfeer en die boeliery wat hy op sosiale media verduur het. Tuis probeer Jamie se gesin die gemeenskap se veroordeling verwerk, asook Jamie se inhegtenisneming en aanhouding.

Ontvangs Adolescence het groot lof van resensente ontvang. Rotten Tomatoes skryf dit "is 'n meestersklas in televisuele storievertelling en 'n skroeiende kykondervinding wat wonde laat." Metacritic gee dit 'n punt van 91 uit 100, gebaseer op 27 resensies, wat dui op "algehele byval". In The Guardian skryf Lucy Mangan Adolescence was "die naaste ding aan TV-perfeksie in dekades", en sy sonder die toneelspel van Cooper en Doherty uit. Nandini Balial van RogerEbert.com het ook Cooper se toneelspel geprys. Anita Singh van The Daily Telegraph dink die reeks is "stilweg verwoestend" en die toneelspel "fenomenaal".

Politieke impak Volgens The Guardian lig die reeks die maniere uit waarop die manosfeer tienerseuns soos Jamie beïnvloed. Die politikus Anneliese Midgley het 'n beroep gedoen dat dit aan die Britse parlement en in skole vertoon word, en het gesê dit kan help teen vrouehaat en geweld teen vroue en meisies. Die Britse premier, Keir Starmer, het dit gerugsteun. Die reeks is daarna gratis in hoërskole vertoon.

In Maart 2025 het die sakeman Elon Musk, 'n raadgewer in die Trump-administrasie, 'n samesweringsteorie op Twitter bevorder waarvolgens die reeks "anti-wit-propaganda" is omdat 'n wit akteur die rol van Jamie vertolk. Die teorie beweer die reeks is geskoei op die Southport-messteekvoorval van 2024, en om die oortreder as wit uit te beeld was 'n doelbewuste keuse om wit mense te demoniseer. Die medeskrywer Jack Thorne het gesê die bewering is "belaglik" en dat die reeks nie op enige werklike voorval geskoei is nie.

Episodes

Verwysings

Skakels

Kategorie:Britse televisiereekse