Die Kogelbeengrotte in die Noord-Kaap is bekend om die kolonie vlermuise wat dit huisves.

Ligging Die grotte is by nagenoeg 28° 39′ suid en 23° 21′ oos en op 1397 m bo seespieël. Dit is op die plaas Kogelbeen op die Ghaapse plato, aan die suidoostekant van die Asbesberg, noordoos van Griekwastad en noordwes van Campbell.

Grotte Hierdie grottestelsel in dolomiet is met sy 788 m in lengte die langste grot in die Noord-Kaap. Die groot afmeting en veral sy vorm maak dit uniek. In die spelonke is rotskuns en klipwerktuie as getuienis van vroeëre bewoning. Ook is dit een van die weinige redelik ongeskonde grotte in die land. Daarom is die grotte nie vry toeganklik vir die publiek.

Vlermuise In die grotte leef ‘n kolonie van ‘n 60000 vlermuise wat verskeie spesies verteenwoordig. Dit is een van die grootste habitats van vlermuise in die land. Twee spesies word as kwesbaar beskou, naamlik Myotis tricolor en Rhinolophus darlingi.

Terrein Die grot en ‘n klein gebied daar rondom is tot erfenisgebied verklaar. Daar groei swarthaak, kanferbos, kameeldoring en soetdoring.

Lees ook Wonderwerkgrot

Bibliografie journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA00679208_1439

Kategorie:Noord-Kaap Kategorie:Grotte van Suid-Afrika Kategorie:Argeologiese vindplekke in Suid-Afrika