Maid is 'n Amerikaanse beperkte dramareeks vir televisie wat deur Molly Smith Metzler vir Netflix geskep is. Dit is geïnspireer deur Stephanie Land se memoir Maid: Hard Work, Low Pay, and a Mother's Will to Survive. Die reeks gaan oor 'n jong ma wat uit 'n mishandelende verhouding ontsnap en sukkel om vir haar dogter te sorg deur huise skoon te maak. Dit het op 1 Oktober 2021 op Netflix begin wys.
Maid was Netflix se program wat dié jaar die vierde meeste gekyk is. Dit is vir drie Emmys benoem, insluitende een vir Margaret Qualley se spel, en drie Golden Globes. Qualley is ook vir twee ander pryse benoem.
Daarbenewens het die American Film Institute dit as een van die beste 10 televisieprogramme van 2021 aangewys.
Hoofakteurs
Margaret Qualley as Alexandra "Alex" Russell, 'n jong ma wat vir haar tweejarige dogter, Maddy, probeer sorg deur 'n werk as 'n huiswerker te aanvaar. Nick Robinson as Sean Boyd, Alex se emosioneel mishandelende eks en die pa van haar dogter. Anika Noni Rose as Regina, 'n ryk kliënt van Alex. Tracy Vilar as Yolanda, Alex se baas by Value Maids. Billy Burke as Hank, Alex se vervreemde pa. Andie MacDowell as Paula Langley, Alex se narsistiese ma wat erg bipolêr is. BJ Harrison as Denise, die vrou wat die skuiling vir mishandelde vroue, waar Alex gaan woon, bestuur. Rylea Nevaeh Whittet as Maddy Boyd, Alex en Sean se dogter, wat later in die reeks drie word.
Storielyn
Alex verlaat haar mishandelende kêrel, trek in 'n skuiling vir mishandelde vroue in en kry 'n werk as huiswerker by Value Maids. Die reeks gaan oor Alex se stryd om vir haar jong kind te sorg, 'n mishandelende oudkêrel en haar disfunksionele familie te hanteer en deur die rompslomp van regeringshulp te worstel terwyl sy huise skoonmaak en droom van 'n toekoms as skrywer. Die verhaal speel naby Seattle af, en Alex neem gereeld 'n veerboot na die fiktiewe Fisher Island.
Ontvangs Volgens Netflix is Maid deur 'n geraamde 67 miljoen huishoudings gekyk en was dit die vierde mees gekykte program in 2021. In die week van 4 tot 10 Oktober het die reeks se kykertal verdubbel van die vorige week af en was dit in die tweede plek, naas Squid Game. Eintlik het Maid in sy debuutweek net twee dae ná sy uitreiking die nommertweeposisie onder Engelse programme beklee, met 61,08 miljoen kykure.
Op Rotten Tomatoes het die reeks 'n goedkeuringsyfer van 94% gekry, gebaseer op 49 resensies, met 'n gemiddelde punt van 8,2/10. Volgens die konsensus "het Maid sy sensitiewe onderwerp goed hanteer om 'n drama te skep wat nie altyd maklik is om te kyk nie, maar onteenseglik kragtig is danksy die uitstekende spel van Margaret Qualley". Op Metacritic het dit 'n punt van 82 uit 100 gekry, gebaseer op 19 resensies, wat dui op algemene lof.
Kristen Lopez van IndieWire het die reeks 'n A gegee en gesê: "Ons het meer sulke stories nodig, en Maid verdien al die lof wat dit kry." In Rolling Stone het Alan Sepinwall dit vier uit vyf sterre gegee en gesê: "Dele daarvan is met opset moeilik om deur te sit, en tog is die reeks verbasend kykbaar as 'n mens die aard van die storie in ag neem. Dit is soms selfs lig en bekorend. Baie daarvan is te danke aan Qualley, wat spel op 'n filmstervlak lewer." Volgens Kelly Lawler van USA Today "bied die drama 'n uitstekende uitbeedling van armoede, soos gesien deur die oë van Alex, wat 'n reeks onregverdige gebeure trotseer wanneer sy haarself en haar dogter probeer beskerm."
Die geweldsnavorser Margunn Bjørnholt het geskryf die reeks het lof ontvang vir "die manier waarop dit geweld uitbeeld en vir die genuanseerde prentjie van 'n gewelddadige kêrel."
Die American Film Institute het die reeks as een van die beste 10 programme van 2021 aangewys.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse televisiereekse